Kwaliteit vlieg hoog by SAA

Reviews, What's Hot No Comments »

deur Elona Nel

Bongi Sodladla, John en Nellie Salvi, en Ashley Ramafoko - SAA se logistieke bestuurder.

Hierdie jaar se drie-dae lange proe-proses vir die SAA Wynseleksie is afgehandel en tydens ʼn simposium by Nederburg het die paneellede die ongeveer 1 000 wyne wat ingeskryf is, meestal hoog geag. Bekende Franse wyn-fundi en MW van Bordeaux, John Salvi, vertel dat hy selfs ʼn spesifieke Kaapse versnit bó sommige Bordeaux-tipes verkies het.

SAA se kos- en drankbestuurder, sowel as senior sommelier, Bongi Sodladla, verduidelik ook dat gewigsbeperkings by die lugdiens steeds streng is en dat hulle juis op die uitkyk is vir ligter bottels, soos ligte glas of PET. Hoewel daar ʼn paar sulke inskrywings was, hoop hulle om in die toekoms meer in hierdie klas te kry. In die geheel het paneellede ook baie maal witwyne in PET-bottels hoog en soms selfs hoër as dié in glasbottels bepunt.

John se vrou Nellie Salvi, Franse wynkenner maar gebore Suid-Afrikaner, ag die Chardonnays wat ingeskryf is baie hoog – veral dié wat in ʼn ongehoute styl gemaak is. Daar is meer vrug as wat sy verwag het, met ʼn verskeidenheid van style wat energiek en vars vertoon.

Die Bergkelder se keldermeester en verlede jaar se Vroue Wynmaker van die Jaar, Andrea Freeborough, vertel dat alhoewel die 2011-oesjaar moeilik was vir Sauvignon Blanc, daar baie goeie voorbeelde is. ʼn Paar was wel effens te fenolies, maar die meeste het ʼn goeie balans van groen en tropiese geure. Organiseerder Bennie Howard lig ook uit dat 88% van vanjaar se Sauvignons onder skroefdop gebotteleer is, teenoor 25% drie jaar gelede. “Daar was ook baie min wyne met TCA, oftewel kurk en wangeure – definitief ʼn verbetering op vorige jare.”

Chenin Blanc het vanjaar sy eie kategorie gekry en is volgens Southern Sun se hoof sommelier, Miguel Chan, beskryf as vars en skoon wyne, met minder hout en residuele suiker as vantevore. John beaam dat daar oor die algemeen baie goeie hout-integrasie in die wyne is, ook wat die Bordeaux-styl Versnit- en Merlot-kategorieë betref. Hy lig verder uit dat Suid-Afrikaanse Merlot meer gestruktureerd is as dié in Bordeaux, maar met minder vrug. Vanweë dié goeie struktuur raak die wyne dus soms austere en benodig dit daardie vrugkarakter om hulle sagter te laat vertoon.

Volgens Stellekaya se wynmaker, Ntsiki Biyela, toon die Pinotages vanjaar ook goeie struktuur en het dié wyne definitief gegroei en verbeter. Sommige van die 2010 en 2011 wyne het egter volgens haar effens te veel hout op, wat die variëteitskarakter oorskadu.

Hoewel daar aansienlik minder Sémillon vanjaar ingeskryf is – volgens Bennie ʼn jammerte, aangesien SAA al vantevore van hierdie wyne gekies het – het ander rooi kultivar-wyne soos Mourvèdre, Petit Verdot en Cabernet Franc goed vertoon. Die klein, maar indrukwekkende Pinot Noir-kategorie het volgens Miguel ook baie verbeter en die produsente het weg beweeg van oorgeëkstraheerde wyne, na dié met vars en elegante geure en goed geïntegreerde hout.

In geheel is die terugvoer en SAA se houding teenoor vanjaar se wyne baie positief – met ʼn paar punte waarop produsente kan let en leer vir volgende jaar. Net jammer dat hierdie terugvoersessie, soos ook ervaar word by dié van sommige ander skoue vroeër vanjaar, deur slegs ʼn handjievol produsente bygewoon is.

Wedloop van die wynwyfies

Uncategorized 5 Comments »

wynchick

 Sedert die ontstaan van Landbouweekblad se Vroue Wynmaker van die Jaar-kompetisie, het die tonge geklap oor dié skoner-geslag-stryd en is die vraag of vroue wynmakers nie met die mans kan meeding nie, gereeld geopper.

Dié kompetisie word vanjaar vir die sesde keer aangebied – met inskrywings, belangstelling en blootstelling – hetsy positief of negatief – wat gedurende hierdie tydperk aansienlik geklim het.

Vorige wenners soos Simonsig se Debbie Thompson en Erika Obermeyer van Graham Beck – beide wynmakers wat benewens Landbouweekblad se titel voortdurend die pryse laat inrol – het ook veroorsaak dat hierdie wedloop-van-die-wyndivas nou seker meer geloofwaardig is as ooit tevore.

’n Handjievol vrouens (nogal) wat betrokke is in die bedryf, se gesprek oor die kompetisie by ’n ander wynaffêre, het my egter van vooraf weer laat wonder oor die meriete van ’n slegs-vroue wynkompetisie.

Die ou redenasie dat vrouens nie weens hul geslag anders as mans gemeet behoort te word – soos byvoorbeeld in atletiek – nie, het die ruggraat van die geklets gevorm.

In ’n kultuur waar gelykheid die norm eerder as die ideaal word, het van die wynwyfies dit selfs as ’n klap in die gesig gesien dat so ’n kompetisie bestaan. “Kan jy dink watse herrie sal losbreek as daar ’n swart wynmaker van die jaar-kompetisie is? Die organiseerders sal uitgejou word as ’n spul rassiste. Hoe verskil dit nou eintlik van ’n vroue wynmaker van die jaar-kompetisie?” was een se kommentaar.

Vanjaar se finaliste – wat onlangs bekendgemaak is – het hoeka ’n besonder polities korrekte samestelling getoon … Hierdie finaliste is Danelle van Rensburg (Van Loveren), Ntsiki Biyela (Stellekaya), Carmen Stevens (Amani), Corlea Fourie (Bosman Family Vineyards), Corrien Geleijnse (Swartland Cellar) en Nomonde Kubheka (KWV).

Ek het egter nie eintlik pyne met die feit dat die kompetisie net op vrouens gemik is nie – daar is immers ander soortgelyke internasionale voorbeelde soos die VSA se National Woman’s Wine Competition en die Women Winemakers Challenge – maar die prosedure waarvolgens wenners gekies word, is wel vir my ’n redelike kopkrapper.

Kom ons neem vanjaar se inskrywings as voorbeeld: Daar is 64 wyne deur 28 wynmakers ingeskryf. Uit hierdie wyne het die (slegs vroulike) beoordelaars ses wyne gekies – en hiermee het die wynmakers as finaliste gekwalifiseer. En hier begin die sports!

Die ses finaliste word dan (baie soortgelyk aan die finaliste by Mej Vleisfees in Calvinia) deur die beoordelaars gepeper met vrae. Hierdie vrae handel hoofsaaklik oor die wynbedryf en die rede wat hiervoor aangevoer word, is dat die wenner (weer eens amper soos Mej Vleisfees) ’n goeie verteenwoordiger vir die bedryf moet wees.

Die organiseerder van die kompetisie, Lorraine Immelman-Steyn, noem dat die groeiende aantal inskrywings ’n bewys is dat vrouens nou behoorlik ingemessel is in die bedryf – wat voorheen deur mans oorheers is.

Dis alles goed, wel en waar, maar waar is die verteenwoordigende vrouens dan in die Diners Club Wynmaker van die Jaar-kompetisie (waar daar 10 jaar laas ‘n vroue wenner was) of Kaapse Wynmakersgilde, wat nie ‘n vroulike lid het nie?

Waar vorige wenners bederf is met ’n toer na Frankryk, om van die wêreld se bekendste wyne daar te proe, stap vanjaar se wenner onder andere weg met ’n kontantprys en ’n pamperlangsessie by Lanzerac se spa – weer eens, baie soortgelyk aan Mej Vleisfees.

 

Entries RSS Comments RSS Log in