Die gety is besig om te draai en die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf bly herstel van die pandemie in 2022 en midde-in ‘n ingeperkte omgewing. Dít volgens die jongste Agricultural Outlook Report 2023-2032 van die inligtingsorganisasie sonder winsbejag, die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP).
Die oppervlakte onder wyndruiwe het in 2022 vir die eerste keer sedert 1998 onder 90 000 hektaar gedaal. Dit is te wyte aan ’n siklus van ver ondergemiddelde opbrengs op belegging vir produsente, met slegs 12% wat volhoubaar is, 49% wat lae wins maak of skaars gelykbreek en ’n onrusbarende 39% wat verlies lei. Daar word egter verwag dat hierdie daling in area onder wyndruiwe teen 2025 sal ophou soos pryse reageer op laer volumes in die mark.
Voorraadvlakke, wat in 2020 en 2021 skerp gestyg het weens ‘n gebrek aan handel tydens die COVID-19-alkoholverbod en ontwrigtings, het sedertdien weer aansienlik gedaal tot ’n aanvaarbare vlak in 2022. Te midde van voortdurende pogings om voorraad uit te kry en die mark te herbalanseer, is ’n veel groter as ideale gedeelte in 2022 in grootmaat uitgevoer, insluitende wyn vir ander doeleindes.
Terwyl binnelandse verbruik in 2022 herstel het tot vlakke soortgelyk aan 2017, bly die mark bedruk vanuit ’n waardeperspektief weens die druk op verbruikersbesteding. Volgens verwagting sal plaaslike wynverkope grootliks oorheers word deur lae- en intreevlakpryswyne, met ’n mate van beweging na die hoërwaardekategorieë.
Wynverkope is die afgelope jaar deur vele uitdagings belemmer, insluitende die hoë inflasie wêreldwyd, die energiekrisis wat uit die konflik in Oekraïne voortgespruit het, én die voortgesette ontwrigting van globale voorsieningskettings. Die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf word verder gekniehalter deur faktore soos beurtkrag, hoë insetkoste, beperkte staatsondersteuning en ondoeltreffende hawebedrywighede, terwyl dit in ’n onsekere globale mark probeer meeding. Verder bring die vraag van verbruikers in ’n post-pandemiese inflasionêre omgewing verdere heterogeniteit tot wynverbruiksgedrag regoor die wêreld.
Handel met Europa – die VK, die EU en nie-EU-lande – sal waarskynlik afneem namate produksievolumes na verwagting inkrimp, wat plaaslik tot hoër pryse sal lei. Beide 2021 en 2022 het ook ’n rekord uitvoerinkomste in randterme opgelewer, grootliks weens wisselkoersbewegings en beslissende optrede om voorraadvlakke te verminder.
“Ons fokus oor die afgelope paar jaar en vorentoe is om premiumisering van Suid-Afrikaanse wyn aan te moedig en om seker te maak dat ons wyn wêreldwyd gesien word as premium kwaliteit, opwindend en eiesoortig,” sê Siobhan Thompson, Wines of South Africa-bestuurshoof.
Die groei in die premiumkategorieë dui op ’n belangrike positiewe tendens in die plaaslike mark, met ’n bereidwilligheid om meer vir wyn te betaal. Terwyl premiumpryswyne 17% uitgemaak het van die wyn wat in 2022 gekategoriseer is, word verwag dat hierdie proporsie teen 2032 tot 20% van binnelandse verbruik sal styg. Gegewe die hoër geprojekteerde pryse weens ’n moontlike afname in produksievolume – dus kleiner volumes beskikbaar vir uitvoer – moet die bedryf sterk fokus op hoër opbrengste per eenheid van verkope.
Dieselfde wisselkoersbewegings wat uitvoeropbrengste in 2021 en 2022 bevoordeel het, het egter ook stygings in insetkoste in druiweproduksie vererger en die bedryf het voortgegaan om meer wingerde uit te kap as wat dit gedurende die jaar aangeplant het. Tensy plaashek-opbrengs verbeter, sal wyndruifprodusente wat nie vertikaal in die waardeketting geïntegreer is nie, voortgaan om sonder vervanging uit te kap, verouderende wingerde te vervang met hoër-opbrengs kultivars, en/of geleenthede te ondersoek om vertikaal buite die plaashek te integreer.
“Hoewel hierdie voorspelling steeds ’n uitdagende tyd vir wyn- en brandewynprodusente voorsien, bied dit ook ’n geleentheid en is dit ’n wekroep aan alle produsente om kennis te neem en daarvolgens te beplan,” sê Rico Basson, bestuurshoof van die nuutgestigte bedryfsliggaam, South Africa Wine. “Die gety is besig om te draai, en dinge begin beter lyk vir ons bedryf.
“Terwyl produsente dalk meer versigtig is om oornag op prysstimuli te reageer, gegewe die aantal uitdagings wat hulle die afgelope paar jaar in die gesig gestaar het, en op die rug van baie strukturele uitdagings oor die afgelope twee dekades, behoort die herstel van wynpryse tot hoër druifpryse te lei wat weer herinvestering in wingerdaanplantings tot gevolg sal hê,” sê Dr Tracy Davids van BFAP. “Aangesien voorraadvlakke na verwagting onder historiese langtermyngemiddeldes sal daal, kan die styging in nominale pryse, tesame met die toename in plaasvlakrisiko’s in sommige van die vrugtebedrywe, ’n selektiewe swaai terug gee na wyndruiwe.”
“Die Suid-Afrikaanse wyn- en brandewynbedryf moet hierdie vooruitsig gebruik as ’n geleentheid om groter waarde vir die bedryf met die regte produk te ontsluit,” aldus Basson. “Dit is nou die tyd om langtermyn-sakevennote te identifiseer, beleggings te lok, verbeterde gebottelde- en grootmaatwynpryse te prioritiseer, en ons herposisionering van premiumisering vol te hou en daarop voort te bou tot voordeel van die hele wyn- en brandewynwaardeketting,” het Basson afgesluit.
Dr Kandas Cloete van BFAP stem saam. “Die volhoubaarheid van die bedryf hou breë sosio-ekonomiese voordele in. Die wynbedryf dra aansienlik by tot die Wes-Kaapse ekonomie en bly een van die hoekstene van tuinbouhandel. Aan die sosiale kant het dit ook van die grootste vermenigvuldigers in die landbousektor met sowat 10 werksgeleenthede buite die plaas vir elke werk op die plaas. Gevolglik sal die aansporing van die produsente van die 90 000 hektaar wyndruiwe om operasioneel te bly meer as 270 000 werksgeleenthede en meer as ’n miljoen afhanklikes volhoubaar ondersteun.”
-EINDE-
Uitgereik deur: South Africa Wine
Media navrae: Wanda Augustyn
Kommunikasie & Handelsmerkbestuurder
wanda@sawine.co.za
021 276 0463