Women in Wine-inisiatief

Met die doel om jong vrouens in die wynbedryf op te lei en te help ontwikkel, het Kathy Jordan in 2012 die Jordan Women in Wine-inisiatief van stapel gestuur. Na aanleiding van die sukses wat sedertdien op plaaslike en internasionale vlak hiermee bereik is, het Kathy nou die leisels aan Elizma Myburgh by Piwosa (Premium Independent Wineries of South Africa) oorgegee, met die hoop dat die inisiatief nóg meer vrouens se lewens sal aanraak.

Kathy vertel dat toe sy destyds in die wynbedryf begin het, vrouens nie baie sigbaar en prominent was nie. “Ek was gelukkig om goeie geleenthede te kry en met hierdie inisiatief wil ek jong vrouens in die wynbedryf help waar hulle andersins nie noodwendig ’n kans sou kry nie.”

Die Women in Wine-inisiatief bestaan uit ’n internasionale en plaaslike komponent. Op plaaslike vlak word ’n belowende, voorheen-benadeelde vrou gekies wat reeds in die bedryf werk, maar wat nie ’n wynmaker is nie. “Die Kaapse Wynmakersgilde Protégé-program bied reeds geleenthede aan opkomende wynmakers en ons wil juis die res van die bedryf deur hierdie inisiatief bereik,” verduidelik Kathy.

Lungiswa Sithole werk by die Radisson Blu Hotel in Kaapstad en is die eerste plaaslike kandidaat. Die inisiatief berus op die kombinasie van opleiding en mentorskap en Lungiswa het reeds haar Wine and Spirit Education Trust (WSET) Vlak 1 en 2 geslaag, terwyl sy ook gereeld besoek aflê aan Jordan om op ’n praktiese wyse te leer hoe ’n wynplaas en -kelder regdeur die jaar funksioneer.

“Swart vrouens is die ruggraat van Suid-Afrika; hulle hou die land aan die gang. Hierdie vrouens is dikwels ook enkelouers en die doel is juis om hulle by te staan en vir hulle ’n bietjie van ’n blaaskans te gee,” sê Kathy. “Ons wil graag ’n geleentheid skep wat dit vir hulle moontlik maak om in hul huidige werksomstandighede te groei en te ontwikkel, en só hul drome na te jaag.”

Vir Lungiswa is dit beide ’n groot geleentheid en uitdaging, maar sy het besef dat sy nie kan bekostig om dié kans te laat verbyglip nie. Die inisiatief het haar lewe verander en alhoewel dit nie altyd maklik is nie, hou sy aan om haar passie na te
streef met die hoop om eendag ’n gekwalifiseerde sommelier te word.

In samewerking met hierdie inisiatief, het Jordan ook twee ander kandidate geborg om die WSET Vlak 1-kursus te doen. Nikki Mayo van Jordan Restaurant en Kholeka Melane van Den Anker Restaurant het albei onlangs hierdie kursus geslaag.

“Daar is heelwat vrouens wat in Suid-Afrika buite die wynmaak-sy van die bedryf werk – van kelnerinne en verkoopsdames, tot bemarkers en joernaliste – en ons wil graag op hierdie groep fokus en belê in hul loopbane; dit is op die einde van die dag voordelig vir die hele wynbedryf,” sê Kathy.

Die internasionale komponent van die Women in Wine-inisiatief berus op soortgelyke beginsels en skep ’n geleentheid waardeur opgeleide, internasionale vrouens ’n internskap by Jordan in Suid-Afrika kan meemaak. Dit het aanvanklik in die VK ontstaan, weens die natuurlike bande tussen Jordan en die VK, maar is later oopgestel aan enige internasionale vrouens met ’n aanvaarde grad of diploma in Wynkunde, of ’n minimum WSET Diploma.

Die inisiatief word deur Jancis Robinson onderskryf en op haar webtuiste geadverteer, en volgens Kathy het hulle ongelooflike belangstelling van regoor die wêreld gekry. Jancis gaan volgende jaar in Januarie ’n spreker wees by die VinPro Inligtingsdag.

Twee kandidate is verlede jaar gekies om die 2014-parsseisoen by Jordan mee te maak. Regine Lee, ’n Amerikaner wat in die VK woon, is ’n internasionale besigheidsbestuurder vir WSET, en Laura Atkinson van die VK werk by Berry Bros. & Rudd.

Regine en Laura het vroeër vanjaar vir ongeveer sewe weke by Jordan gepars, terwyl hulle ook ander Suid-Afrikaanse wynkelders en streke besoek het. Vir Laura was dit ongelooflik waardevol om die wynmaakproses fisies te ervaar, eerder as om net daaroor te lees of te praat. “Dit is nie wat ’n mens verwag nie; dit is aansienlik moeiliker, maar soveel beter!” sê sy.

Regine vertel dat hierdie praktiese ervaring haar ook aangemoedig het as vrou in die bedryf. “Ek het só baie inspirerende vrouens ontmoet en ek is trots daarop dat ons mans se gelykes is in die bedryf. Fisiese grootte en sterkte is nie alles nie – vrouens kan dit ook doen,” sê sy.

“Alhoewel vrouens gereeld op eie meriete teen mans meeding, is dit steeds belangrik om sigbare voorbeelde van suksesvolle vrouens in die bedryf as rolmodelle te hê. Ons moet verseker dat die jonger generasie vrouens in die wynhandel weet dat dit ’n oop en toeganklike bedryf is.”

Buiten die fisiese pars-ervaring, het hierdie internskap ook ten doel om Suid-Afrika as ’n wynproduserende land te bemark en beide Regine en Laura kan nie uitgepraat raak daaroor nie. Regine glo dat alhoewel Suid-Afrikaanse wyn teen ’n groot hoeveelheid ander wyne op die internasionale mark meeding, die storie agter ons wyne – die persoonlikhede en filosofieë, unieke terroir en geskiedenis – mense sal help om die wyn beter te verstaan en meer daarvan te drink.

Dit is nou twee jaar nadat hierdie inisiatief deur Kathy geloods is en daar is onlangs besluit om dit verder uit te brei deur dit oop te stel aan alle Piwosa-lede, waarvan Jordan deel is.

Elizma Myburgh sal voorts die administrasie behartig en sy verduidelik dat alhoewel al 15 lede nie daartoe in staat sal wees om internskappe aan te bied nie, hulle sal poog om die internasionale kandidate aan soveel moontlik wynkelders en wyne bekend te stel.

Op plaaslike vlak sal deelnemende Piwosa-lede hul eie kandidaat kies en sodoende sal nóg meer Suid-Afrikaanse vrouens ’n kans gebied word om hul drome en ideale in die wynbedryf te verwesenlik.

“Hierdie Women in Wine-inisiatief help nie net met werkskepping op plaaslike vlak nie, maar dit beklemtoon ook die goeie werk en etiese belegging wat die Suid-Afrikaanse wynbedryf daagliks maak,” sê Elizma. “Ons hoop om hiermee ’n verdere positiewe beeld van Suid-Afrika daar buite te verkondig, wat ’n voorbeeld sal stel vir ander bedrywe en lande.”

Met Kathy se nederige idee om ’n verskil te maak en net “iets” te doen vir vrouens in die wynbedryf, is hierdie inisiatief nou goed op dreef om meer en meer vrouens te bereik en hulle te bemag om met passie en hoop hul drome na te jaag.

You may like to read these:

Go Back
Shares