Die opwinding is tasbaar onder tweedejaar Kaapse Wynmakersgilde Protégés na mate hulle droom om hul eie wyn te maak, werkliheid word met hul skeppings veilig in die vate na die 2018 oes.

 

Met die skep van hul eie wyn kry Morgan Steyn van Riversdal, Gynore Fredericks van Malmesbury en Elouise Kotze van Brackenfell die geleentheid om hul kreatiwiteit uit te leef.

Die maak van hul eie wyn is ‘n noodsaaklike deel van die tweede jaar van die Gilde se Protégé-program en word vir die afgelope agt jaar moontlik gemaak deur die volgehoue skenking van Franse eikehoutvate deur die Paarlse Cape Cooperage Groep.

Bo en behalwe hierdie vrygewige skenking, gee die Cape Cooperage Groep ook die Protégés leiding in terme van hul keuse van vate om hul gekose styl wyn te maak. Ander jaarlikse borge wat hierdie inisiatief ondersteun, is Consol Glass en Amorim Cork wat onderskeidelik die bottels en kurke vir die Protégé-wyne skenk.

“Hierdie Protégés is die toekomstige ambassadeurs van ons wynbedryf. Hul gewilligheid om uit ons kundigheid ten opsigte van die regte keuse tussen Quintessence en Tremeaux Franse eikehoutvate te leer, maak ons ongelooflik trots om ‘n borg te wees.

Hierdie program is deel van die toekoms van Suid-Afrikaanse wyn en die Protégés sal met die tradisies van die wynbedryf voortgaan soos dit aan hulle geleer word,” sê André Kotze, Besturende Direkteur van die Cape Cooperage Groep.

Buiten die maak van hul eie wyne, word Protégés ook blootgestel aan die voorbereiding van begrotings, produksieplanne en bemarkingvoorleggings. Dít gee hulle waardevolle ondervinding en insig tot die hele wynmaak-reis, vanaf die wingerd tot by die finale produk in die bottel.

Onder leiding van Morné Vrey by Delaire Graff, maak Morgan Steyn ‘n Sauvignon Blanc en Semillon versnit. Hy hoop dat sy wyn aan ander die skoonheid van ‘n Bordeaux-styl witversnit sal wys. Morgan se belangstelling in wyn het begin toe sy onderwyser oor dié bedryf in die Landbou-klas gepraat het. Dit was veral die taal van wyn wat sy belangstelling geprikkel het om hierdie beroep te volg.

“Ek wil ‘n wynmaker wees wat deur my voorbeeld lei en verandering in die bedryf na vore bring. Ek wil graag in my mentors se voetspore volg, omdat ek hul liefde vir wyn kan sien. As hierdie liefde vertroetel word, sal die wynbedryf floreer,” sê Morgan, wat soveel as moontlik gedurende sy tyd in die program wil leer.

Gynore Fredericks, met die leiding en kennis van Charles Hopkins by De Grendel, probeer haar hand aan ‘n Pinot noir. Die geheime rondom die skepping van ‘n top gehalte wyn, het haar aangemoedig om ‘n wynmaker te word.

“Ek het Pinot Noir gekies omdat ek nog nooit voorheen met dié druifsoort gewerk het nie. Daar is soveel potensiaal in hierdie kultivar opgesluit. Dit het ‘n elegansie en sagtheid wat ek glo by elke vrou ingebore is,” verduidelik Gynore, wat graag self ‘n mentor en inspirasie vir ander in die bedryf wees.

Elouise Kotze, wat deel van Dewaldt Heyns se span by Saronsberg is, het gekies om Viognier te maak nadat sy verlief geraak het op die Rhône druifsoorte toe sy parstyd in Frankryk meegemaak het.

“My wyn word gegis in ‘n vat wat met water behandel is met minder geroosterde karaktereienskappe om die blomagtige en vrugtegeure waarvoor Viognier bekend is, te bewaar. My mentor het my waardevolle tegnieke geleer om hierdie druifsoort reduktief te behandel terwyl die varsheid in die wyn steeds beklemtoon word.

Hy het my ook geleer hoe om die Rhône-styl in ‘n Suid-Afrikaanse Viognier uiting te gee,” sê Elouise, wat besluit het om ‘n beroep in wynmaak te volg nadat sy as sestienjarige ‘n artikel oor vroue in die bedryf gelees het.

Die vooruitsig om hul eie wyn te maak wat ander kan geniet, is uiters opwindend en motiveer al drie die Protégés. Spesiale aanbiedinge van hul wyne sal in 2019 opgeveil word tydens galadineë in Johannesburg en Kaapstad, so wel as by die Stilleveiling wat by die jaarlikse Nedbank Kaapse Wynmakersgilde-veiling plaasvind.

Die oprengs by hierdie geleenthede word terug geploeg in die Protégé-program wat die onwikkeling van toekomstige wynmakers en wingerdboukundiges ondersteun.

Die Kaapse Wynmakersgilde se Protégé-program is in 2006 gestig onder die beskerming van die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde Ontwikkellingtrust en gee aan voornemende wynmakers en wynboukundiges die geleentheid om sy aan sy saam met lede van die Gilde te werk.

Deur belowende individue op te lei, te onderskraag en te bemagtig om uitstekende wynmakers en wingerdboukundiges te word, speel die Kaapse Wynmakers Gilde Protégé-program ’n aktiewe rol om die langtermyn gesondheid en volhoubaarheid van die wynbedryf te verseker.

Skakel Tel: 021 852 0408 of stuur ‘n e-pos aan info@capewinemakersguild.com vir meer inligting oor die Gilde. Studente wat belangstel om vir die Protégé program aansoek te doen, kan die Gilde se webtuiste besoek by www.capewinemakersguild.com.

You may like to read these:

Go Back
Shares