Daar’s diegene wat na die lede van die Kaapse Wynmakers Gilde verwys as die bedryf se bloubloed broederskap. Hierdie room van die wynbedryf word uitgeken aan hul voorskootunivorms, terwyl die stories selfs lui dat hulle ’n geheime handdruk het wat elke keer verander word as lede van dié hegte groep “ontslaan” word.

Die groot koper: Alan Pick

Die groot koper: Alan Pick

Wat 27 jaar terug begin het as ’n samekoms van ’n paar Bolandse grootkanonne, het ontwikkel tot ’n uiters suksesvolle handelsmerk waaronder dié 39 uitverkorenes wynmaak.

Met die Cape Winemakers Guild (CWG) veiling wat ’n somtotaal van R5 204 400 opgelewer het te midde van ekonomiese klipkoutye is een ding egter seker: dié bloubloed bende mag maar! Hierdie veiling is sonder twyfel een van my persoonlike hoogtepunte op die wynkalender en hoewel dié gilde nie vry is van politiek nie, styg die prestasies en kwaliteit van die wyne wat hulle oplewer uit bo die geklets van kritici – wat waarskynlik soms spruit uit suur druiwe. Die 39 uitgesoekte wyne se lof is besing by die verskeie proeë wat voor die veiling aangebied is, maar tekens van die resessie se houvas het wel soms hoop op rekordpryse voor die 25ste veiling gedemp.

Selfs ’n paar van die lede het kort na die Nederburg veiling, waar die hamer nie heeltemal op die kop geslaan is nie, gewonder of die CWG-veiling nie dalk ook dieselfde paadjie gaan stap nie – veral met gerugte dat vleisman Alan Pick nie weer sy nommer so vrylik gaan lig nie. Dié Butcher Shop & Grill eienaar was egter vir die agtste keer in ’n ry die top koper en het veral verbasend baie witwyn gekoop (daar’s mos al hoe meer wat reken dat gehoute wittes hul man kan staan saam met rooivleis en veral fillet. Neigings in die wynstyle wat dié gilde-boys na die tafel bring – en die pryse wat dit haal – is ook iets wat maar noukeurig dopgehou kan word. Cabernet Sauvignon het veld gewen teen die huidige bedryfoogappel, Shiraz, met vier van hierdie wyne wat vanjaar opgeveil is in vergelyking met 2008 se twee pogings. Soos verlede jaar is daar vier Shiraz wyne opgeveil. Aan die wit kant was Sémillon – in beide droë- en edellaatvorme – goed verteenwoordig deur twee droë witwyne, een Sémillon-gebaseerde versnit en twee edellaatoes nommers. Veral die laasgenoemde het die bieërs aan die gang gehad, met Adi Badenhorst se Kalmoesfontein Sémillon wat die hoogste prys vir ’n witwyn behaal het.

Hierdie is duidelik ook ’n span familievaste kêrels: Adi het dan selfs getrou met ’n mede-lid (hardebaard Jan Boland Coetzee) se dogter … Wyn loop so dik in dié man se are dat Jan se kleindogter se middelnaam blykbaar Kalander heet. Net so is daar heelwat van die lede wie se seuns nou saam met hulle werk aan die gildeskeppings. Hierdie sluit Danie Steytler (Kaapzicht), Beyers Truter (Beyerskloof), Etienne le Riche (Le Riche), Braam van Velden (Overgaauw) en Neil Ellis (Neil Ellis) in, terwyl Carel Nel (Boplaas) se dogter, Margaux, ook al by dié Calitzdorpse kelder ingeval het. (Kom ons hoop dat laasgenoemde ’n teken is dat daar een van die dae ’n girl oorweeg word om by die boys aan te sluit …)

Luddite se Niels Verburg is ook al bekend daarvoor dat hy sy wyne vernoem na sy seun se sêgoed. Verlede jaar se Shiraz/Cab versnit was Wild Hoar gedoop nadat dié laaitie “wild boar” iewers in die wildernis verkeerd uitgespreek het!

Moenie ’n fout maak nie, dié manne se bemarking-savvy – veral met sulke staaltjies en grappies op die gildepodium, waar die lede hul wyne voorlê – is net so skerp soos hul wynmaakvermoëns. Veral Beyers se geklets het ook vir seker sy gebruiklike Pinotage en Pinotage-versnit se pryse opgejaag. Nadat ’n paar van die bendelede by ’n proe Vrydagaand voor die veiling verwys het na hul kontakte en ervarings in Frankryk, het Beyers in sy eie Engels vertel dat hy dit verkies om Portugal toe gaan, omdat die mense hom daar as een van hulle aanvaar. Soos wat meestal die geval is wanneer hy ’n gehoor toespreek, het ’n skaterlag uitgebreek – terwyl hy die muntstukke hoor val.

Beyers se opvolger by Kanonkop, Abrie Beeslaar, is die nuutste om die gildehanddruk aan te leer. Hoewel hy nie vanjaar ’n wyn op die veiling gehad het nie, is hierdie wêreld- wynmaker van die jaar en ander nuwelinge soos Duncan Savage (Cape Point Vineyards) en Dewaldt Heyns (Saronsberg), bewyse van hoe die CWG van krag tot krag gaan.

Soos voorsitter Johan Malan vertel het dat die wyne se standaard jaarliks styg, word die bekendes op die gilde se naamrol óók net meer indrukwekkend. Met sulke bloubloed slaan die gilde oudergewoonte die spyker op die kop.

You may like to read these:

Go Back
Shares