Tassenberg Kombuis

Wat het Tassenberg en Boekenhoutskloof se The Chocolate Block in gemeen Wel, op die oog af nie veel nie… Tassies word geassosieer met Stellenbosch studente, styrofoam glase en Koos Kombuis toe hy nog “Johnny is nie dood nie” gesing het – voor die vrou en kinders in die prentjie gekom het … The Chocolate Block, aan die ander kant, het ‘n veel meer stylvolle beeld – ‘n Franschhoekse suksesstorie wat nie soos sjokolade proe nie en ook nie van een blok af kom nie, maar wyndrinkers regoor die wêreld bederf met weelderige elegansie.

En hier kom die antwoord: albei bevat ‘n beduidende hoeveelheid Cinsaut. Ja, as dít nie hierdie arm-mans Shiraz se veelsydigheid bewys nie, gaan ek maar oorslaan na harde hout. Gelukkig het die aanvraag na dié ou bosstokke begin optel voordat alles uitgepluk is om plek te maak vir nóg Sauvignon Blanc.

Die kultivar se geskiedkundige rol in Suid-Afrika moet ook nie uit die weg geruim word nie. As die minder gesiene ouer van Pinotage (saam met die edele Pinot Noir), het Cinsaut (ook genoem Cinsault en Hermitage) diep spore in die bedryf gestap.

Daar is nou ‘n handjie vol wynmakers wat die unieke rol wat Cinsaut in veral versnitte kan speel, ontdek en aangegryp het – veral met die groot aantal ou blok-diamante wat nog wag om ontdek te raak.

Marc Kent van Boekenhoutskloof noem dit die nuwe Chenin Blanc – wat ook eers onlangs weer ‘herontdek’ is – alhoewel jy nooit ‘n korrel Chenin in sy kelder sal vind nie … “Die feit dat ek dit in nuwe hout sit, bewys my vertroue in die kultivar – veral die Cinsaut van die Wellington-omgewing is fantasties,” vertel Marc.

Cinsaut produseer groot korrels en groot trosse – en baie daarvan. Dis juis om hierdie rede wat heelwat van die druifsoort vroeër jare in Suid-Afrika aangeplant is. Dit produseer egter dun wyne met swak kleur as die groot opbrengste nie in toom gehou word nie.

La Motte wynmaker Edmund Terblanche vertel dat hy in 2005 vir die eerste keer die produksie van ‘n gedeelte van ‘n Cinsaut-blok in die Paarl aangekoop het. “Dis wanneer die druiwe effens langer hang, wat mens regtig iets interessant daarmee kan doen,” vertel hy.

Edmund sien Cinsaut se rol veral as ‘n versagtende versnydingskomponent. “Deur net ‘n fraksie Cinsaut by ernstige versnitte te voeg, kan groot bulky wyne meer elegant en drinkbaar gemaak word.”

Hy het intussen ook met druiwe van Wellington en meer onlangs Elandsbaai gewerk en vertel dat Cinsaut met genoeg sonblootstelling ‘n karakter toon wat soortgelyk is aan dié van Sangiovese.

Planne om Cinsaut op La Motte aan te plant, spreek boekdele, terwyl Marc nie die enigste een is wat dié wyn in nuwe houtvate verouder nie: “As jy bereid is om te probeer, kan jy selfs jouself verras – ek sal so ver gaan om dit in nuwe Franse hout te sit,” sluit Edmund, wat dié druifsoort voorts as ‘n bousteen van La Motte se Pierneef Shriraz Grenache gaan gebruik, aan.

Suid-Afrika het oor die jare as ‘n swartskaap die wêreld aangenaam verras en daar is geen rede hoekom ons eie wynbedryf-swartskaap nie dieselfde kan doen nie. Soos wat Edmund sê: “Dis nou iets waarmee ons ‘n merk kan maak.”

   

 

     

 

 

 

You may like to read these:

Go Back
Shares