
Die konsep van elkeen bring ‘n bottel wyn om te proe en dra iets by tot die ete na die tyd, is seker niks meer as ‘n glorified bring en braai nie. Maar dít is hoe die meeste wynklubs begin en – soos wat die nuutste toevoegings tot die elite Kaapse Wynmeesters wys – kan hierdie ook ʼn ernstige affêre raak…
Die vier nuwe Kaapse Wynmeesters behoort almal aan die Wild Yeasts wynproeklub in Johannesburg en het ook deur hierdie klub se snuif-smaak-spoeg-sessies heelwat van hul wynkennis opgedoen.
Dit beteken egter nie dat alle bottelbendes so ʼn prestige gedoente is nie – en dis ook net goed so! Ek behoort aan vier verskillende proeklubs – wat wissel van tegniese proegroepe tot onpretensieuse kuierklubs.
Quatro Hombre – wat in Spaans “vier manne” beteken – is ʼn goeie voorbeeld van hoe ʼn laatnag braaibreingolf kan verander in ʼn heel gevorderde proeklub. Ek en drie van my varsity pelle het elkeen ‘n menéér van ʼn wyn na ʼn kuier gebring, kort nadat van hulle teruggekom het van parse in Amerika en Frankryk.
Nodeloos om te sê, het hierdie groot wyn aande ʼn gereelde en later formele gewoonte geraak – en vandag is van sommeliers tot vatsmouse lede van die Quatro Hombre groep.
Een van die ander proeklubs het nie eintlik veel gevorder sedert die aanvanklike braaibreingolf nie… Dié sosiale drink-met-‘n-doel-klub heet Klap Vino en is gebaseer op die plaas Stonewall, waar daar ʼn baie interessante spul jong musikante hulself tuisgemaak het.
Daar word gewoonlik ʼn spesifieke kultivar of wynstyl geproe en die klub se sekretaresse se korrespondensie vind slegs in gedigvorm plaas. Wyn is die tema, maar hier gaan Pinotage gewoonlik vinnig oor in poësie en word die kitare gewoonlik soms vóór die laaste wyn al nadergetrek …
En hoekom nie? Wyn word al vir eeue met die kunste vereenselwig en enigiets wat ʼn kreatiewe wynkultuur bevorder, is in my boekies ʼn stap vorentoe.
Daar is ook heelwat voorbeelde van wynklubs waar wyn net halfpad die sentrale tema is – soos die Single Vineyards. By hierdie “wynklub” hoop enkellopendes om van enkelkultivars na versnitte te verander so tussen die proeëry deur.
Dan is daar ook die Wyn Gooste, wat bestaan uit van die henne in die bedryf. Uit die aard van die saak het ek nog nie een van hierdie teelose teaparties bygewoon nie, maar ek kan dink dat mens hier selfs meer leer van die bedryf se sondes en skandes as op winegoggle!
Of jy nou ʼn opsoek is na ʼn slukkie Chateau Lewensmaat, die eerste stap wil neem na Kaapse Wynmeesterskap, of dalk in die Pinotage poësie game is, join the (tasting) club.
Recent Comments