deur Edo Heyns
Gistermiddag was ek by ’n proe waar die begroting van die wyne oorskry is om ’n spesiale wyn te koop. Wynpryse was toe in die kollig, aangesien die verskil tussen die goedkoopste en duurste wyn ’n paar honderd rand was.
Een van die waarde-vir-geld nommers het verras deur uit te staan in uitgelese en veel duurder geselskap. Hartenberg se The Doorkeeper Shiraz
2010 kos ’n skamele R70, maar het die guts van iets wat jou gewoonlik heelwat meer uit die sak jaag.
Dit beïndruk onmiddellik met ’n diep, intense pers-swart kleur en ’n neus van donker vrug en speserye, maar kom veral op die palet tot sy reg. Hier is die konsentrasie van vrugtegeur en goeie struktuur besonders opvallend, met ’n kompleksiteit van donkersjokolade.
Hartenberg het oor die jare sy plek ingeneem as Stellenbosch se Shiraz-spesialis en spog nou met vier van hierdie wyne – wat elkeen ’n unieke styl ten toon stel.
Die vlagskip Gravel Hill 2007 verweef op ’n unieke manier elegansie en brute Shiraz-krag, maar het ’n ewe kragtige prys van R675.
Hul bekende The Stork Shiraz 2007 herinner aan die Aussie speserybomme en troon ook gereeld uit in kompetisies. Hierdie een kos R380 – ook nie kleingeld nie.
Die ‘standaard’ Hartenberg Shiraz is alles behalwe ’n standaard wyn en is die mees vrugtige van die lot – met veral sappige moerbei gewoonlik aan die voortou. Die 2007-oesjaar word tans verkoop.
Dit is ’n ervaring om hierdie wyne langs mekaar te proe, maar een wat ook die gemiddelde wynproeër se begroting oorskry. Die Stork en Gravel Hill word net op spesiale versoek by die proelokaal oopgemaak, maar al die wyne behoort ook hul verskyning te maak by Hartenberg se Shiraz & Charcuterie-fees, wat 2 Junie by hierdie plaas aangebied word.


Recent Comments