Articles
March 2010
Wineland Magazine - General
Groot deurbraak in fitoplasma vraagstuk
’n Soort blaarspringer – ’n klein sprinkaanagtige insek met die wetenskaplike naam Mgenia fuscovaria – tree op as ’n vektor in die verspreiding van Astervergeling (fitoplasma) in die Vredendal gebied – waar dié wingerdsiekte twee jaar gelede vir die eerste keer geïdentifiseer is.
BOGENOEMDE is onlangs by die European Co-operation in Science and Technology kongres in Spanje deur Dr Kers tin Krüger (Universiteit van Pretoria) bekendgemaak, nadat verskeie plaaslike deskundiges ’n rol ge speel het in die navorsing om hier die verwantskap te bewys. Daar is sedert einde 2009 kwarantynmaatreëls vir die Vredendal- en Wabooms-riviergebiede ingestel, om verdere verspreiding van dié siekte te voorkom. (Sien WynLand September 2009).Hoewel fitoplasma ook in die Waboomsriviergebied voorkom, is hierdie navorsing grootliks in die Vredendal-omgewing ge doen – veral omdat die omvang van die siekte groter is by laasgenoemde.’n PhD-student van die Universiteit van Pretoria (UP), Nicoleen Douglas-Smit, wat die oordrag van fitoplasmas deur blaarspringers in Vredendal ondersoek het, verduidelik dat aanvanklike aannames gegrond was op navorsing uit Europa, waar blaarspringers ook as vektore optree vir fitoplasmas. Me Douglas-Smit word befonds deur die UP, Winetech, Deciduous Fruit Producers Trust (DFTP) en die Technology and Human Resources for Industry Programme (ThRIP).
Sy het in ’n onderhoud met WynLand tydens ’n onlangse besoek aan die gebied gesê: “Die blaarspringers in Europa – wat twee soorte Astervergeling in wingerd oordra – verskil egter heelwat van ons inheemse blaarspringerspesies. Verder verskil die fito plasma sélf ook van dié in Europa. Aangesien fitoplasmas baie vektorspesifiek is, was deeglike navorsing onder plaaslike toestande onontbeerlik.”Met nuut aangeplante wingerdblokke wat so kort as twee maande ná aanplanting reeds fitoplasmasimptome begin wys het en verskeie blokke wat reeds weens dié siekte vernietig is, was tyd ook nie aan die navorsers se kant nie.
Dr André de Klerk – vorige hoof van Plantbeskerming by Nietvoorbij – vertel egter dat daar uitstekende vordering gemaak is oor ’n tydperk van slegs twee seisoene. Hy was veral betrokke by die insameling van insekte om te bepaal watter blaarspringers in die wingerde voorkom.
“Hoewel daar gereeld monsters van vyf genera van blaarspringers ingesamel is, kom daar sowat 20 spesies in die wingerde, sowel as onkruide, van die Vredendal-omgewing voor,” verduidelik De Klerk.
Hy het ’n apparaat wat bestaan uit ’n ruggemonteerde grassnyerenjin en ’n inseksuigpyp, wat destyds deur Nietvoorbij vanaf Kalifornië ingevoer is, vir hierdie insameling gebruik. Hierna is die insekte onder ’n mikroskoop van ander materiaal geskei, waarna dit na nog ’n spesialis, Michael Stiller van die LNR in Pretoria, gestuur is vir spesie-identifikasie.
Mandi Engelbrecht, ’n nagraadse student aan die Universiteit van Stellenbosch se Genetika Departement, het bepaal dat die fitoplasma bakterieë in twee van die blaarspringerspesies se spysverteringskanale voorkom. Die volgende stap was om vas te stel of die insekte wat met fitoplasma geïnfekteer is, dit dan na wingerd kon oor dra.
Douglas-Smit het hierdie oordragstudies – wat uiteindelik bevestig het dat spesifiek Mgenia fuscovaria as vektor optree – behartig.
Dr De Klerk verduidelik dat, hoewel daar nog heelwat navorsing oor die verspreiding van fitoplasma voorlê, daar nou ’n goeie basis is om vanaf te werk. “Sodra jy weet waarmee jy te doene het, kan jy jou insette konsentreer met verdere ondersoeke.”VinPro se wingerdkundige konsultant vir die Vredendal-omgewing, Jeff Joubert, het ’n groot rol gespeel in die aanvanklike identifisering van die siekte in dié gebied. Met ’n oorvloed van ervaring van wingerdbou in hierdie omgewing en daaglikse kontak met produsente, is Jeff ook deur die navorsers ingespan om op grondvlak simptome uit te ken en inligting in te samel.
Onder: Nicoleen Douglas-Smit op die spoor van die blaarspringer-sondaars. Foto: ThRIP
Hy verduidelik dat die beheermaatreëls wat tans toegepas word om verdere verspreiding te voorkom, die afsaag van besmette stokgedeeltes en die verwydering van tussenrygewasse soos groentes en onkruide insluit.
“Daar kan nie onoordeelkundig vir fitoplasma gespuit word nie. Dit kan later witluisprobleme veroorsaak as die insekdoders die voordelige witluis predatore uitwis. Daar is ook geen plaaslike bewyse dat die beskikbare middels effektief is vir die bestryding van blaarspringers nie.
In die buiteland word onder andere Chlorpyrifos en Endosulfan (wat versprei word onder verskeie handelsmerke) vir vektorbeheer vir fitoplasmas aangewend. Hiervan is slegs Endosulfan plaaslik geregistreer vir die bestryding van blaarspringers.
Daar is met die spoedige ingrype van Wes-Kaapse Minister van Landbou, Gerrit van Rensburg, in die Waboomsriviervallei ’n vergunning gemaak om Chlorpyrifos – ’n kontakinsekdoder – te gebruik teen blaarspringers vir die beheer van fitoplasma. Dit wil voorkom asof die verspreiding van die fitoplasma in hierdie area onder beheer is.
Die residuvlakke van Chrorpyrifos word tans deur ’n chemiese maatskappy ondersoek om sekere registrasieaanpassings indien nodig te maak.
Dr De Klerk stem saam met Joubert dat daar versigtig opgetree moet word met chemiese beheer. Hy is egter besig om verskillende middels – beide sistemies en kontak – vir die bestryding van die vektor van die fitoplasma te evalueer.
“Insekdodende middels is gevaarlik wanneer dit aangewend word op insekte waarvan die lewensiklus nog nie behoorlik ondersoek is nie. Daar is ook op hierdie stadium geen wyse van biologiese beheer nie. Noudat die vektor bekend is, kan omgewingsvriendelike ’nuwe chemie’ ondersoek word as alternatief,” verduidelik De Klerk.
Volgens hom is die kanse, anders as in die geval van witluis, skraal dat insekte vinnig vanaf Vredendal na ander wynstreke kan verspei.“Blaarspringers voed op blare, sal nie maklik met die vervoer van druiwe versprei word nie en sal nog minder die parsproses kan oorleef. Alhoewel hulle baie klein is en redelik ver deur die wind versprei kan word, is hierdie meer relevant vir omliggende bure as vir die produsente in ander streke. Dit is egter nog ’n rede waarom die insek se volledige lewensiklus ondersoek behoort te word,” beklemtoon De Klerk.

Groot deurbraak in fitoplasma vraagstuk






