Hier geld ander reëls

by | Jan 18, 2016 | Business and Marketing

Markte in Asië hou enorme geleenthede in, maar moenie dink dit is eenvoudig nie.

Oliver Kirsten van The Grape Grinder het dit miskien die beste gestel: “Het jy gesien hoeveel horlosie-advertensies daar in Hongkong en Sjanghai is? Met die koms van selfone dra mense, veral jonges, in die Weste nie meer soveel luukse horlosies nie. Die bemarkingsklem en -hoop het na die Ooste verskuif. Gebeur dieselfde nie maar ook met wyn nie?”

Ja, die hoop het omtrent na die Ooste verskuif. Al wat bemarkingstrategie is – ook dié van Wines of South Africa – is aangepas om munt te slaan uit veral die groeiende middelklas hier, wat dors is vir Westerse lafenisse.

Dit is miskien makliker gesê as gedaan. Tydens die amper twee weke wat ek in Hongkong en China deurgebring het, was die duidelikste boodskap: Moenie dink jy het hier ’n deurbraak gemaak as jy een versending wyn gestuur het nie. Vir langtermynsukses is fokus, opvolgwerk en veral toewyding noodsaaklik.

Tien kerninsigte in die Oosterse markte:

1. NUWE GESLAG, NUWE GELEENTHEDE

Die jonger geslag Chinese is meer wêreldwys, berese en aangetrokke tot produkte wat dui op klas en sukses. Heelwat jonger Chinese het buite China studeer en met hul terugkeer gee hulle die toon aan wat nuwe giere en modes betref. Waar sterk drank en ganbei! (die tradisionele heildronk wat ‘maak leeg’ beteken) vir die vorige geslag aan die orde van die dag was, is die nuwe klomp meer modebewus.

Terwyl die president van Grace Vineyard in China, Judy Chan, by die Hong Kong International Wine and Spirits Fair daarop gewys het dat heelwat ouer Chinese wat vroeër sterker drank gedrink het nou na wyn as die gesonder opsie oorslaan, is die algemene gevoel dat veral die jonger mark ontvanklik is vir wyn. En daar is ’n enorme, groeiende middelklas, meestal in die groter stede, wat die rigting van die wynmark in China gaan bepaal. Hierdie groep is van deurslaggewende belang.

2. FRANKRYK OORHEERS, VIR DIE OOMBLIK

Die groot aantal Franse handelsmerke wat by beide ProWine China en die Hong Kong International Wine and Spirits Fair teenwoordig was, weerspieël die huidige stand van sake: ’n mark wat totaal oorheers word deur die Franse, en veral deur Bordeaux. Navorsing wat deur die wynpersoonlikheid Debra Meiburg (MW) voorgelê is, dui egter daarop dat handelaars in Beijing in die toekoms hul portefeuljes van Spaanse, Chileense, Argentynse, Australiese en selfs Amerikaanse wyne eerder as dié van Franse wyne wil uitbrei.

Nuwe wetgewing wat daarop gemik is om korrupsie in China hok te slaan, het gelei tot ’n noemenswaardige afname in die verkope van top wyne, en veral van Bordeaux-wyne, wat as geskenke vir staatsamptenare gekoop is. Hoewel dit ook tot ’n afname in totale verkope, veral in waarde, gelei het, het dit (gepaard met die ekonomiese druk) die klem verskuif na wyne wat waarde vir geld bied. Dit hou ’n groot geleentheid vir Suid-Afrika in.

3. MOENIE TWEEDEVLAKSTEDE ONDERSKAT NIE

Stede in China word in vlakke (tiers) gekategoriseer en waar die sogenaamde eerstevlakstede, soos Sjanghai en Beijing, die voortou neem wat modes en ook wynverbruik betref, bied tweedevlakstede nou die groot geleenthede.

Dit is moeilik om te bepaal wat tweedevlakstede is. Een van die formele beskrywings is dat hulle bevolkings van tussen sewe en tien miljoen het, maar die internasionale beoordelaar en opleier, Fongyee Walker, reken dat hierdie stede uit ’n wynoogpunt geklassifiseer kan word as dié wat beide McDonalds en Starbucks het!

Die verstommende getalle wat gepaard gaan met tweedevlakstede, sowel as die minder felle mededinging, maak hierdie stede aanloklik, maar bring ook sy eie uitdagings. By die Wine in China-konferensie is uitdagings in die aanvoerketting, laer per capita-inkomste en groter onkunde as van die grootste uitdagings uitgelig.

4. WIE IS NOU INVLOEDRYK?

Oral in die wêreld, het sosiale media daartoe gelei dat die verbruiker, eerder as die media of wynkenners, aankope beïnvloed. Die amper obsessiewe gebruik van WeChat in China beteken egter dat dit daar nog meer die geval is.

Walker vertel dat wynproeë gereeld deur WeChat-groepe gereël word, selfs buite die groot metropole. Die Chinese het besonder hoë agting vir kennisverwerwing, en wynopleiding is baie gewild. Opleiers, agente en selfs verbruikers wat bogemiddelde kennis het, beïnvloed wynaankope, terwyl tradisionele mediakanale se invloed bevraagteken word. Selfs Meiburg – wat al jare lank vir die South China Morning Post wynrubrieke skryf – sê dat sy nog nooit die indruk gekry het dat die media verkope werklik beïnvloed nie.

5. VROUE VAT VOOR

’n Proe by ProWine China van wyne wat hoog deur Decanter aangeskryf word, het die groot rol van vroue in die Chinese wynmark beklemtoon. Meer as twee-derdes van die mense wat dit bygewoon het, was vroue, so ook die hele panel wat die proe aangebied het.

Daar word ook algemeen gesê vroue lei die neiging, weg van Franse rooiwyn, na wyne soos rosé, witwyn en vonkelwyn. “Die persepsie dat wyn gesond is, is vir vroue baie belangrik en hulle drink gereeld wyn, terwyl die mans hulle by hul gebruiklike spiritussopies hou.

6. KEN DIE KULTUUR

Die kritieke kwessie van kultuurverskille kan op sigself ’n artikel regverdig. Dit is ’n komplekse onderwerp, wat alles van visitekaartjies tot tafelmaniere insluit. Kultuur kan egter verhoudings en transaksies maak of breek en dit is belangrik om navorsing te doen en op fyner puntjies te let.

Franse, Duitsers, Italianers en veral Australiërs wat nou in China gevestig is, leer nie net die taal aan nie, maar ook die kultuur. Daar is ook voorbeelde van die top Bordeauxkelders se nuwe geslag eienaars wat vir ’n tyd in China of Hongkong kom woon. Dit is hoe ernstig die kwessie van kultuur opgeneem word.

7. WAAR IS DIE GROOT HANDELSMERKE?

Grootvolumehandelsmerke was gereeld die onderwerp van bespreking en word beskou as ysbrekers, in sowel die vinnig groeiende aanlyn mark, as in nuwe streke en stede in China. Die merkbare afwesigheid van internasionale, grootskeepse Suid-Afrikaanse handelsmerke is uitgewys as iets wat die bemarking van Suid-Afrikaanse wyne in die breë kortwiek. Dit lei tot die vraag of ’n geteikende benadering nie die gewenste aanslag is nie. As ’n kleiner streek binne die groter konteks, kan Suid-Afrika onmoontlik alles vir almal probeer wees – veral in ’n mark met miljarde mense.

Interessant genoeg, het woorde soos ‘boetiek’ en ‘kleinskaals’ nie in China die romantiese, positiewe konnotasies wat dit in die Weste het nie. Inteendeel. In sekere kringe kan dit as onsuksesvol en selfs agterlik voorkom!

8. GEBRUIK SUID-AFRIKA SE STERK PUNTE

Namaaksels is ’n gegewe in die Chinese mark. Dit is so algemeen dat dit al gebruiklik geword het om alle bottels ná ’n geleentheid waar wyn gedrink is te breek, sodat hulle nie nagemaak kan word nie. Dis ook meer as net ’n mite dat daar meer namaaksels van top Bordeaux-wyne as die ware Jakob in China is. Naspeurbaarheid word daarom baie hoog op prys gestel en Suid-Afrika se gevorderde sertifiseringstelsel is ’n belangrike pluspunt.

9. CHINESE WYNE GAAN NOG VERSTOM

Tans is Chinese wyn oor die algemeen hoegenaamd nie iets om oor huis toe te skryf nie. Die gemiddelde Chinese wyn is eenvoudig en word op groot skaal geproduseer. Die top Chinese kelders probeer selfs hul eie mense oortuig dat Chinese wyn ernstig opgeneem behoort te word.

Die invloed van gerekende konsultante en wynmakers wat aan die beste wynopleidingsinstansies studeer het, begin egter nou ook in die bottels na vore kom, met veral Cabernet Sauvignon uit die Ningxia-streek wat wys wat gedoen kan word. Die Chinese het al gewys dat hulle Westerse produkte meesterlik kan naboots en uiteindelik kan verbeter. Hoekom sal wyn die uitsondering wees?

10. DIT GAAN NIE NET OOR CHINA NIE

Die groot opgewondenheid oor wyn in die Ooste fokus gereeld sterk op China, maar markte soos Taiwan, Singapoer, Maleisië, Japan en selfs Macau moet nie onderskat word nie. Dit gaan nie net oor China nie, maar oor nuwe markte in ’n tyd waarin tradisionele wynmarkte ’n merkbare afname toon.

Article Archives

Search for more articles

More results...

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors

Stay current with our monthly editions

Share This
0
    0
    Your Cart
    Your cart is emptyReturn to Shop