
Ek is amptelik ‘n sucker vir die eiendomsmark. Daar is niks vir my so interessant soos om ryk-ryk te speel en eiendomsagente te bel as ek ‘n Pam Golding of Seeff bordjie sien by wat lyk na ‘n goeie Sunday drive-kopie nie – of dit nou in Kampsbaai of Kuilsrivier is.
Net so sal ek nie sommer verby die eiendomsaasvoëls se kantore stap sonder om te stop vir ‘n paar minute se window shopping nie. Dit was ook die geval toe ek Saterdagmiddag verby Coetzenburg Eiendomme in Stellenbosch gestap het. Die dorp was vol Algeriërs – wat die Eikestad gekies het as basis voor die sokkerwedstryd teen Engeland – terwyl daar ook heelwat Duitsers, Nederlanders en nou en dan ‘n verlore Pommie die meeste gemaak het van die wintersonnetjie.
Mens sou verwag dat Coetzenburg Eiendomme sal skep terwyl die ingevoerde pap dik is deur die ponde en euros wat die rondte doen te teiken in sy vensteraanbiedinge. Maar tot my groot verbasing was al die advertensies, wat in straat vertoon is, gemik op Suid-Afrikaners – in Afrikaans!
Ook by die sokker self (ek het saam met Spier die wedstryd tussen Uruguay en Frankryk gaan kyk) was die Taal so algemeen soos by enige Nuweland-toets – tesame met Suid-Afrikaanse Ingels.
En wat is die relevansie hiervan vir ‘n wynblog? Daar is ‘n les te leer oor die waarde van die veelbesproke plaaslike mark. As Coetzenburg Eiendomme dit goeddink om ten spyte van die groot buitelandse teenwoordigheid, steeds die Suid-Afrikaanse mark te teiken, hoekom is die wynbedryf se aanslag juis andersom? Selfs Fifa slaan dan munt uit die locals – Rand-munte, nie dollars of ponde nie.
By ‘n onlangse Kaapse Wynmakers Gilde proe by Jordan, het Simonsig se Johan Malan (die gilde se voorsitter) vertel dat sowat 15% van die KWG se totale verkope vir die buiteland bestem is. Ons praat hier van ‘n veiling wat ten spyte van minder gunstige marktoestande jaarliks groei. Groei met plaaslike geld, plaaslike verbruik in die hoogste prysklas.
In teenstelling hiermee, toon Sawis se syfers – wat natuurlik dui op volumes en nie waarde nie – al vir ‘n geruime tyd dat die plaaslike mark of sak of onveranderd bly.
Is dit oor die plaaslike mark sy piek bereik het of oor daar niemand is wat namens die bedryf die moeite doen om uit te vind nie? En soos dinge nou voortsloer, gaan hierdie nie gou verander nie… Want niemand het skynbaar die tyd, geld of sokkerballe om die generiese bemarkingvraagstuk aan te pak nie.
Recent Comments