Bolandse Shiraz met ‘n knippie Afrika spice

Uncategorized Add comments

Ek was die naweek by ‘n troue waar ‘n wynmaker in sy heildronk op die bruidspaar gesê het, dat mens nie in die wynbedryf is vir geld as rykdom nie, maar rykdom in die vorm van die wyne wat jy drink, kos wat jy eet en mense met wie jy te doen het.

Veral die heel laaste deel van dié stelling slaan die spyker op die kop. Hierdie bedryf se ménse – karakters – is ook wat my in ‘n skrywers-hoedanigheid gereeld selfs meer inspireer as die produk self.

Ek het onlangs twee sulke karakters, regte unsung heroes, ontmoet op Hartenberg – toe ek doelbewus ‘n halfuur vroeg opgedaag het vir ‘n afspraak met wynmaker, Carl Schultz. Sulke strategiese halfuurtjies is waardevolle proetyd en ‘n geleentheid vir my gunsteling tydverdryf: mense dophou.

Nou, Hartenberg se proelokaal is nie een van daardie flashy tipes wat blink van die (meestal buitelandse) pitte nie – jy kan maar sit en tuis voel. En dit is presies wat die Duitse groep, wat al diep in die wynlys af was, gedoen het.

Op die oog af, was die vrou wat hulle proe aangebied het een van daardie proelokaal tannies wat jou alles van die jaar toet af kan vertel – toe Hárslevelü, Clairette Blanche en Hermitage nog die glase gevul het. Die Ingels is steeds nog nie so knap nie, maar dat sy so eg Bolands soos Pinotage is, sal niemand oor kan stry nie. En dít dra by tot die Hartenberg-ervaring.

Issa, wat my proe aangebied het, voeg egter ‘n heel ander element by en gee skoon nuwe spice aan Hartenberg se reeds indrukwekkende Shiraz. Mens kan aan sy gelaatstrekke en aksent sien en hoor hy is nie van dié geweste nie en met bietjie aansporing, het hy die storie van sy pad na die Bottelary heuwels so tussendeur die Chardonnay en Riesling begin vertel.

 

Issa

Issa

Hy vertel dat hy grootgeword het in Malawi, waar sy pa ‘n klein restaurantjie besit het. Die hele gesin het handbygedra tot hierdie familieonderneming en kos – vernaamlik sterkgekruide visgeregte – was deel van sy kinderdae.

Na sy pa se dood het hy Suid-Afrika toe getrek, waar hy uiteindelik by ‘n sjefskool in Durban – die land se kerrie hoofstad – terug na sy wortels gekeer het.

‘n Onmiddellike liefde vir wyn het hom gelei na die Kaap, waar hy in 2001 ‘n pars by Lievland voltooi het. Sy forté was egter steeds gasvryheid, die geselligheid en spice van ‘n Afrika kombuis. En dit is iets wat hy kon uitleef in ‘n proelokaal – eers by Lievland en later by Hartenberg.

Sy proeë bestaan nie net uit “die volgende heerlike wyn is ’n Cabernet Sauvignon” praatjies nie, maar draai rondom geure, kos en vergelykings. Sodra hy agterkom jy weet meer as die verskil tussen wit- en rooiwyn, skop ‘n verbasende tegniese kennis in. Hoeveel proelokaal personeel weet byvoorbeeld met watter soort gis die verskillende wyn gefermenteer word?

Dis nie verbasend dat die aromatiese nommers – Shiraz en Riesling – sy gunsteling wyne is nie. En as mens hom ‘n halwe kans gee, sal hy begin liries raak oor saam met watter kos hy dit sal bedien.

Veral Hartenberg se Shiraz is in hierdie opsig baie veelsydig. Maar as jy my vra, werk dit die beste saam met waterblommetjiebredie met ‘n knippie Afrika spice.

One Response to “Bolandse Shiraz met ‘n knippie Afrika spice”

  1. Jeanri-Tine van Zyl Says:

    Issa het ’n integrale rol gespeel in ’n proe-ervaring wat my altyd sal bybly (vir al die regte redes) . Ek het destyds sy kennis geprys in my Cellar Door shoot-out rubriek (lees die een oor Hartenberg op http://bit.ly/9bauu0). Hy is entoesiasties, elegant en ingelig, waarlik ’n mens met ’n storie – kan ons aandring op meer Issas in proelokale?

Leave a Reply

Entries RSS Comments RSS Log in