Handgemaakte Shiraz se bombastiese bruidsmars

Brands, Wine Styles 2 Comments »

deur Elona Nel

Ons almal wil ʼn huisie by die see hê … en ons eie wyn daarby, wou Koos Kombuis sekerlik gesing het. Tydens Paasnaweek by óns huisie by die see, het ʼn interessante bottel wyn se kurk gepop. Andrew Brown se droom om sy eie wyntjie te maak, is bewaarheid deur sy garagiste handelsmerk Companion Lane vanaf ʼn klein keldertjie by hul huis in Houtbaai.

Alhoewel hy aanvanklik van Gauteng afkomstig is, het hierdie nuwe Kapenaar sy eerste Shiraz in 2006 in sy motorhuis aanmekaar geslaan, waarna hy self ʼn klein kelder ontwerp en gebou het. Die druiwe is afkomstig van Hempies du Toit se plaas, Annandale, in Stellenbosch en ʼn klein mandjie pers word gebruik, waarna die wyn verouder in ouer vate. Weinige volumes wyn word geproduseer – die huidige 2007 oesjaar het slegs 300 bottels opgelewer.

‘Met die hand groot gemaak’, is hierdie wyn alles behalwe tingerig of skaam – luidrugtige geure strek vanaf donker, swart bessies en wit peper, tot soet tabak, rissies en pruime.

Dit gee ook ʼn nuwe betekenis aan family affair, met sy vrou en kinders wat as assistent wynmakers optree. Selfs ʼn familie erfstuk word ingespan as filter – nadat ʼn tee sif nie die ding wou doen nie, het Andrew se vrou besluit om haar bruid sluier te gebruik en hiérdie pienk gevlekte net is vanjaar vir die vyfde keer suksesvol ingespan – vanwaar sy Shiraz se naam, Bridal Veil.

Al is die wyn volrond met ʼn effense ‘hardehout’ karakter en ʼn alkohol van 15%, vloei hy glad en gemaklik. En hoewel dit maar ʼn klein, intieme besigheid is, sing die wyn ballades vir enige een wat wil luister – ʼn totale teenstelling van Koos Kombuis se aanvanklike metgesel, Oom Tas. Die struggle is verby Koos, tyd om op te gradeer na ietsie meer uniek en gepas vir jou huisie by die see.

350-jaar nostalgie

Uncategorized 1 Comment »

Een van die grootste geeste in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, Beyers Truter, het by ‘n Beyerskloof-proe wat ek as student bygewoon het, beklemtoon dat niemand ooit sal groter wees as die bedryf of die produk wat hy lewer nie.

In dié tyd wat ons die 350ste bestaansjaar van Suid-Afrikaanse wyn vier, was daar verskeie geleenthede wat Beyers se woorde onderstreep het – en ‘n salige nederige gevoel in jou binnegoed wek.

Een so funksie was gereël deur Meerendal bemarker, Bennie Howard, wat self al diep spore getrap het. Nou, waar daar iets genoem word van die 350-viering, is die kans goed dat daar ‘n Bennie-aanhaling of ‘n grys baardjie iewers op ‘n foto daarmee saamgaan. Dié man het omtrent hierdie mylpaal viering ter harte geneem!

Meerendal se makietie het gedraai rondom die aanplanting van 350 pinotage stokkies, waarvan die plantmateriaal afkomstig is van die wingerd waarvan dié plaas se Heritage Block Pinotage geproduseer word.

Elke stokkie is geplant deur iemand wat op een of ander wyse ‘n bydrae tot die wynbedryf gemaak het. En terwyl ek so rond kyk het na bekende gesigte soos dié van hardebaarde (letterlik en figuurlik) Duimpie Bayly en Dave Hughes, besef ek net weer hoe waardevol sulke persoonlikhede vir die bedryf is – en dat dit die manne is wat die diepste spore getrap het, wat met die grootste entoesiasme die jonger generasie dophou.

‘n Ander geleentheid wat selfs nóg meer ‘n blywende indruk gemaak het, was ‘n gesellige kuier op Annandale, waar Hempies du Toit saam met sy ouers, Piet en Edna, ‘n paar ou kurke vir hul gaste getrek het.

Kyk, dis geen geheim dat ek maar nog bloot ‘n botsel op die bedryf se 350-jarige kordon is nie, maar wanneer jy Cab drink wat 20 jaar ouer is as jy, saam met legendes soos Georgio Dalla, Hempies en die man wat die wyndeure na Swede vir Suid-Afrika oopgeskop het – Janake Johanson – kry die diepte van hierdie wingerdstok se wortelstelsel nuwe betekenis.

Piet du Toit het in die 1960s Alto in die kollig geplaas met die klassieke rooiwyne wat hy hier geproduseer het en sy seun Hempies het so tussendeur die losgemale en plettervatte (hy het vir die Springbokke in die voorry gesak) by sy pa die fyner kunsies van wynmaak aangeleer.

Dié pa-en-seun-span het in die einde 1970s en 1980s saam by Alto wyngemaak, waartydens Hempies stelselmatig die leisels oorgeneem het. Hy was op die ou einde vir 25 parse hier betrokke, totdat hy in 2000 by Annandale die Du Toits se wynerfenis voortgesit het.

Hempies, Piet en Edna du Toit

Hempies, Piet en Edna du Toit

Dié voorryman is old school in sy benadering tot wynmaak en erken dat hy nooit een sal wees vir “snaakse goed” soos stawe nie. “Kyk, ons het destyds nie eers stainless steel tenke gehad nie – alles was groot vate,” vertel hy.

Kompetisies staan hom ook nie aan nie – hy het net vir twee kompetisies ingeskryf en dit lyk nie asof daardie syfer gaan klim nie.

In ‘n mark waar wyne al hoe meer gemaak word om vroeg te drink, sal Hempies nie Cabernet Sauvignon verkoop wat jonger as ses jaar is nie – iets wat nie so vreemd is as mens in gedagte hou dat dié wyne van hom ses jaar in vate spandeer nie. 

Hierdie Du Toit-wyne is gemaak om te verouder en wat is ‘n beter bewys hiervan as ‘n proe met menére soos die 1979 Alto Rouge en die 1984, 1975, 1971 en 1965 oesjare van die Alto Cabernet Sauvignon?

Nou, ek het nog nie baie sulke ou wyne gedrink nie en het nog minder daardie wyne in hul jeug ervaar, maar die opvallende vars vrug op hierdie rooies, laat baie wyne met meer onlangse jaartalle op hul etikette oor die muur lyk.

Daar is natuurlik diegene wat reken dat Hempies vasgehaak het in ‘n vorige era (hy het immers onlangs ‘n Cinsaut/Shiraz/Cabernet-versnit met die naam Nostalgia uitgereik), maar as daar gepraat word van nuwe gisrasse, breimiddels, houtprodukte en volksvreemde tegnologie, herinner Hempies jou: “Die kuns van wynmaak lê op die ou einde steeds in die eenvoud daarvan.”

Janee, niemand sal ooit groter wees as hierdie produk nie.

Wat wil jy nog in ‘n wingerd doen?

Uncategorized 2 Comments »

Die bekende Britse wyntydskrif, Decanter, het in die Augustus-uitgawe ‘n artikel gehad oor 40 dinge wat elke wynliefhebber moet doen. Hoewel party van die voorstelle soos “Pick up fossels in a Chablis Grand Cru vineyard” of “Kangaroo-spotting in the Hunter Valley” vir ons aan die suidelike punt van Afrika ‘n raps buitensporig is, kan ons ‘n interessante Suid-Afrikaanse swaai aan meeste van die voorstelle gee.

Om wyn direk by die kelderdeur te koop (nr. 24) is vir heelwat Bolanders so gewoon soos om brood te koop by Spar, maar ander idees soos “Make love in a vineyard” (nr. 5) kan jou gedagtes nogal laat waai, terwyl ander waarhede soos “Learn to decant” (nr. 1) en “Drink your best bottles” (nr. 40) universeel van toepassing is.

Ek moet bieg, ek het al by ‘n hele paar prentjiemooi wingerde aan nr 5 gedink (let wel, net gedink…). Hier is Neethlingshof se uitkykpunt, Kanonkop se nuwe koppie-lapa en ‘n sekere Pinot Noir-blok by Muratie heel bo aan my lys!

 

 

Decanter stel ook voor dat jy wyn drink wat gemaak word van wingerde wat ouer is as jy (nr 35). Vir my is dit gelukkig nog nie eers ‘n groot uitdaging nie… Ek het immers nou die dag ‘n bottel Alto Cabernet saam met Hempies du Toit gedrink wat 20 jaar ouer is as ek!

Nog een van die aktiwiteite wat ek op die lysie kan afmerk, is om druiwe te eet in ‘n bekende wingerd (nr 16). Tydens my pars by Steenberg in 2007 kon ek blameer word vir ‘n laer Sauvignon Blanc Reserve oes, soos wat ek druiwe in blok 28 gesample het!

Hoewel nie almal die voorreg het om druiwe te gaan trap in Porto (nr 21)  nie, MOET alle ernstige wynliefhebbers op een of ander stadium druiwe trap. Amper elke wynfees wat naastenby rondom pars plaasvind, bied hierdie lawwigheid aan.

Gepraat van lawwighede – die fliek Sideways was die motivering vir nr 7: “Drink first growth from a plastic cup with take-aways.” Die naaste wat ek hieraan gekom het, was om Paul Sauer 2005 uit ‘n blikbeker te drink saam met braaivleis (jammer Abrie) en dit proe steeds net so lekker!

So, het jy al ooit aan nr 5 gedink? Waar? En indien nie, wat is jou Suid Afrikaanse wyn bucket list? Laat my weet!

Mens het nog nie druiwe gepars, voordat jy dit met die hand gedoen het nie!

Mens het nog nie druiwe gepars, voordat jy dit met die hand gedoen het nie!
Entries RSS Comments RSS Log in