Een van die grootste geeste in die Suid-Afrikaanse wynbedryf, Beyers Truter, het by ‘n Beyerskloof-proe wat ek as student bygewoon het, beklemtoon dat niemand ooit sal groter wees as die bedryf of die produk wat hy lewer nie.

In dié tyd wat ons die 350ste bestaansjaar van Suid-Afrikaanse wyn vier, was daar verskeie geleenthede wat Beyers se woorde onderstreep het – en ‘n salige nederige gevoel in jou binnegoed wek.

Een so funksie was gereël deur Meerendal bemarker, Bennie Howard, wat self al diep spore getrap het. Nou, waar daar iets genoem word van die 350-viering, is die kans goed dat daar ‘n Bennie-aanhaling of ‘n grys baardjie iewers op ‘n foto daarmee saamgaan. Dié man het omtrent hierdie mylpaal viering ter harte geneem.

Meerendal se makietie het gedraai rondom die aanplanting van 350 pinotage stokkies, waarvan die plantmateriaal afkomstig is van die wingerd waarvan dié plaas se Heritage Block Pinotage geproduseer word. Elke stokkie is geplant deur iemand wat op een of ander wyse ‘n bydrae tot die wynbedryf gemaak het. En terwyl ek so rond kyk het na bekende gesigte soos dié van hardebaarde (letterlik en figuurlik) Duimpie Bayly en Dave Hughes, besef ek net weer hoe waardevol sulke persoonlikhede vir die bedryf is – en dat dit die manne is wat die diepste spore getrap het, wat met die grootste entoesiasme die jonger generasie dophou.

lsquo;n Ander geleentheid wat selfs nóg meer ‘n blywende indruk gemaak het, was ‘n gesellige kuier op Annandale, waar Hempies du Toit saam met sy ouers, Piet en Edna, ‘n paar ou kurke vir hul gaste getrek het. Kyk, dis geen geheim dat ek maar nog bloot ‘n botsel op die bedryf se 350-jarige kordon is nie, maar wanneer jy Cab drink wat 20 jaar ouer is as jy, saam met legendes soos Georgio Dalla, Hempies en die man wat die wyndeure na Swede vir Suid-Afrika oopgeskop het – Janake Johanson – kry die diepte van hierdie wingerdstok se wortelstelsel nuwe betekenis. Piet du Toit het in die 1960s Alto in die kollig geplaas met die klassieke rooiwyne wat hy hier geproduseer het en sy seun Hempies het so tussendeur die losgemale en plettervatte (hy het vir die Springbokke in die voorry gesak) by sy pa die fyner kunsies van wynmaak aangeleer.

Dié pa-en-seun-span het in die einde 1970s en 1980s saam by Alto wyngemaak, waartydens Hempies stelselmatig die leisels oorgeneem het. Hy was op die ou einde vir 25 parse hier betrokke, totdat hy in 2000 by Annandale die Du Toits se wynerfenis voortgesit het.

Hempies, Piet en Edna du Toit

Hempies, Piet en Edna du Toit

Dié voorryman is old school in sy benadering tot wynmaak en erken dat hy nooit een sal wees vir “snaakse goed” soos stawe nie. “Kyk, ons het destyds nie eers stainless steel tenke gehad nie – alles was groot vate,” vertel hy.

Kompetisies staan hom ook nie aan nie – hy het net vir twee kompetisies ingeskryf en dit lyk nie asof daardie syfer gaan klim nie. In ‘n mark waar wyne al hoe meer gemaak word om vroeg te drink, sal Hempies nie Cabernet Sauvignon verkoop wat jonger as ses jaar is nie – iets wat nie so vreemd is as mens in gedagte hou dat dié wyne van hom ses jaar in vate spandeer nie.  Hierdie Du Toit-wyne is gemaak om te verouder en wat is ‘n beter bewys hiervan as ‘n proe met menére soos die 1979 Alto Rouge en die 1984, 1975, 1971 en 1965 oesjare van die Alto Cabernet Sauvignon Nou, ek het nog nie baie sulke ou wyne gedrink nie en het nog minder daardie wyne in hul jeug ervaar, maar die opvallende vars vrug op hierdie rooies, laat baie wyne met meer onlangse jaartalle op hul etikette oor die muur lyk.

Daar is natuurlik diegene wat reken dat Hempies vasgehaak het in ‘n vorige era (hy het immers onlangs ‘n Cinsaut/Shiraz/Cabernet-versnit met die naam Nostalgia uitgereik), maar as daar gepraat word van nuwe gisrasse, breimiddels, houtprodukte en volksvreemde tegnologie, herinner Hempies jou: “Die kuns van wynmaak lê op die ou einde steeds in die eenvoud daarvan.

You may like to read these:

Go Back
Shares