Blog

Semi-soet, maar vol vermaak

23 November 2011 /
deur Elona Nel Die Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse filmbedryf is besig om progressief te ontwikkel en te ontvou – en met ʼn nuwe romantiese komedie, Semi-Soet, wat in Februarie volgende jaar in teaters begin, sal kykers ook met ʼn nuwe hunkering na die wynlande wil ontvlug.
'
ʼn Groot gedeelte van hierdie pioniersprojek speel af op Vrede en Lust wynplaas buite die Paarl en dit het ook gedien as die ideale plek vir ʼn ligte middagete saam met sommige van die sterre van die rolprent. Die hoofrolle van Jaci van Jaarsveld en JP Basson (Jackal) is onderskeidelik deur Anel Alexander en Nico Panagio vertolk. Anel en haar man, James Alexander, is ook die vervaardigers van Semi-Soet en volgens haar is dit juis een van die kentekens van die Suid-Afrikaanse filmbedryf dat mense meer as een rol aanneem. “Almal gee alles en werk ten volle saam; dit gaan soms rof en is ʼn handvol om by alles betrokke te wees, maar dit was wonderlik,” gesels sy tydens die ligte somer-ete langs die Vrede en Lust Manor House, wat een van die prominente stelle in die rolprent was. Volgens Nico is dit heerlik om saam met soveel talentvolle mense te werk, en hoogs onwaarskynlik dat kykers al so iets in Afrikaans gesien het. “Dit is ʼn intellektuele komedie waarvoor die Afrikaanse gehoor al lank wag. Bring die snesies, want jy gaan huil ... van die lag!” Sandra Vaughn is die draaiboekskrywer van Semi-Soet, maar het ook die rol van Karla Jordaan vertolk – weer eens ʼn passievolle aktrise wat alles insit om ʼn projek soos hierdie ten volle te laat werk, maar wat met haar voete vierkantig op moeder aarde gevestig staan. Buiten ʼn spesiale Valentynsdag vertoning, open die rolprent amptelik op 17 Februarie 2012. Hier is ʼn teaser van wat gehore te wagte kan wees: [youtube WYFHVtYOwkQ]  

comments powered by Disqus