deur Elona Nel
Ons almal wil ʼn huisie by die see hê … en ons eie wyn daarby, wou Koos Kombuis sekerlik gesing het. Tydens Paasnaweek by óns huisie by die see, het ʼn interessante bottel wyn se kurk gepop. Andrew Brown se droom om sy eie wyntjie te maak, is bewaarheid deur sy garagiste handelsmerk Companion Lane vanaf ʼn klein keldertjie by hul huis in Houtbaai.
Alhoewel hy aanvanklik van Gauteng afkomstig is, het hierdie nuwe Kapenaar sy eerste Shiraz in 2006 in sy motorhuis aanmekaar geslaan, waarna hy self ʼn klein kelder ontwerp en gebou het. Die druiwe is afkomstig van Hempies du Toit se plaas, Annandale, in Stellenbosch en ʼn klein mandjie pers word gebruik, waarna die wyn verouder in ouer vate. Weinige volumes wyn word geproduseer – die huidige 2007 oesjaar het slegs 300 bottels opgelewer.
‘Met die hand groot gemaak’, is hierdie wyn alles behalwe tingerig of skaam – luidrugtige geure strek vanaf donker, swart bessies en wit peper, tot soet tabak, rissies en pruime.
Dit gee ook ʼn nuwe betekenis aan family affair, met sy vrou en kinders wat as assistent wynmakers optree. Selfs ʼn familie erfstuk word ingespan as filter – nadat ʼn tee sif nie die ding wou doen nie, het Andrew se vrou besluit om haar bruid sluier te gebruik en hiérdie pienk gevlekte net is vanjaar vir die vyfde keer suksesvol ingespan – vanwaar sy Shiraz se naam, Bridal Veil.
Al is die wyn volrond met ʼn effense ‘hardehout’ karakter en ʼn alkohol van 15%, vloei hy glad en gemaklik. En hoewel dit maar ʼn klein, intieme besigheid is, sing die wyn ballades vir enige een wat wil luister – ʼn totale teenstelling van Koos Kombuis se aanvanklike metgesel, Oom Tas. Die struggle is verby Koos, tyd om op te gradeer na ietsie meer uniek en gepas vir jou huisie by die see.


Recent Comments