deur Elona Nel
Van borrels tot buitengewone rooiwyne … daar het vanjaar vele nuwe sterre en ou gunstelinge in my wynglas beland. Alhoewel daar natuurlik soms teleurstellings en mislukte probeerslae opgeduik het, is daar oorgenoeg opwindende wêreldklas wyne in die rondte – definitief oorgenoeg om oor (huis toe) te skryf.
Twee Méthode Cap Classiques het beïndruk en is op my Top 5-lysie vir 2011 – die een is elegant en puristies, maar met ʼn goeie struktuur en volheid, terwyl die ander ryk en romerig, dog vars en fris is.
My top 5 wyne vir 2011:
Graham Beck Brut Zero 2005. Dit het ʼn unieke mineraliteit en met geen dosage wat bygevoeg is nie, is dié wyn skoon en oop. Die gebruik van beide Chardonnay en Pinot Noir verseker ʼn groot verskeidenheid geure en die MCC eindig beide vol en vars. Dit verkoop teen R205 per bottel.
Colmant se Brut Chardonnay NV is ʼn versnit van sewe jaar se wyne wat
ʼn minimum van 36 maande op die gismoer spandeer het. Die beskuitjie-karakter is indrukwekkend, met ʼn volheid en romerigheid wat goed afgerond is deur die varsheid van die suur, groenappelgeure en sitruskarakter. Die prys is R158 per bottel.
ʼn Wyn wat met ʼn indrukwekkende bang uit die staanspoor weggespring het, is De Wetshof se nuwe “The Site” Chardonnay 2009 teen R115. Tropiese vrug-, sitrus- en lemmetjiegeure word gekombineer met ʼn ryk, romerige botterkaramel- en houtkarakter. Dit is baie goed geïntegreer en die wyn is steeds baie vars op die palet met ʼn aangename neutagtigheid.
ʼn Ou gunsteling en altyd indrukwekkende wyn is Neil Ellis se Grenache, en tydens
ʼn vertikale proe van die 2007, 2008 en 2009 het ek nuwe respek vir hierdie 53-jaar oue Piekenierskloof-wingerde gekry. Die 2009 word gemaak in die meer moderne styl, waarvolgens slegs 75% van die wyn in ou Franse eikehoutvate verouder word, terwyl die oorblywende 25% in die tenk bly. Komplekse geure van naeltjies, peper en rooibessies, met ʼn sagte, fluweelagtige nasmaak slaan die spyker op die kop. Dié wyn verkoop teen R275 by die proelokaal.
Creation se Syrah 2009 is ʼn Hemel-en-Aarde-vallei rooiwyn op sy heel beste en die diep, donker kleur dui op die misterie van hierdie wyn. Aromatiese geure van kersies, viooltjies, swartbessies en peperagtige speserye word goed afgerond met ʼn sagte, tog lewendige mineraliteit op die smaak. Die prys is R155 per bottel.



Recent Comments