Kwaliteit vlieg hoog by SAA

Reviews, What's Hot No Comments »

deur Elona Nel

Bongi Sodladla, John en Nellie Salvi, en Ashley Ramafoko - SAA se logistieke bestuurder.

Hierdie jaar se drie-dae lange proe-proses vir die SAA Wynseleksie is afgehandel en tydens ʼn simposium by Nederburg het die paneellede die ongeveer 1 000 wyne wat ingeskryf is, meestal hoog geag. Bekende Franse wyn-fundi en MW van Bordeaux, John Salvi, vertel dat hy selfs ʼn spesifieke Kaapse versnit bó sommige Bordeaux-tipes verkies het.

SAA se kos- en drankbestuurder, sowel as senior sommelier, Bongi Sodladla, verduidelik ook dat gewigsbeperkings by die lugdiens steeds streng is en dat hulle juis op die uitkyk is vir ligter bottels, soos ligte glas of PET. Hoewel daar ʼn paar sulke inskrywings was, hoop hulle om in die toekoms meer in hierdie klas te kry. In die geheel het paneellede ook baie maal witwyne in PET-bottels hoog en soms selfs hoër as dié in glasbottels bepunt.

John se vrou Nellie Salvi, Franse wynkenner maar gebore Suid-Afrikaner, ag die Chardonnays wat ingeskryf is baie hoog – veral dié wat in ʼn ongehoute styl gemaak is. Daar is meer vrug as wat sy verwag het, met ʼn verskeidenheid van style wat energiek en vars vertoon.

Die Bergkelder se keldermeester en verlede jaar se Vroue Wynmaker van die Jaar, Andrea Freeborough, vertel dat alhoewel die 2011-oesjaar moeilik was vir Sauvignon Blanc, daar baie goeie voorbeelde is. ʼn Paar was wel effens te fenolies, maar die meeste het ʼn goeie balans van groen en tropiese geure. Organiseerder Bennie Howard lig ook uit dat 88% van vanjaar se Sauvignons onder skroefdop gebotteleer is, teenoor 25% drie jaar gelede. “Daar was ook baie min wyne met TCA, oftewel kurk en wangeure – definitief ʼn verbetering op vorige jare.”

Chenin Blanc het vanjaar sy eie kategorie gekry en is volgens Southern Sun se hoof sommelier, Miguel Chan, beskryf as vars en skoon wyne, met minder hout en residuele suiker as vantevore. John beaam dat daar oor die algemeen baie goeie hout-integrasie in die wyne is, ook wat die Bordeaux-styl Versnit- en Merlot-kategorieë betref. Hy lig verder uit dat Suid-Afrikaanse Merlot meer gestruktureerd is as dié in Bordeaux, maar met minder vrug. Vanweë dié goeie struktuur raak die wyne dus soms austere en benodig dit daardie vrugkarakter om hulle sagter te laat vertoon.

Volgens Stellekaya se wynmaker, Ntsiki Biyela, toon die Pinotages vanjaar ook goeie struktuur en het dié wyne definitief gegroei en verbeter. Sommige van die 2010 en 2011 wyne het egter volgens haar effens te veel hout op, wat die variëteitskarakter oorskadu.

Hoewel daar aansienlik minder Sémillon vanjaar ingeskryf is – volgens Bennie ʼn jammerte, aangesien SAA al vantevore van hierdie wyne gekies het – het ander rooi kultivar-wyne soos Mourvèdre, Petit Verdot en Cabernet Franc goed vertoon. Die klein, maar indrukwekkende Pinot Noir-kategorie het volgens Miguel ook baie verbeter en die produsente het weg beweeg van oorgeëkstraheerde wyne, na dié met vars en elegante geure en goed geïntegreerde hout.

In geheel is die terugvoer en SAA se houding teenoor vanjaar se wyne baie positief – met ʼn paar punte waarop produsente kan let en leer vir volgende jaar. Net jammer dat hierdie terugvoersessie, soos ook ervaar word by dié van sommige ander skoue vroeër vanjaar, deur slegs ʼn handjievol produsente bygewoon is.

Vyf sterre vir ’n Stellenbosch ‘port’

Competitions, Reviews No Comments »

Deur Edo Heyns

Vergenoegd se Old Cape Colony Vintage Cape Vintage 2004 was die eerste port om vyf sterre by WynLand se
watterwyn-paneel te kry. Dié paneel, onder leiding van Bennie Howard, was eenparig dat hierdie wyn die vyf-ster eer verdien en veral die soomlose integrasie het beïndruk.

Bennie vertel dat die neus intens is, met ʼn verskeidenheid van droëvrugte-geure, neute, speserye en peperment-sjokolade.
“Laasgenoemde is iets wat ek gewoonlik net by Portugese porte optel en is ’n onderskeidende kenmerk van hierdie wyn.

Vergenoegd is bekend daarvoor dat sy wyne eers na ’n paar jaar se bottelveroudering vrygestel word,
wat sonder twyfel in die wyn se guns getel het met hierdie proe. Dié Stellenbosse wynlandgoed se Cape Vintage word gemaak van gelyke dele Touriga Nacional en Tinta Barocca.

Wat die watterwyn-proeë uniek maak, is dat die wyne van die rak af gekoop en geproe word, om ’n oorsig te gee
van wat die man op straat in die winkel kan koop en wat hy daarvoor sal betaal.

Die Vergenoegd Old Cape Colony Vintage Cape Vintage is by Tops at Spar gekoop teen R94,99.

350-jaar nostalgie

Uncategorized 1 Comment »

Een van die grootste geeste in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, Beyers Truter, het by ‘n Beyerskloof-proe wat ek as student bygewoon het, beklemtoon dat niemand ooit sal groter wees as die bedryf of die produk wat hy lewer nie.

In dié tyd wat ons die 350ste bestaansjaar van Suid-Afrikaanse wyn vier, was daar verskeie geleenthede wat Beyers se woorde onderstreep het – en ‘n salige nederige gevoel in jou binnegoed wek.

Een so funksie was gereël deur Meerendal bemarker, Bennie Howard, wat self al diep spore getrap het. Nou, waar daar iets genoem word van die 350-viering, is die kans goed dat daar ‘n Bennie-aanhaling of ‘n grys baardjie iewers op ‘n foto daarmee saamgaan. Dié man het omtrent hierdie mylpaal viering ter harte geneem!

Meerendal se makietie het gedraai rondom die aanplanting van 350 pinotage stokkies, waarvan die plantmateriaal afkomstig is van die wingerd waarvan dié plaas se Heritage Block Pinotage geproduseer word.

Elke stokkie is geplant deur iemand wat op een of ander wyse ‘n bydrae tot die wynbedryf gemaak het. En terwyl ek so rond kyk het na bekende gesigte soos dié van hardebaarde (letterlik en figuurlik) Duimpie Bayly en Dave Hughes, besef ek net weer hoe waardevol sulke persoonlikhede vir die bedryf is – en dat dit die manne is wat die diepste spore getrap het, wat met die grootste entoesiasme die jonger generasie dophou.

‘n Ander geleentheid wat selfs nóg meer ‘n blywende indruk gemaak het, was ‘n gesellige kuier op Annandale, waar Hempies du Toit saam met sy ouers, Piet en Edna, ‘n paar ou kurke vir hul gaste getrek het.

Kyk, dis geen geheim dat ek maar nog bloot ‘n botsel op die bedryf se 350-jarige kordon is nie, maar wanneer jy Cab drink wat 20 jaar ouer is as jy, saam met legendes soos Georgio Dalla, Hempies en die man wat die wyndeure na Swede vir Suid-Afrika oopgeskop het – Janake Johanson – kry die diepte van hierdie wingerdstok se wortelstelsel nuwe betekenis.

Piet du Toit het in die 1960s Alto in die kollig geplaas met die klassieke rooiwyne wat hy hier geproduseer het en sy seun Hempies het so tussendeur die losgemale en plettervatte (hy het vir die Springbokke in die voorry gesak) by sy pa die fyner kunsies van wynmaak aangeleer.

Dié pa-en-seun-span het in die einde 1970s en 1980s saam by Alto wyngemaak, waartydens Hempies stelselmatig die leisels oorgeneem het. Hy was op die ou einde vir 25 parse hier betrokke, totdat hy in 2000 by Annandale die Du Toits se wynerfenis voortgesit het.

Hempies, Piet en Edna du Toit

Hempies, Piet en Edna du Toit

Dié voorryman is old school in sy benadering tot wynmaak en erken dat hy nooit een sal wees vir “snaakse goed” soos stawe nie. “Kyk, ons het destyds nie eers stainless steel tenke gehad nie – alles was groot vate,” vertel hy.

Kompetisies staan hom ook nie aan nie – hy het net vir twee kompetisies ingeskryf en dit lyk nie asof daardie syfer gaan klim nie.

In ‘n mark waar wyne al hoe meer gemaak word om vroeg te drink, sal Hempies nie Cabernet Sauvignon verkoop wat jonger as ses jaar is nie – iets wat nie so vreemd is as mens in gedagte hou dat dié wyne van hom ses jaar in vate spandeer nie. 

Hierdie Du Toit-wyne is gemaak om te verouder en wat is ‘n beter bewys hiervan as ‘n proe met menére soos die 1979 Alto Rouge en die 1984, 1975, 1971 en 1965 oesjare van die Alto Cabernet Sauvignon?

Nou, ek het nog nie baie sulke ou wyne gedrink nie en het nog minder daardie wyne in hul jeug ervaar, maar die opvallende vars vrug op hierdie rooies, laat baie wyne met meer onlangse jaartalle op hul etikette oor die muur lyk.

Daar is natuurlik diegene wat reken dat Hempies vasgehaak het in ‘n vorige era (hy het immers onlangs ‘n Cinsaut/Shiraz/Cabernet-versnit met die naam Nostalgia uitgereik), maar as daar gepraat word van nuwe gisrasse, breimiddels, houtprodukte en volksvreemde tegnologie, herinner Hempies jou: “Die kuns van wynmaak lê op die ou einde steeds in die eenvoud daarvan.”

Janee, niemand sal ooit groter wees as hierdie produk nie.

Entries RSS Comments RSS Log in