’n Port-probleempie ná ete

Uncategorized 3 Comments »

’n Port-probleempie ná ete

 

As student het ek Muratie se proelokaal – ’n legendariese Stellenbosse wyn-bestemming – oor naweke en vakansies beman. My “kwota-kelkie” van die dag was meeste van die tyd ’n glasie Cape Ruby. Hierdie het koninklik gesmaak saam met tannie Annatjie Melck (die plaas se matriarg) se rum ‘n raisin roomys, wat ek agter uit die proelokaal se yskas gegaps het – maar dit was by die Calitzdorp Portfees wat ek die fyner kunsies en rol van port beter leer ken het en finaal in ’n port patriot verander is.dsc04932

Kaapse Wynmeester woelwater, Junel Vermeulen, was my partner in crime in Calitzdorp en het onder andere ’n paar kos en port-sessies, as De Krans se agent in Gauteng, aangebied.

Junel is uit daarop om port uit sy tradisionele oumense-se-nightcap-na-ete boksie te haal en sy veeldoeligheid op die voorgrond te plaas. En as ek dink aan hoe die Valies oor die kersseisoen bokse van die einste Muratie Ruby (“het julle nie dalk ’n soetetjie nie?”) weggedra het, is sy op die regte plek om port te verkoop!

Sy meen dat dit veral die restaurantbedryf is wat hul storie moet regkry om portverbruik op te stoot. “As mense ’n glas port by ’n restaurant bestel en dit geniet, sal hulle die naam onthou en later ’n bottel koop, maar wanneer laas het ’n kelner vir jou ’n glas port by ’n restaurant aangebied?” het sy by die Portdans bo die gedoef van die sokkie-treffers gevra.

Ek het hierdie sedertdien opgevolg, deur ná ek herstel het van my Fees-fortifikasie, altyd ’n glas port by restaurante te bestel. Hoewel ek nou en dan verras is met ’n keuse van ’n ruby, vintage of tawny – is die verskeidenheid gewoonlik maar yl.

Dit is dié dat ek ná ’n ete saam met Britse wynagente by ’n gesiene restaurant op Franschhoek (Suid-Afrika se ‘Kulinêre Hoofstad’), aangenaam verras was om van die room van Calitzdorp (Suid-Afrika se Port Hoofstad) – ’n Boplaas Vintage Reserve – teen ’n billike prys van R40 per glas op die lys te sien.

Die grasieuse langsteelglas het indrukwekkend tussen die tafels op die kelner se skinkbord uitgetoring en selfs ’n kop of wat laat draai op pad na my tafel. Ek kon nie wag om vir die Britte (wat goed vertroud is met die ware Jakob vanuit Portugal) te wys wat ons manne van die Klein Karoo kan vermag nie, maar mens kon sommer dadelik aan die baksteenrooi rand van die wyn sien dat hierdie nie was wat ek verwag (of bestel) het nie.

Nadat ek bevestig het dat die wyn heeltemal geoksideer was, het ek die kelner gevra of ek die wyn se etiket kan sien. Die bottel – met net ’n katspoegie bruin port wat in sy bodem rondplas – het nie so indrukwekkend op dieselfde skinkbord gelyk nie…

Dit was ’n bottel Boplaas Cape Ruby – ’n winskopie teen R38 per bottel (minder as my langsteelglas) by die proelokaal en ook ’n skitterende wyn, maar nie van dieselfde kaliber as sy oesjaar grootboet nie.

Die kelner het ook maar geuhm en ge-aah toe ek vra toe ek vra hoe lank die bottel al oop is en gerieflik haar skouers gelig en die man agter die kroegtoonbank gaan gevra. “Maybe two or three weeks,” was die antwoord.

Eerstens, moet mens appels met appels vergelyk: ‘n ruby is nie ’n oesjaarport nie. Tweedens, moet die oesjaar van ’n oesjaarport op die spyskaart verskyn – dit was nie die geval nie. Die Boplaas Cape Ruby was nie eers op die wynlys nie. Waar kom daardie bottel vandaan? En laastens, in teenstelling met wat die algemene indruk is, behoort ’n port nie vir drie weke nadat dit oopgemaak is, gehou te word nie. Tanige port (oftewel Tawny) het ’n lekker lang kroeg-rakleeftyd, maar veral ruby porte het nie.

Die kelner het nie eers geweet dat daar ’n verskil is tussen die style nie – en dít by ’n spogrestaurant! As my Britse gaste alleen daar was, sou hulle gedink het dit is hoe Suid-Afrika se top porte maar proe en daardie boodskap huis toe (die grootste portmark ter wêreld) neem. Die rippeleffek wat in ’n restaurant kan ontstaan (positief of negatief) moet nie onderskat word nie.

Die enigste manier om die portkennis en –verskeidenheid by ons restaurante te verbeter is om die goed te bestel. Word deel van die rippeleffek en bestel gerus volgende keer ’n “soetetjie”. 

*Hierdie blog is begin om interaktief en gesellig wynnuus oor te dra en konstruktiewe debat te bemoedig – nie om restaurante te krit nie. Alhoewel Boplaas en die betrokke restaurant van die probleem verwittig is, is die eetplek se naam doelbewus nie genoem nie.

Wacky Wine groter as ooit!

Uncategorized 3 Comments »

Reënwolke het gebluf om ’n demper op die land se suksesvolste Bacchus-basaar te plaas, maar soos wat die nuutaangestelde roetebestuurder, Elizma Spangenberg, vertel – was dit “omtrent net die bergfietsresies wat minder aftrek geniet het”.

Mens hoef net te kyk na die getalle om te sien presies hoe suksesvol Robertson se Wacky Wine Weekend is: daar het oor dié naweek 16 076 feesgangers deur die vallei se 48 deelnemende wynmakerye geproe, kuier en knibbel.

Met Bon Courage wat alleen 7 492 bottels van hul gewilde Blush vonkelwyn oor die naweek geswaai het, wil ek nie eers weet hoeveel geld die fees in totaal vir die vallei ingebring het nie.

Navorsing deur wynbedryf-kenner, dr Johan Bruwer, toon dat die vallei nou jonger besoekers, met die klem op die sogenaamde Generasie X-ouderdomsgroep (29 tot 44 jaar), lok. Hierdie groep geniet, volgens Bruwer, die feit dat wyn sy elitistiese beeld verloor. Hoewel hierdie navorsing buite Robertson se feesseisoen gedoen is, geld dit nóg meer met die informele, gasvrye beeld wat die vallei uitstraal tydens die WWW.

’n Minder elitistiese beeld kan ook die rede wees hoekom heelwat feesgangers bereid was om tot amper duskant buurplaas, Viljoensdrift, te parkeer vir die Blush-party wat heel naweek by Bon Courage laat waai het. Hoewel stampvol tente, Afrikaanse treffers en boereworsrolle nie in almal se smaak val nie, het trollievragte pienk bottels gewys dat dié kelder ’n wenresep beet het.

 ’n Tannie met ’n trollie vol Blush-bokse het selfs oppad na haar FS-registrasie Camry luidkeels oor haar selfoon verkondig: “hierdie pienk wyn is die lekkerste goed wat ek al geproe het – julle moet dadelik bestel!” Hou maar Bloem se Blush-verkope dop… 

 

’n Ander sleutel tot WWW se sukses is die verskeidenheid wat daardeur gebied word. Aangesien al die plase, asook 13 deelnemende besighede in die dorp, hul eie produkte, kos, aktiwiteite en algemene vibe bepaal – behoort daar iets te wees vir elke smaak.

Die meer ernstige wyndrinker kon gaan aansluit het by Danie de Wet se Chardonnay-proe in De Wetshof se kelder of Graham Beck se Masterclass-proe. Albei hierdie spogproeë is meer as ’n week voor die fees reeds volbespreek – ’n bewys dat WWW ook aanklank vind by die meer gesofistikeerde proeër. Diegene wat wil wegkom van die massas, kan ook ontsnap na McGregor en Ashton – wat ook saam feesvier, maar rustiger is as Robertson self.

Robertson se wacky hoogtepunt is vanjaar al ses jaar op die wynkalender en as getroue feesganger, het ek verlede jaar gewonder of die makietie nie, as gevolg van ekonomiese druk, sy piek bereik het nie. Vanjaar se fees het my egter verkeerd bewys en as mens kyk na Bruwer se studie, blyk dit asof dié fees net van krag tot krag behoort te gaan.

Verskeie ander streke en roetes het intussen ook wynfeeste, grootliks geskoei op die WWW-model, geloods – maar nooit naastenby die voete (of rande) van Robertson se voorbeeld gelok nie. Of dít toegeskryf kan word aan Robertson se ligging, wyne of boereworsrolle, weet ek nie – maar dat Wacky Wine Weekend een van die wynbedryf suksesstories van die dekade is, is vanselfsprekend – selfs in Bloemfontein.

'n Jonger mark - feesgangers by Graham Beck

'n Jonger mark - feesgangers by Graham Beck

Welkom by WWW

Uncategorized 7 Comments »

Wat daardeur bemark word weet ek nie, maar die simboliek van die Franse advertensie waarin ’n gemiddelde wynkoper op die internet ’n wyn bestel en dan vir hom ’n glasvol met ’n kraantjie uit sy rekenaar skink, het by my ’n blywende indruk gemaak.

Die rol wat die internet speel in die wynwêreld het van ontskatbare waarde geword – en hierdie is veral van toepassing op dié wat daaroor skryf. Op die internet word druk- en ontwerptyd uitgeskakel en kan nuus vinniger oorgedra word. Diegene wat vertroud is met co.za se skinderhoekies soos grape en die berugte pinot pile (wat intussen sy digitale deure gesluit het) sal ook kan getuig dat dié tipe surfers dikwels meer bereid is om hulle nekke uit te steek as die tradisionele swart-op-wit joernaliste.

WynLand het sy jongste loot op die redaksiekordon – natuurlik Edo met sy wilde loofbedekking – gevra om sy kop op ’n blog te sit en sodoende sien WWW, oftewel WynLand Wingerd Waaibs nou die lig. Dié blog sal op ten minste ’n weeklikse basis bygewerk word om sy ervaring van die nuutste gistings in die wynbedryf ook digitaal oor te dra.

Ons word gereeld by feeste, proelokale, kelders en selfs in die wingerd herinner aan dinge wat deur wynmense deur die tydskrif geopper wil word, maar wanneer daar gevra word om ’n brief te skryf, droog die penne en entoesiasme skielik op.

Hierdie is die tipe ding waarvoor WWW die ideale platvorm skep.

Gaan groot én gaan huis toe

zenith-melotcabshiraz1Soos wat ek deur kleurvolle Langstraat in die hartjie van Kaapstad stap na The Grand Daddy, ’n ewe unieke hotel waar die reuse wynreeks Kumala se plaaslike uitreiking gevier word, weergalm die gesing en gegil van sokkermal kroeggangers wat die groot wedstryd tussen Manchester United en Barcelona in die tapplekke kyk.

As iemand wat nie regtig die rondebalspel volg nie – plettervatte en scrums is meer my taal – wonder ek so ewe by myself hoekom hierdie mense in die Moederstad so histeries is oor ’n Engelse en Spaanse span wat mekaar aanvat.

Kumala was tot nou toe ook so: iets groot in die buiteland, waarvan almal weet, maar omdat die kans skraal was dat my paaie daarmee sou kruis, het ek my nie veel daaraan gesteur nie. Maar dít beloof om gou te verander …

Ja, een van die grootste Suid-Afrikaanse handelsmerke word nou, nadat hulle reeds in die buiteland gevestig is, op eie bodem uitgereik. Kumala se Zenith-reeks is van hierdie week af op al wat winkelrak is.

As deel van die wynreus, Constellation, is Kumala al vir ’n geruime tyd Suid-Afrika se grootste wyn in die buiteland, sonder dat dit – behalwe vir ’n kort en onsuksesvolle poging tot ’n reserve reeks so vier jaar gelede – op eie bodem verkoop is.

Netso is Obikwa, ’n cheap and cheery reeks uit die Distell-stal, sowat twee maande gelede in Suid Afrika uitgereik, nadat dié handelsmerk al kombuistaal was vir Aussies en Kanadese – waar dit van die grootste Suid-Afrikaanse wyne in terme van volumes is.

Ironies genoeg was die voorblad opskrif van Die Burger op die dag van die uitreiking, “Nou bloei Suid-Afrika”. In reaksie op ’n vraag van ’n kordaat joernalis van die Sunday Times oor “hoekom hulle nuwe wyne uitreik ten spyte van resessie”, het Bruce Jack – wat aan die stuur is van die produksiekant by Kumala – geantwoord: “Watter resessie? Die Suid-Afrikaanse wynbedryf is nie in resessie nie – die nuutste Sawis-syfers toon dan ’n groei in uitvoere! Dit is wanneer mens terugsit en bang is om iets te doen wat ’n resessie in ’n depressie verander.”

Met ’n kwartmiljoen rand spandeer aan marknavorsing – een van die grootste studies van sy soort – het die groep ook behoorlik hul huiswerk gedoen voordat Kumala ‘teruggebring is na sy wortels’.

Die besige sportkalender wat vir Suid-Afrika voorlê, speel egter ook ’n groot rol. Constellation se nasionale bemarking en verkope bestuurder, Alison Pearce, vertel dat buitelanders wat gewoonlik Kumala drink, by die 2010 Wêreldbeker óók sal wil Kumala drink. Dié wyne is ook betyds uitgereik om te verseker dat dieselfde geld vir die Britse Leeus se SA-toer (nou praat jy my taal!) en die Confed Cup.

Deel van die bemarkingstrategie sluit drie-dimensionele TV-skerms op lughawens – ’n eerste vir Suid-Afrika – in. Volgens Alison gaan hierdie 3D-baanbrekers in die volgende maand 2.5 miljoen reisigers op Joburg en Kaapstad se lughawens ‘vang’, terwyl Kumala ook ’n sterk teenwoordigheid in aanboord publikasies het.

FirstCape – Kumala se grootste mededinger in die VK – borg die Leeus se toer en is ook nou plaaslik beskikbaar, terwyl daar sprake is van ’n Bafana Bafana-wyn uit ’n ander kontrei, wat binnekort die rakke gaan tref.

As deel van ’n sportmal nasie, het die wynbedryf nog altyd tydens sportgeleenthede die agterspeen gesuig terwyl die bier- en spiritusmanne (Eishhh) die voortou neem. Kom ons hoop die wiel het gedraai!

- 8 Junie ’09

Entries RSS Comments RSS Log in