Wat wil jy nog in ‘n wingerd doen?

Uncategorized 2 Comments »

Die bekende Britse wyntydskrif, Decanter, het in die Augustus-uitgawe ‘n artikel gehad oor 40 dinge wat elke wynliefhebber moet doen. Hoewel party van die voorstelle soos “Pick up fossels in a Chablis Grand Cru vineyard” of “Kangaroo-spotting in the Hunter Valley” vir ons aan die suidelike punt van Afrika ‘n raps buitensporig is, kan ons ‘n interessante Suid-Afrikaanse swaai aan meeste van die voorstelle gee.

Om wyn direk by die kelderdeur te koop (nr. 24) is vir heelwat Bolanders so gewoon soos om brood te koop by Spar, maar ander idees soos “Make love in a vineyard” (nr. 5) kan jou gedagtes nogal laat waai, terwyl ander waarhede soos “Learn to decant” (nr. 1) en “Drink your best bottles” (nr. 40) universeel van toepassing is.

Ek moet bieg, ek het al by ‘n hele paar prentjiemooi wingerde aan nr 5 gedink (let wel, net gedink…). Hier is Neethlingshof se uitkykpunt, Kanonkop se nuwe koppie-lapa en ‘n sekere Pinot Noir-blok by Muratie heel bo aan my lys!

 

 

Decanter stel ook voor dat jy wyn drink wat gemaak word van wingerde wat ouer is as jy (nr 35). Vir my is dit gelukkig nog nie eers ‘n groot uitdaging nie… Ek het immers nou die dag ‘n bottel Alto Cabernet saam met Hempies du Toit gedrink wat 20 jaar ouer is as ek!

Nog een van die aktiwiteite wat ek op die lysie kan afmerk, is om druiwe te eet in ‘n bekende wingerd (nr 16). Tydens my pars by Steenberg in 2007 kon ek blameer word vir ‘n laer Sauvignon Blanc Reserve oes, soos wat ek druiwe in blok 28 gesample het!

Hoewel nie almal die voorreg het om druiwe te gaan trap in Porto (nr 21)  nie, MOET alle ernstige wynliefhebbers op een of ander stadium druiwe trap. Amper elke wynfees wat naastenby rondom pars plaasvind, bied hierdie lawwigheid aan.

Gepraat van lawwighede – die fliek Sideways was die motivering vir nr 7: “Drink first growth from a plastic cup with take-aways.” Die naaste wat ek hieraan gekom het, was om Paul Sauer 2005 uit ‘n blikbeker te drink saam met braaivleis (jammer Abrie) en dit proe steeds net so lekker!

So, het jy al ooit aan nr 5 gedink? Waar? En indien nie, wat is jou Suid Afrikaanse wyn bucket list? Laat my weet!

Mens het nog nie druiwe gepars, voordat jy dit met die hand gedoen het nie!

Mens het nog nie druiwe gepars, voordat jy dit met die hand gedoen het nie!

’n Port-probleempie ná ete

Uncategorized 3 Comments »

’n Port-probleempie ná ete

 

As student het ek Muratie se proelokaal – ’n legendariese Stellenbosse wyn-bestemming – oor naweke en vakansies beman. My “kwota-kelkie” van die dag was meeste van die tyd ’n glasie Cape Ruby. Hierdie het koninklik gesmaak saam met tannie Annatjie Melck (die plaas se matriarg) se rum ‘n raisin roomys, wat ek agter uit die proelokaal se yskas gegaps het – maar dit was by die Calitzdorp Portfees wat ek die fyner kunsies en rol van port beter leer ken het en finaal in ’n port patriot verander is.dsc04932

Kaapse Wynmeester woelwater, Junel Vermeulen, was my partner in crime in Calitzdorp en het onder andere ’n paar kos en port-sessies, as De Krans se agent in Gauteng, aangebied.

Junel is uit daarop om port uit sy tradisionele oumense-se-nightcap-na-ete boksie te haal en sy veeldoeligheid op die voorgrond te plaas. En as ek dink aan hoe die Valies oor die kersseisoen bokse van die einste Muratie Ruby (“het julle nie dalk ’n soetetjie nie?”) weggedra het, is sy op die regte plek om port te verkoop!

Sy meen dat dit veral die restaurantbedryf is wat hul storie moet regkry om portverbruik op te stoot. “As mense ’n glas port by ’n restaurant bestel en dit geniet, sal hulle die naam onthou en later ’n bottel koop, maar wanneer laas het ’n kelner vir jou ’n glas port by ’n restaurant aangebied?” het sy by die Portdans bo die gedoef van die sokkie-treffers gevra.

Ek het hierdie sedertdien opgevolg, deur ná ek herstel het van my Fees-fortifikasie, altyd ’n glas port by restaurante te bestel. Hoewel ek nou en dan verras is met ’n keuse van ’n ruby, vintage of tawny – is die verskeidenheid gewoonlik maar yl.

Dit is dié dat ek ná ’n ete saam met Britse wynagente by ’n gesiene restaurant op Franschhoek (Suid-Afrika se ‘Kulinêre Hoofstad’), aangenaam verras was om van die room van Calitzdorp (Suid-Afrika se Port Hoofstad) – ’n Boplaas Vintage Reserve – teen ’n billike prys van R40 per glas op die lys te sien.

Die grasieuse langsteelglas het indrukwekkend tussen die tafels op die kelner se skinkbord uitgetoring en selfs ’n kop of wat laat draai op pad na my tafel. Ek kon nie wag om vir die Britte (wat goed vertroud is met die ware Jakob vanuit Portugal) te wys wat ons manne van die Klein Karoo kan vermag nie, maar mens kon sommer dadelik aan die baksteenrooi rand van die wyn sien dat hierdie nie was wat ek verwag (of bestel) het nie.

Nadat ek bevestig het dat die wyn heeltemal geoksideer was, het ek die kelner gevra of ek die wyn se etiket kan sien. Die bottel – met net ’n katspoegie bruin port wat in sy bodem rondplas – het nie so indrukwekkend op dieselfde skinkbord gelyk nie…

Dit was ’n bottel Boplaas Cape Ruby – ’n winskopie teen R38 per bottel (minder as my langsteelglas) by die proelokaal en ook ’n skitterende wyn, maar nie van dieselfde kaliber as sy oesjaar grootboet nie.

Die kelner het ook maar geuhm en ge-aah toe ek vra toe ek vra hoe lank die bottel al oop is en gerieflik haar skouers gelig en die man agter die kroegtoonbank gaan gevra. “Maybe two or three weeks,” was die antwoord.

Eerstens, moet mens appels met appels vergelyk: ‘n ruby is nie ’n oesjaarport nie. Tweedens, moet die oesjaar van ’n oesjaarport op die spyskaart verskyn – dit was nie die geval nie. Die Boplaas Cape Ruby was nie eers op die wynlys nie. Waar kom daardie bottel vandaan? En laastens, in teenstelling met wat die algemene indruk is, behoort ’n port nie vir drie weke nadat dit oopgemaak is, gehou te word nie. Tanige port (oftewel Tawny) het ’n lekker lang kroeg-rakleeftyd, maar veral ruby porte het nie.

Die kelner het nie eers geweet dat daar ’n verskil is tussen die style nie – en dít by ’n spogrestaurant! As my Britse gaste alleen daar was, sou hulle gedink het dit is hoe Suid-Afrika se top porte maar proe en daardie boodskap huis toe (die grootste portmark ter wêreld) neem. Die rippeleffek wat in ’n restaurant kan ontstaan (positief of negatief) moet nie onderskat word nie.

Die enigste manier om die portkennis en –verskeidenheid by ons restaurante te verbeter is om die goed te bestel. Word deel van die rippeleffek en bestel gerus volgende keer ’n “soetetjie”. 

*Hierdie blog is begin om interaktief en gesellig wynnuus oor te dra en konstruktiewe debat te bemoedig – nie om restaurante te krit nie. Alhoewel Boplaas en die betrokke restaurant van die probleem verwittig is, is die eetplek se naam doelbewus nie genoem nie.

Entries RSS Comments RSS Log in