In harmonie met die natuur
Lucilia Ramos het ervaring opgedoen by kelders met organiese, biodinamiese en herlewingsbenaderinge. Sy beoefen nou die kuns om die natuurlike harmonieë van die wingerd in die kelder na vore te bring.
· 3 min read

Lucilia Ramos (28) het op Delareyville in Noordwes grootgeword. Haar pa is op die Portugese eiland Madeira gebore en van haar ma en pa se familie is steeds daar. Die gevolg was dat sy van kleins af skoolvakansies op Madeira deurgebring het – maar dis nie hoe sy by die wynbedryf uitgekom het nie. Op skool het aanlegtoetse aangedui sy is ’n geskikte kandidaat vir kwekerybestuur – ’n vooruitsig wat nie besonder aanloklik geklink het nie.
Haar pa het wingerd- en wynkunde by die Universiteit Stellenbosch voorgestel as iets wat mense, die natuur en wetenskap bymekaar bring – alles goed waarvoor sy lief is. Stellenbosch was ver genoeg om nuut en opwindend te voel en dit was boonop ’n studierigting met sterk Portugese konnotasies. “Ek het ingeskryf en nooit teruggekyk nie,” sê sy. “Ek het soveel goeie vriende gemaak wat vandag ook wynmakers is.”
In haar aftyd het sy in Super Single Vineyards se proelokaal gewerk, waar daar groot klem op terroir gelê word. Sy het ook ’n oes by Anthonij Rupert gedoen, waar sy ervaring in die wingerd en kelder opgedoen het. Sy het haar graad in 2019 voltooi en vir die uitdagende 2020-oes by die biodinamiese kelder, Reyneke Wines, aangesluit, onder leiding van wynmaker Nuschka de Vos.
Die volgende jaar het sy ’n oes by Keermont meegemaak, waar Alex Starey ’n belangrike rol in haar loopbaan gespeel het. Sy beskou hom steeds as ’n mentor. “Ek kan hom altyd vra oor my werk of my loopbaan,” sê sy. “Dis baie waardevol om so iemand in jou lewe te hê.”
Sy het eers in 2021 ’n geleentheid gehad om oorsee te pars by Fitapreta Vinhos in Alentejo, Portugal. “Die wingerde is bosstok en dit was interessant om te sien hoe hulle tradisionele metodes en natuurlike gisting op ’n groot skaal gebruik,” sê sy. “Fitapreta is ’n groot onderneming wat op verskeie plekke wynmaak, onder andere in die Asore (Pico-eiland), Madeira, die Douro-vallei en Porto Santo, en dit het my oë oopgemaak vir hoe ’n besigheid in Europa kan werk ten spyte van ’n hoogs gereguleerde omgewing.”
In 2022 het sy by Longridge werk gekry as assistentwynmaker, waar sy oor die daaropvolgende drie jaar baie by Jasper Raats oor natuurlike wynmaak en organiese metodes geleer het. Dit het haar belangstelling in die natuur en natuurlike benaderings verder gestimuleer en haar aangespoor om haar vaardighede te verfyn.
Sy het in Junie verlede jaar as assistentwynmaker by Oldenburg Vineyards aangesluit, wat hierdie droom verwesenlik. Die kelder beoefen herlewingsboerdery, en die wynmaker en bestuurder, Nic van Aarde, is ’n goeie aansporing. “Ek is baie op detail gefokus en die benadering by Oldenburg pas my soos ’n skoen,” sê sy.
Haar langtermyndoelwit is om nog groter verantwoordelikhede op te neem, ’n pos as wynmaker te kry en selfs op bestuursvlak betrokke te raak. Daar is nog baie om te leer. “Ek het nog nooit regtig met koelklimaat-druiwe gewerk nie, en ook nie met Portugese kultivars nie, behalwe Verdelho by Longridge,” sê sy. “Dis wyne wat wynmakers toenemend in hul privaat hoedanigheid aanpak onder kleiner handelsmerke van hul eie, maar ek hou daarvan om deel van ’n maatskappy te wees. Ek sal dalk later in my loopbaan so iets aanpak.”
Blitsvrae
- Rooi, wit of vonkelwyn? Rooi. Daar is so baie style wat jy daarmee kan maak.
- Iets wat jou altyd laat lag? Die interns laat my altyd lag in enige kelder.
- Wie in die wynwêreld inspireer jou die meeste? Eben Sadie.
- Enige versteekte talente buite die wynbedryf? Ek het klassieke kitaar op skool gespeel. Ek het beslis ’n kreatiewe kant.
- Een woord wat die SA wynbedryf beskryf? Kleurvol.
Sosiale media
Instagram:@lucilia_ramos9 LinkedIn:Lucilia Ramos
More from
People, community and tourism

Dit gaan alles oor balans
Simon Terblanche het sy loopbaan in wyn met fokus en vasberadenheid opgebou. Vandag is hy ’n jong plaasbestuurder met ’n duidelike visie.

Van die kelder tot konsultasie
Hugo Pietersen se loopbaan is gedryf deur sy liefde vir wyn en mense. Met harde werk, deursettingsvermoë en geloof bewys hy enige droom kan bereik word, ongeag jou agtergrond.

Plaasmeisie van die Overberg
Esterina Fourie se reis in die wynbedryf het onverwags begin toe sy ná skool by Springfield Estate aangesluit het. Die wyngogga het egter vinnig gebyt, en sy het vanjaar haar WSET Vlak 3 diploma voltooi.

