Pieter het in 2024 kragte saamgesnoer met twee ervare diensverskaffers – landbouekonoom Petri de Beer en webontwikkelaar Alex Meintjes – om Tiny Wine People te vorm. Saam help hulle klein handelsmerke om deur die krag van samewerking op die been te kom en groter sukses te behaal.

Pieter Badenhorst Tiny Wine People
Petri de Beer Tiny Wine People
Alex Meintjes Tiny Wine People

Met watter uitdagings kry onafhanklike wynmakers en klein handelsmerke veral te doen?

Beslis kontantvloei – veral reg aan die begin.

Dit vat maar ’n paar seisoene om ’n balans te kry ten opsigte van die wins wat jy kan maak om van te leef, en wat nodig is om terug te ploeg om die besigheid te groei.

Hoe kan kleiner handelsmerke effektief met groot maatskappye en gevestigde handelsmerke kompeteer?

Deur meer en vinniger aanpasbaar te wees vir veranderinge.

Hulle het die voordeel dat daar baie minder mense is om te oortuig om byvoorbeeld ’n aanpassing te maak op hul etikette.

Wat is jou opinie oor die pryse van plaaslike wyne teenoor die res van die wêreld?

Dit is geweldig moeilik om mee te ding as die speelveld nie gelyk is nie. In amper al die lande teen wie ons kompeteer, word wynplase deur die staat ondersteun. Ons moet dus dubbel so hard werk om in prys te kan meeding.

Ek dink tog dat dit ons produsente ongelooflik sterk en aanpasbaar maak, en dryf om voortdurend uit die boks te dink en onnodige vet uit te sny.

Ek wil glo die gaping tussen die realistiese prys wat ons wyne werd is en wat ons tans kry sal met tyd kan krimp. Ons sal eenvoudig net moet aanhou om ons hoë standaarde te handhaaf en as ’n kollektief saam te werk.

Wat is die langtermyn-vooruitsigte vir kleiner handelsmerke?

Mense oorskat wat hulle in ’n jaar kan doen, maar hulle onderskat wat hulle in vyf jaar kan doen. Al hoe meer mense besef dit.

As ons vir kleiner produsente ’n netwerk kan gee om die taak te vergemaklik, kan ons die proses dalk ’n bietjie aanhelp.

Ek wil graag die hele wynbedryf help. Dis my grootste dryfveer. Ek wil aanhou wyn maak, maar Pieter Badenhorst Family Wines se 600 bottels kan nie die bedryf verander nie. Met Tiny Wine People kan ek tegelyk ook ’n klomp ander klein handelsmerke ondersteun.