Die goue draadjie

Uncategorized Add comments

Hier kort voor die einde van twee-duisend-en-sokker, het ek vandag afskeid geneem van WynLand se gewilde Kop op ʼn Blok-reeks.

Vir twee jaar – of 24 uitgawes – het ek en Francois Viljoen van VinPro die voorreg gehad om te kyk waar die beste van Bacchus se wortels begrawe is. Want kyk, al wat wynmaker, -skrywer of gewoon -drinker is, verkondig graag dat wyn in die wingerd gemaak word, maar tog word daar bitter min publisiteit aan wingerde en wingerdkundiges gegee.

Deur die wingerdblokke te kies op grond van die produk wat dit lewer en nie hoe dit lyk of bewerk word nie, is ʼn egte prentjie geskets van die Kaap se waardevolste wingerde.

Die doel van hierdie reeks – wat met die ondersteuning van Santam aangebied is – was om die goue draadjie wat voorkom by ál hierdie top wingerde te identifiseer. In die proses het ons van Constantia tot Calitzdorp gery en alles van bosstok, makstok en stok-by-paaltjie tot voëlverskrikkers en elektriese bokheinings teëgekom.

En wat is die ‘wenresep’ van wingerdkunde? As daar so iets was, was daar nie ʼn doel vir ʼn wingerdkundige nie – maar daar was wél een kenmerk wat by ál die blokke na vore gekom het. En heel toepaslik was dit in besonder merkbaar by die laaste blok van die reeks: Die wingerd waarvan Neil Ellis sy bekroonde Grenache maak – in die hartjie van die Piekenierskloof.

Die goue draadjie is dat die suksesvolste wingerde minimale ingrype van die wingerdkundige nodig gehad het – omdat hulle op die regte plek staan, ʼn ryp ouderdom bereik het en natuurlik in balans is.

Ten spyte van droogte, harde toestande en minimale fieterjasies rondom kunsmis, besproeiing en manipulasie, is hierdie Grenache tevrede en diep gewortel in die sanderige, afgeleë klowe. En boonop skop dié wyn stof in die oë van diegene wat allerhande fancy benaderings en manipulasies toepas.

En dit is nie ʼn kwessie van steek ʼn stok in die grond en hoop hy bereik ʼn ouderdom waarop hy gebalanseerd is nie. Organiese ghoeroe Johan Reyneke is loodreg gekant teen oormatige beheer in die kelder, wingerd en lewe en verduidelik dit goed. “It’s not order through neglect, but success by design.

Sy redenasie is dat die wingerdstok, sowel as die omgewing waarin dit groei, oor miljoene jare vervolmaak is, en dat dit naïef is om te dink jy kan deur obsessiewe manipulasie skielik God daaroor speel. 

Ek neig dalk daartoe om meer filosofies te raak rondom die Kersseisoen, maar is hierdie goue draadjie nie dalk ook van toepassing op mense nie?

Piekenierskloof Grenache - tuis en tevrede

Piekenierskloof Grenache - tuis en tevrede

 

 

Leave a Reply

Entries RSS Comments RSS Log in