Boomplantdag op Neethlingshof

Uncategorized No Comments »

Ek ry nou al vir ses jaar amper elke dag verby Neethlingshof. Die bordjie wat na die indrukwekkende laning dennebome wys, het in hierdie tyd baie keer die kragmeting teen my rubberarm oppad huis toe gewen – waarna ek gou “een of twee wyne gaan proe het”.

As ‘n laning wat uit ou bome bestaan, gate begin kry soos die windverwaaide reuse oor die jare wegkwyn, kan dit nie maklik vervang word nie. Dit was ook die geval by die laning wat lei na Neethlingshof se proelokaal, waar Sandra – die proelokaal se vriendelike matriarg – my gewoonlik ingewag het met ‘n glasie Cabernet Franc. ‘n Voordeel van hierdie proesessies was dat daar gewoonlik ‘n proebottel of wat beskikbaar was wat al mooi verouder het, terwyl die wynwinkel langs Sandra se gebied gereeld winskopies aangebied het. Ek onthou spesifiek magnum bottels 1989 Cabernet Sauvignon, wat teen minder as R100 verkoop het en my standaard sopie was totdat die rak leeggeloop het.

Toe ek onlangs weer die afdraai na Neethlingshof neem – die keer in ‘n werk-hoedanigheid vir die bekendstelling van hul nuwe wyne en etikette – het daar helder groen boompies in die ou reuse se gate gestaan. Ek het vroeg gegaan sodat ek vir Sandra kan groet en dalk oudergewoonte ‘n glasie Cabernet Franc wegsluk voor die amptelike verrigtinge afskop.

Die wynwinkel het my soos vroeër lank aan die rondsnuffel gehad, maar op die oog af het dit gelyk asof die dae wat Neethlingshof hul wyne vir my verouder, verby is. Enigiemand wat wyn bemark sal vir jou sê dat hierdie ‘n baie goeie teken is. Geen wynplaas wil sit op ou voorraad nie.

Dié landgoed het steeds ‘n beleid dat meeste van die rooiwyne eers 18 maande in die bottel lê, voordat dit op die mark uitgereik word. Maar anders as in die verlede is al die wyne wat nou verkoop word, gemaak deur wynmaker De Wet Viljoen.

Dié rustige reus sien heelwat simboliek in die nuwe denne  wat tussen die reuse staan. “Dit vat ‘n hele paar jaar vir daardie boompies om so groot te word soos hul gevestigde bure. Hierdie groen boompies is ‘n teken van die vertroue wat ons in die toekoms van hierdie landgoed het,” vertel hy.

Groen boompies is egter nie die enigste teken van vernuwing op Neethlingshof nie. Inteendeel – ‘n nuwe wynreeks is onlangs uitgereik, terwyl die etikette ‘n moderne swaai bygekry het en die proelokaal binnekort ‘n heel ander baadjie gaan aantrek.

Die nuwe reeks – The Short Story Collection – bestaan uit ‘n Bordeaux-styl versnit (The Caracal), Pinotage (The Owlpost) en ‘n Edellaatoes (Maria). Hierdie drie wyne vervang dus die ou Lord Neethling reeks, met die Caracal wat die plek inneem van die vlagskip-versnit, Laurentius.

Nuwe etikette beteken egter nie dat dit in die bottel ‘n algehele gedaanteverwisseling ondergaan het nie. Nee, die styl van veral die Caracal, is steeds klassiek en Europees. Hierdie rooikat rooi is ‘n versnit van Cabernet Sauvignon, Merlot en Cabernet Franc – en ek gaan myne vir ten minste 10 jaar wegsit.

Dieselfde geld vir die Owl Post, wat net soos die variëteit waarvan dit gemaak word, duidelik De Wet se oogappel is. Die wyn is pure Pinotage en het genoeg lyf om enige beesstert bredie aan tafel te vergesel.

Wingerd-ghoeroe, Eben Archer, het ‘n groot rol gespeel in die stories wat hierdie twee rooiwyne se etikette dra. Omgewingsvriendelike deklaagbeheer bring voëllewe – spesifiek tarentale – terug na die wingerde, terwyl hierdie weer rooikatte laat tuis (en versadig) voel. Die Owl Post storie handel oor kappe wat in die wingerde aangebring is om uilgetalle te laat styg en die minder welkom veldmuise in toom te hou.

Die moeder van die storiereeks is egter Maria – ‘n Weisser Riesling edellaatvrot. Hierdie taai soetetjie is afkomstig van ‘n wingerd wat perfek geleë is om die seemis tot vrot volmaaktheid te omskep. De Wet het by veral die Jongwynskou die afgelope paar jaar die trofeë met hierdie wyn laat inrol.

De Wet Viljoen en Eben Archer  

De Wet Viljoen en Eben Archer

 

Net soos wat my gunsteling wyn met die vorige etikette (die Cabernet Franc), nie een van die hoë profiel menere was nie, is die uitblinker van Neethlingshof se post-metamorfose skepsels een sonder ‘n storie of fancy etiket – die Malbec 2008. Dié rooi is ‘n elegante spogstuk, met ryp vruggeure wat harmonieus met subtiele speserygeure aangevul word. As ‘n eerste poging met Malbec as enkel-kultivarwyn, is dié wyn ‘n Neethlingshof vonds. Ek het klaar vir Sandra gesê dat sy in die vervolg maar die Malbec kan skink as ek by die nuwe proelokaal inkom. Hierdie groen boompie gaan nog ‘n reus word!   

 

Wat wil jy nog in ‘n wingerd doen?

Uncategorized 2 Comments »

Die bekende Britse wyntydskrif, Decanter, het in die Augustus-uitgawe ‘n artikel gehad oor 40 dinge wat elke wynliefhebber moet doen. Hoewel party van die voorstelle soos “Pick up fossels in a Chablis Grand Cru vineyard” of “Kangaroo-spotting in the Hunter Valley” vir ons aan die suidelike punt van Afrika ‘n raps buitensporig is, kan ons ‘n interessante Suid-Afrikaanse swaai aan meeste van die voorstelle gee.

Om wyn direk by die kelderdeur te koop (nr. 24) is vir heelwat Bolanders so gewoon soos om brood te koop by Spar, maar ander idees soos “Make love in a vineyard” (nr. 5) kan jou gedagtes nogal laat waai, terwyl ander waarhede soos “Learn to decant” (nr. 1) en “Drink your best bottles” (nr. 40) universeel van toepassing is.

Ek moet bieg, ek het al by ‘n hele paar prentjiemooi wingerde aan nr 5 gedink (let wel, net gedink…). Hier is Neethlingshof se uitkykpunt, Kanonkop se nuwe koppie-lapa en ‘n sekere Pinot Noir-blok by Muratie heel bo aan my lys!

 

 

Decanter stel ook voor dat jy wyn drink wat gemaak word van wingerde wat ouer is as jy (nr 35). Vir my is dit gelukkig nog nie eers ‘n groot uitdaging nie… Ek het immers nou die dag ‘n bottel Alto Cabernet saam met Hempies du Toit gedrink wat 20 jaar ouer is as ek!

Nog een van die aktiwiteite wat ek op die lysie kan afmerk, is om druiwe te eet in ‘n bekende wingerd (nr 16). Tydens my pars by Steenberg in 2007 kon ek blameer word vir ‘n laer Sauvignon Blanc Reserve oes, soos wat ek druiwe in blok 28 gesample het!

Hoewel nie almal die voorreg het om druiwe te gaan trap in Porto (nr 21)  nie, MOET alle ernstige wynliefhebbers op een of ander stadium druiwe trap. Amper elke wynfees wat naastenby rondom pars plaasvind, bied hierdie lawwigheid aan.

Gepraat van lawwighede – die fliek Sideways was die motivering vir nr 7: “Drink first growth from a plastic cup with take-aways.” Die naaste wat ek hieraan gekom het, was om Paul Sauer 2005 uit ‘n blikbeker te drink saam met braaivleis (jammer Abrie) en dit proe steeds net so lekker!

So, het jy al ooit aan nr 5 gedink? Waar? En indien nie, wat is jou Suid Afrikaanse wyn bucket list? Laat my weet!

Mens het nog nie druiwe gepars, voordat jy dit met die hand gedoen het nie!

Mens het nog nie druiwe gepars, voordat jy dit met die hand gedoen het nie!
Entries RSS Comments RSS Log in