Riebeek seevier by Weskus opskop

Competitions, What's Hot No Comments »

Deur Edo Heyns

‘Jannie’ is oppad na Riebeek, nadat ’n Viognier van dié kelder by ’n baie gesellige weskus opskop aangewys is as die beste wyn van 2011.

Riebeek kelder geniet die oomblik, terwyl die Skou se voorsitter, Duimpie Bayly, net so ingenome lyk.

Die gesogte Genl Smuts Trofee – ook bekend as ‘Jannie’ onder die weskusmanne – word toegeken aan die top wyn van die Nasionale Jongwynskou. Die ander groot (of eerder gesogte, ál die trofeë is groot!) trofee van hierdie kompetisie, die Pietman Hugo, is aan Badsberg Kelder toegeken. Dié trofee word toegeken aan die kelder met die beste top vyf inskrywings.

Die Nasionale Jongwynskou toekennings is vanjaar by Muisbosskerm op Lambertsbaai aangebied. Die Namakwalanders het met ’n Pinotage/Malbec versnit die trofee vir die beste rooi versnit ingepalm, maar het ook gesorg vir een van die grootste wynbedryf-kuiers van die dekade. Ek sit al weer hoog en droog in die Boland, maar is seker die Weskus Sauvignon Blanc vloei nogsteeds op Lambertsbaai!

Boomplantdag op Neethlingshof

Uncategorized No Comments »

Ek ry nou al vir ses jaar amper elke dag verby Neethlingshof. Die bordjie wat na die indrukwekkende laning dennebome wys, het in hierdie tyd baie keer die kragmeting teen my rubberarm oppad huis toe gewen – waarna ek gou “een of twee wyne gaan proe het”.

As ‘n laning wat uit ou bome bestaan, gate begin kry soos die windverwaaide reuse oor die jare wegkwyn, kan dit nie maklik vervang word nie. Dit was ook die geval by die laning wat lei na Neethlingshof se proelokaal, waar Sandra – die proelokaal se vriendelike matriarg – my gewoonlik ingewag het met ‘n glasie Cabernet Franc. ‘n Voordeel van hierdie proesessies was dat daar gewoonlik ‘n proebottel of wat beskikbaar was wat al mooi verouder het, terwyl die wynwinkel langs Sandra se gebied gereeld winskopies aangebied het. Ek onthou spesifiek magnum bottels 1989 Cabernet Sauvignon, wat teen minder as R100 verkoop het en my standaard sopie was totdat die rak leeggeloop het.

Toe ek onlangs weer die afdraai na Neethlingshof neem – die keer in ‘n werk-hoedanigheid vir die bekendstelling van hul nuwe wyne en etikette – het daar helder groen boompies in die ou reuse se gate gestaan. Ek het vroeg gegaan sodat ek vir Sandra kan groet en dalk oudergewoonte ‘n glasie Cabernet Franc wegsluk voor die amptelike verrigtinge afskop.

Die wynwinkel het my soos vroeër lank aan die rondsnuffel gehad, maar op die oog af het dit gelyk asof die dae wat Neethlingshof hul wyne vir my verouder, verby is. Enigiemand wat wyn bemark sal vir jou sê dat hierdie ‘n baie goeie teken is. Geen wynplaas wil sit op ou voorraad nie.

Dié landgoed het steeds ‘n beleid dat meeste van die rooiwyne eers 18 maande in die bottel lê, voordat dit op die mark uitgereik word. Maar anders as in die verlede is al die wyne wat nou verkoop word, gemaak deur wynmaker De Wet Viljoen.

Dié rustige reus sien heelwat simboliek in die nuwe denne  wat tussen die reuse staan. “Dit vat ‘n hele paar jaar vir daardie boompies om so groot te word soos hul gevestigde bure. Hierdie groen boompies is ‘n teken van die vertroue wat ons in die toekoms van hierdie landgoed het,” vertel hy.

Groen boompies is egter nie die enigste teken van vernuwing op Neethlingshof nie. Inteendeel – ‘n nuwe wynreeks is onlangs uitgereik, terwyl die etikette ‘n moderne swaai bygekry het en die proelokaal binnekort ‘n heel ander baadjie gaan aantrek.

Die nuwe reeks – The Short Story Collection – bestaan uit ‘n Bordeaux-styl versnit (The Caracal), Pinotage (The Owlpost) en ‘n Edellaatoes (Maria). Hierdie drie wyne vervang dus die ou Lord Neethling reeks, met die Caracal wat die plek inneem van die vlagskip-versnit, Laurentius.

Nuwe etikette beteken egter nie dat dit in die bottel ‘n algehele gedaanteverwisseling ondergaan het nie. Nee, die styl van veral die Caracal, is steeds klassiek en Europees. Hierdie rooikat rooi is ‘n versnit van Cabernet Sauvignon, Merlot en Cabernet Franc – en ek gaan myne vir ten minste 10 jaar wegsit.

Dieselfde geld vir die Owl Post, wat net soos die variëteit waarvan dit gemaak word, duidelik De Wet se oogappel is. Die wyn is pure Pinotage en het genoeg lyf om enige beesstert bredie aan tafel te vergesel.

Wingerd-ghoeroe, Eben Archer, het ‘n groot rol gespeel in die stories wat hierdie twee rooiwyne se etikette dra. Omgewingsvriendelike deklaagbeheer bring voëllewe – spesifiek tarentale – terug na die wingerde, terwyl hierdie weer rooikatte laat tuis (en versadig) voel. Die Owl Post storie handel oor kappe wat in die wingerde aangebring is om uilgetalle te laat styg en die minder welkom veldmuise in toom te hou.

Die moeder van die storiereeks is egter Maria – ‘n Weisser Riesling edellaatvrot. Hierdie taai soetetjie is afkomstig van ‘n wingerd wat perfek geleë is om die seemis tot vrot volmaaktheid te omskep. De Wet het by veral die Jongwynskou die afgelope paar jaar die trofeë met hierdie wyn laat inrol.

De Wet Viljoen en Eben Archer  

De Wet Viljoen en Eben Archer

 

Net soos wat my gunsteling wyn met die vorige etikette (die Cabernet Franc), nie een van die hoë profiel menere was nie, is die uitblinker van Neethlingshof se post-metamorfose skepsels een sonder ‘n storie of fancy etiket – die Malbec 2008. Dié rooi is ‘n elegante spogstuk, met ryp vruggeure wat harmonieus met subtiele speserygeure aangevul word. As ‘n eerste poging met Malbec as enkel-kultivarwyn, is dié wyn ‘n Neethlingshof vonds. Ek het klaar vir Sandra gesê dat sy in die vervolg maar die Malbec kan skink as ek by die nuwe proelokaal inkom. Hierdie groen boompie gaan nog ‘n reus word!   

 

Op julle merke, gereed, proe!

Uncategorized 2 Comments »

As daar in wynkringe gepraat word van dié groot stryd in die matieswynland, dink die meerderheid waarskynlik aan die Veritas Toekennings of Jongwynskou. ‘n Ander groot stryd wat nou ‘n wyn-element gaan bykry, is die eeue-oue stryd tussen Maties en Ikeys.

Ja, dit is nie asof Intervarsity nog nooit met wyn gepaard gegaan het nie. Inteendeel: ek dink Beyers Truter – studente gunsteling, Beyerskloof, se Pinotage-koning en ywerige rugbyondersteuner – glimlag breed as die UCT-busse op die N1 aangetoer en -toeter kom …

Die beoogde Wyn Intervarsity gaan egter ‘n meer ernstige aanslag hê en sal volgens die organiseerders bestaan uit ‘n wynproe, vasvra-kompetisie en uiteindelik  ‘n debat – met groot name wat reeds genoem is as beoordelaars van die laasgenoemde.

As oud-Matie kan ek sekerlik nie objektief voorspel wie die oorhand gaan kry nie, maar logika sê vir my dat die universiteit wat die land se wynmakers oplei, mos met toe oë (ja, die proe gaan blind wees) die stryd sal wen!

‘n Senuweeagtige oud-UCT’er, Backsberg se Simon Back – wat een van die dryfkragte van die projek is – het my vermoede bevestig: “Kyk, dié mense is gewoond aan Stellenbosch toe gaan vir wyn en ‘n hengse partytjie, maar of hulle ‘n koel klimaat Sauvignon sal kan uitken, is ‘n heel ander saak!”

Beide UCT en Maties het aktiewe wynverenigings asook koshuis wynklubs waaruit die wynspanne gekies kan word

Die Wyn Intervarsity gaan nie saamval met die rugby skouspel – wat in Mei deur die Maties gewen is – nie, maar sal waarskynlik gedurende die derde akademiese kwartaal plaasvind.

Finale datums en verdere gistings oor die intervarsity sal binnekort op WWW bekendgemaak word.       

Entries RSS Comments RSS Log in