Sedert die ontstaan van Landbouweekblad se Vroue Wynmaker van die Jaar-kompetisie, het die tonge geklap oor dié skoner-geslag-stryd en is die vraag of vroue wynmakers nie met die mans kan meeding nie, gereeld geopper. Dié kompetisie word vanjaar vir die sesde keer aangebied – met inskrywings, belangstelling en blootstelling – hetsy positief of negatief – wat gedurende hierdie tydperk aansienlik geklim het. Vorige wenners soos Simonsig se Debbie Thompson en Erika Obermeyer van Graham Beck – beide wynmakers wat benewens Landbouweekblad se titel voortdurend die pryse laat inrol – het ook veroorsaak dat hierdie wedloop-van-die-wyndivas nou seker meer geloofwaardig is as ooit tevore. ’n Handjievol vrouens (nogal) wat betrokke is in die bedryf, se gesprek oor die kompetisie by ’n ander wynaffêre, het my egter van vooraf weer laat wonder oor die meriete van ’n slegs-vroue wynkompetisie.

Die ou redenasie dat vrouens nie weens hul geslag anders as mans gemeet behoort te word – soos byvoorbeeld in atletiek – nie, het die ruggraat van die geklets gevorm.

In ’n kultuur waar gelykheid die norm eerder as die ideaal word, het van die wynwyfies dit selfs as ’n klap in die gesig gesien dat so ’n kompetisie bestaan. “Kan jy dink watse herrie sal losbreek as daar ’n swart wynmaker van die jaar-kompetisie is Die organiseerders sal uitgejou word as ’n spul rassiste. Hoe verskil dit nou eintlik van ’n vroue wynmaker van die jaar-kompetisie” was een se kommentaar.

Vanjaar se finaliste – wat onlangs bekendgemaak is – het hoeka ’n besonder polities korrekte samestelling getoon … Hierdie finaliste is Danelle van Rensburg (Van Loveren), Ntsiki Biyela (Stellekaya), Carmen Stevens (Amani), Corlea Fourie (Bosman Family Vineyards), Corrien Geleijnse (Swartland Cellar) en Nomonde Kubheka (KWV).

Ek het egter nie eintlik pyne met die feit dat die kompetisie net op vrouens gemik is nie – daar is immers ander soortgelyke internasionale voorbeelde soos die VSA se National Woman’s Wine Competition en die Women Winemakers Challenge – maar die prosedure waarvolgens wenners gekies word, is wel vir my ’n redelike kopkrapper.

Kom ons neem vanjaar se inskrywings as voorbeeld: Daar is 64 wyne deur 28 wynmakers ingeskryf. Uit hierdie wyne het die (slegs vroulike) beoordelaars ses wyne gekies – en hiermee het die wynmakers as finaliste gekwalifiseer. En hier begin die sports!

Die ses finaliste word dan (baie soortgelyk aan die finaliste by Mej Vleisfees in Calvinia) deur die beoordelaars gepeper met vrae. Hierdie vrae handel hoofsaaklik oor die wynbedryf en die rede wat hiervoor aangevoer word, is dat die wenner (weer eens amper soos Mej Vleisfees) ’n goeie verteenwoordiger vir die bedryf moet wees.

Die organiseerder van die kompetisie, Lorraine Immelman-Steyn, noem dat die groeiende aantal inskrywings ’n bewys is dat vrouens nou behoorlik ingemessel is in die bedryf – wat voorheen deur mans oorheers is.

Dis alles goed, wel en waar, maar waar is die verteenwoordigende vrouens dan in die Diners Club Wynmaker van die Jaar-kompetisie (waar daar 10 jaar laas ‘n vroue wenner was) of Kaapse Wynmakersgilde, wat nie ‘n vroulike lid het nie

Waar vorige wenners bederf is met ’n toer na Frankryk, om van die wêreld se bekendste wyne daar te proe, stap vanjaar se wenner onder andere weg met ’n kontantprys en ’n pamperlangsessie by Lanzerac se spa – weer eens, baie soortgelyk aan Mej Vleisfees.

 

You may like to read these:

Go Back
Shares