Dis anders om ’n wyntoer te doen saam met iemand wat nie elke dag in die wynlande rondry nie. Hulle sien ander dinge raak, vra ander vrae en merk goed op waaraan ons bedorwe Kapenaars reeds gewoond is.
Ek het oor die Desember vakansie in die Boland rondgetoer saam met my gunsteling noordelike stedeling en die geleentheid gehad om die hele proe-ervaring soos ’n toeris te beleef.
’n Ander groot verskil tussen die vakansiegangers se wyntoere en ons locals se retoere verby wynplase oppad na ’n braai, is dat die indruk wat plase op die besoeker maak, waarskynlik sy of haar wynverkope vir daardie hele jaar gaan beïnvloed. En dat die indrukke (goed of sleg) wat gemaak is nie sommer gou weer deur ’n volgende besoek verander gaan word nie.
Hier onder volg die laagtepunt en hoogtepunt van drie dae se kyk, ruik en spoeg (soms).
Hoe om nie ’n proe aan te bied nie
Edo: “Goeiemiddag.”
Die gesig van spog Franschhoek kelder: ”Tasting for two?”
Edo: “Dit gaan goed dankie.”
Die gesig van spog Franschhoek kelder: “Binne of buite?”
Edo: “Binne, dankie.”
Neem plekke in en wag 10 minute.
Die gesig van spog Franschhoek kelder plak ’n wynlys voor ons neer.
“Daar is net vyf wyne oop vandag. Hulle is gemerk op die lys.”
Edo: “Ons is eintlik hier vir die Syrah. Is daar nie ’n moontlikheid dat ons dit kan proe nie?”
Die gesig van spog Franschhoek kelder: “Ongelukkig nie. Ons maak net vyf wyne oop en vandag is die Cab van ons vlagskip-reeks oopgemaak. Ek bring vir julle van ons Krimpvarkie (skuilnaam) Sauvignon Blanc.”
Glase word geskink. Kyk, ruik, spoeg. Wag nog 10 minute.
Die gesig van spog Franschhoek kelder: “Die volgende wyne is van ons Wolfhond (skuilnaam) reeks, ek skink solank die wit.”
Glase word geskink. Kyk, ruik, spoeg. Duik amper die gesig van spog Franschhoek kelder om toe hy verby loop, voordat ons nog 10 minute
wag.
Edo: “Kan ons moontlik skip tot die Caramel Block (skuilnaam)? Ons is ongelukkig gedruk vir tyd (en geduld).”
Die gesig van spog Franschhoek kelder deel die laaste 10 ml in die bottel op tussen 2 glase.
“Ons maak beperkte voorraad hiervan.”
Edo: “Daar staan op die bottel hoeveel julle maak. Dis nie meer min nie.”
Stilte.
Wag nog 10 minute. Staan op en loop. Nie eers die heilige vlagskip sal nou meer lekker proe nie …

’n Trotse toonbeeld van briljantheid
La Motte was die algehele Suid-Afrikaanse wenner van die Great Wine Capitals (GWC) Best Of Wine Tourism Awards vir 2012 en het om hierdie rede ’n deel uitgemaak van my beplande roete. Dié spogplaas het absoluut bevestig dat dit hierdie toekenning verdien en veral die aandag wat aan fyner besonderhede gegee word, is iets wat ander kelders gerus aan kan aandag gee.
’n Voorbeeld hiervan was ’n varsgebakte broodjie wat saam met die wyne bedien word, eerder as die gebruiklike crackers. Die broodjie was nie ’n botter bom wat jou palet gaan omkrap of die aandag van die wyn sal af trek nie, maar ’n waardevolle toevoeging tot die algehele proe-ervaring.
Ander soortgelyke voorbeelde van spesiale touches is die kwaliteit van die glase waaruit mens proe, asook die netjiese voorkoms en onberispelike etiket van die personeel.
Soos wat mens kan aflei van die bogenoemde laagtepunt, het ek ’n broertjie dood aan proelokaal personeel, wat jou verwelkom deur A) Vir jou te noem dat jy net 5 wyne mag proe of B) dadelik aan te dui hoeveel dit kos om te proe.
Die kêrel wat ons bedien het, ene Janré, het begin deur homself voor te stel en op ’n subtiele en gesellige manier dit duidelik laat oorkom dat hy baie trots is om by La Motte te werk en dit boonop geniet.
Daar is diegene wat reken dat alle studente pas uit ’n naghool gekruip het en net by proelokale werk om skelm te drink, maar ek was self een van hierdie sogenaamde opportunistiese booswigte en geniet oor die algemeen die lewe wat hulle tot ’n proelokaal bydra.
By La Motte was die meeste van die proelokaal span op die oog af studente en mens kon hulle regtig almal deur ’n ring trek. Janré se beskrywings van die wyne was ’n goeie balans tussen dit wat hy van die proenotas af memoriseer en ’n oorspronklike bydrae, wat sy persoonlike mening van die wyn asook algemene terugvoer wat hy van besoekers ontvang, insluit.
Ek erken dat ek miskien ’n handvol kan wees as ’n kliënt – nie almal het drie glase nodig om die verskillende Shiraz-wyne en -versnitte te
vergelyk nie – maar by la Motte was hierdie versoeke gemaklik nagekom, sonder om dit te laat blyk asof hulle my ’n reuse guns doen.
Vir sulke goeie diens sal min mense kla oor ’n fooi van R30 en as jy wyn koop word hierdie ook gelas. (Hierdie slinkse opportunis het dus ’n bottel Sauvignon Blanc gekoop teen R60 om ons proefooi uit te skakel …) Al die wyne behalwe die Hanneli R, wat R807 kos, is beskikbaar om te proe en dit sluit ook die vlagskip Pierneef-reeks in.
Mens kan nie anders as om by La Motte weg te stap as ’n ambassadeur van dié plaas nie. Dit is duidelik dat daar heelwat geld spandeer is om die wêreldklas fasiliteite op te rig, maar die waarde van kliënte-ervarings moet ook nie onderskat word nie.
Recent Comments