Wedloop van die wynwyfies

Uncategorized 5 Comments »

wynchick

 Sedert die ontstaan van Landbouweekblad se Vroue Wynmaker van die Jaar-kompetisie, het die tonge geklap oor dié skoner-geslag-stryd en is die vraag of vroue wynmakers nie met die mans kan meeding nie, gereeld geopper.

Dié kompetisie word vanjaar vir die sesde keer aangebied – met inskrywings, belangstelling en blootstelling – hetsy positief of negatief – wat gedurende hierdie tydperk aansienlik geklim het.

Vorige wenners soos Simonsig se Debbie Thompson en Erika Obermeyer van Graham Beck – beide wynmakers wat benewens Landbouweekblad se titel voortdurend die pryse laat inrol – het ook veroorsaak dat hierdie wedloop-van-die-wyndivas nou seker meer geloofwaardig is as ooit tevore.

’n Handjievol vrouens (nogal) wat betrokke is in die bedryf, se gesprek oor die kompetisie by ’n ander wynaffêre, het my egter van vooraf weer laat wonder oor die meriete van ’n slegs-vroue wynkompetisie.

Die ou redenasie dat vrouens nie weens hul geslag anders as mans gemeet behoort te word – soos byvoorbeeld in atletiek – nie, het die ruggraat van die geklets gevorm.

In ’n kultuur waar gelykheid die norm eerder as die ideaal word, het van die wynwyfies dit selfs as ’n klap in die gesig gesien dat so ’n kompetisie bestaan. “Kan jy dink watse herrie sal losbreek as daar ’n swart wynmaker van die jaar-kompetisie is? Die organiseerders sal uitgejou word as ’n spul rassiste. Hoe verskil dit nou eintlik van ’n vroue wynmaker van die jaar-kompetisie?” was een se kommentaar.

Vanjaar se finaliste – wat onlangs bekendgemaak is – het hoeka ’n besonder polities korrekte samestelling getoon … Hierdie finaliste is Danelle van Rensburg (Van Loveren), Ntsiki Biyela (Stellekaya), Carmen Stevens (Amani), Corlea Fourie (Bosman Family Vineyards), Corrien Geleijnse (Swartland Cellar) en Nomonde Kubheka (KWV).

Ek het egter nie eintlik pyne met die feit dat die kompetisie net op vrouens gemik is nie – daar is immers ander soortgelyke internasionale voorbeelde soos die VSA se National Woman’s Wine Competition en die Women Winemakers Challenge – maar die prosedure waarvolgens wenners gekies word, is wel vir my ’n redelike kopkrapper.

Kom ons neem vanjaar se inskrywings as voorbeeld: Daar is 64 wyne deur 28 wynmakers ingeskryf. Uit hierdie wyne het die (slegs vroulike) beoordelaars ses wyne gekies – en hiermee het die wynmakers as finaliste gekwalifiseer. En hier begin die sports!

Die ses finaliste word dan (baie soortgelyk aan die finaliste by Mej Vleisfees in Calvinia) deur die beoordelaars gepeper met vrae. Hierdie vrae handel hoofsaaklik oor die wynbedryf en die rede wat hiervoor aangevoer word, is dat die wenner (weer eens amper soos Mej Vleisfees) ’n goeie verteenwoordiger vir die bedryf moet wees.

Die organiseerder van die kompetisie, Lorraine Immelman-Steyn, noem dat die groeiende aantal inskrywings ’n bewys is dat vrouens nou behoorlik ingemessel is in die bedryf – wat voorheen deur mans oorheers is.

Dis alles goed, wel en waar, maar waar is die verteenwoordigende vrouens dan in die Diners Club Wynmaker van die Jaar-kompetisie (waar daar 10 jaar laas ‘n vroue wenner was) of Kaapse Wynmakersgilde, wat nie ‘n vroulike lid het nie?

Waar vorige wenners bederf is met ’n toer na Frankryk, om van die wêreld se bekendste wyne daar te proe, stap vanjaar se wenner onder andere weg met ’n kontantprys en ’n pamperlangsessie by Lanzerac se spa – weer eens, baie soortgelyk aan Mej Vleisfees.

 

Op julle merke, gereed, proe!

Uncategorized 2 Comments »

As daar in wynkringe gepraat word van dié groot stryd in die matieswynland, dink die meerderheid waarskynlik aan die Veritas Toekennings of Jongwynskou. ‘n Ander groot stryd wat nou ‘n wyn-element gaan bykry, is die eeue-oue stryd tussen Maties en Ikeys.

Ja, dit is nie asof Intervarsity nog nooit met wyn gepaard gegaan het nie. Inteendeel: ek dink Beyers Truter – studente gunsteling, Beyerskloof, se Pinotage-koning en ywerige rugbyondersteuner – glimlag breed as die UCT-busse op die N1 aangetoer en -toeter kom …

Die beoogde Wyn Intervarsity gaan egter ‘n meer ernstige aanslag hê en sal volgens die organiseerders bestaan uit ‘n wynproe, vasvra-kompetisie en uiteindelik  ‘n debat – met groot name wat reeds genoem is as beoordelaars van die laasgenoemde.

As oud-Matie kan ek sekerlik nie objektief voorspel wie die oorhand gaan kry nie, maar logika sê vir my dat die universiteit wat die land se wynmakers oplei, mos met toe oë (ja, die proe gaan blind wees) die stryd sal wen!

‘n Senuweeagtige oud-UCT’er, Backsberg se Simon Back – wat een van die dryfkragte van die projek is – het my vermoede bevestig: “Kyk, dié mense is gewoond aan Stellenbosch toe gaan vir wyn en ‘n hengse partytjie, maar of hulle ‘n koel klimaat Sauvignon sal kan uitken, is ‘n heel ander saak!”

Beide UCT en Maties het aktiewe wynverenigings asook koshuis wynklubs waaruit die wynspanne gekies kan word

Die Wyn Intervarsity gaan nie saamval met die rugby skouspel – wat in Mei deur die Maties gewen is – nie, maar sal waarskynlik gedurende die derde akademiese kwartaal plaasvind.

Finale datums en verdere gistings oor die intervarsity sal binnekort op WWW bekendgemaak word.       

Pinot Noir se skelmpie

Uncategorized 2 Comments »

Tassenberg Kombuis

Tassenberg Kombuis

Wat het Tassenberg en Boekenhoutskloof se The Chocolate Block in gemeen? Wel, op die oog af nie veel nie… Tassies word geassosieer met Stellenbosch studente, styrofoam glase en Koos Kombuis toe hy nog “Johnny is nie dood nie” gesing het – voor die vrou en kinders in die prentjie gekom het … The Chocolate Block, aan die ander kant, het ‘n veel meer stylvolle beeld – ‘n Franschhoekse suksesstorie wat nie soos sjokolade proe nie en ook nie van een blok af kom nie, maar wyndrinkers regoor die wêreld bederf met weelderige elegansie.

En hier kom die antwoord: albei bevat ‘n beduidende hoeveelheid Cinsaut. Ja, as dít nie hierdie arm-mans Shiraz se veelsydigheid bewys nie, gaan ek maar oorslaan na harde hout. Gelukkig het die aanvraag na dié ou bosstokke begin optel voordat alles uitgepluk is om plek te maak vir nóg Sauvignon Blanc.

Die kultivar se geskiedkundige rol in Suid-Afrika moet ook nie uit die weg geruim word nie. As die minder gesiene ouer van Pinotage (saam met die edele Pinot Noir), het Cinsaut (ook genoem Cinsault en Hermitage) diep spore in die bedryf gestap.

Daar is nou ‘n handjie vol wynmakers wat die unieke rol wat Cinsaut in veral versnitte kan speel, ontdek en aangegryp het – veral met die groot aantal ou blok-diamante wat nog wag om ontdek te raak.

Marc Kent van Boekenhoutskloof noem dit die nuwe Chenin Blanc – wat ook eers onlangs weer ‘herontdek’ is – alhoewel jy nooit ‘n korrel Chenin in sy kelder sal vind nie … “Die feit dat ek dit in nuwe hout sit, bewys my vertroue in die kultivar – veral die Cinsaut van die Wellington-omgewing is fantasties,” vertel Marc.

Cinsaut produseer groot korrels en groot trosse – en baie daarvan. Dis juis om hierdie rede wat heelwat van die druifsoort vroeër jare in Suid-Afrika aangeplant is. Dit produseer egter dun wyne met swak kleur as die groot opbrengste nie in toom gehou word nie.

La Motte wynmaker Edmund Terblanche vertel dat hy in 2005 vir die eerste keer die produksie van ‘n gedeelte van ‘n Cinsaut-blok in die Paarl aangekoop het. “Dis wanneer die druiwe effens langer hang, wat mens regtig iets interessant daarmee kan doen,” vertel hy.

Edmund sien Cinsaut se rol veral as ‘n versagtende versnydingskomponent. “Deur net ‘n fraksie Cinsaut by ernstige versnitte te voeg, kan groot bulky wyne meer elegant en drinkbaar gemaak word.”

Hy het intussen ook met druiwe van Wellington en meer onlangs Elandsbaai gewerk en vertel dat Cinsaut met genoeg sonblootstelling ‘n karakter toon wat soortgelyk is aan dié van Sangiovese.

Planne om Cinsaut op La Motte aan te plant, spreek boekdele, terwyl Marc nie die enigste een is wat dié wyn in nuwe houtvate verouder nie: “As jy bereid is om te probeer, kan jy selfs jouself verras – ek sal so ver gaan om dit in nuwe Franse hout te sit,” sluit Edmund, wat dié druifsoort voorts as ‘n bousteen van La Motte se Pierneef Shriraz Grenache gaan gebruik, aan.

Suid-Afrika het oor die jare as ‘n swartskaap die wêreld aangenaam verras en daar is geen rede hoekom ons eie wynbedryf-swartskaap nie dieselfde kan doen nie. Soos wat Edmund sê: “Dis nou iets waarmee ons ‘n merk kan maak.”

   

 

     

 

 

 

Entries RSS Comments RSS Log in