Toe Abrie Bruwer, eienaar van Springfield, Esterina Fourie (25) genooi het om praktiese ervaring in sy kelder op te doen, het sy geen kennis van wyn of die bedryf gehad nie. Dit was genoeg om haar nuuskierig te maak oor die wynbedryf. Sy het by die Kaapse Wynakademie ingeskryf om haar kennis uit te brei en selfvertroue op te bou terwyl sy besluit of sy ’n bemarkings- of wynmaakrigting wou inslaan.

Abrie en Johan van Zyl, keldermeester by Springfield, het Esterina (of Linkie soos haar vriende haar noem) toegerus en geleer om vrae te vra, risiko’s te neem en haar intuïsie te vertrou. “Hulle het my die waarde geleer van getrou bly aan jou eie benadering, selfs wanneer dit die norm uitdaag,” sê sy. “Ek het groot respek vir Johan, aan wie ek by Springfield gerapporteer het. In ’n bedryf waar dit maklik is om in ’n me, myself and I-mentaliteit te verval was hy altyd nederig en het met geduld sy kennis gedeel.”

Die oomblik van waarheid het in 2023 gekom tydens ’n oes in die Loire-vallei. “Ek onthou hoe ek buite gestaan het met ’n glas byna droë, gistende Sauvignon Blanc, propvol geur,” sê sy. “Die feit dat een variëteit homself op soveel opwindende maniere kon uitdruk, het my totaal geboei. Ek het besef ek móét wyn maak.”

Sy beskryf die oes in Frankryk as verreweg die moeilikste tot op hede, maar terselfdertyd ook uiters lonend. “Dit het my buite my gemaksone gedwing,” sê sy. “Ek het die geleentheid gehad om ’n wye reeks wyne uit die Loire-vallei te proe en te sien hoe verskillende wynmakers hul kuns benader, gevorm deur hul terroir en klimaat.”

Met haar nuwe waardering vir wyn – en veral vir Sauvignon Blanc – het Esterina besluit om haar vlerke te sprei. In 2024 sluit sy by StrandveldVineyards in die Overberg aan as assistent aan die keldermeester, waar sy verlede jaar bevorder is tot assistent-wynmaker. “Conrad Vlok by Strandveld het my die geleentheid gegee om te groei en my kennis te verfyn, veral op die tegniese aspekte van wynmaak,” sê sy. “Hy het my aangespoor om meer krities te dink, inisiatief te neem en aandag aan detail te gee.”

Die posisie het gepaard gegaan met groter verantwoordelikheid in die kelder, maar haar ook vryer teuels gegee om met haar eie style te eksperimenteer. Sy was deel van die span agter Platter’s se Sauvignon Blanc van die jaar – Strandveld Pofadderbos Sauvignon Blanc 2024. In 2025 het hul Sauvignon Blanc dubbele goud by Gilbert & Gaillard verower, en sy is vanjaar aangewys om die gisting op ’n premium Blanc Fumé-projek te lei. “Dit was vir my ’n belangrike mylpaal om met meer in die kelder vertrou te word en om van ’n ondersteunende rol te beweeg na ’n posisie waar ek iets kan skep wat my eie styl en besluitneming weerspieël.”

Die 2026-oes het haar op ’n persoonlike vlak uitgedaag. “Ek het myself gedruk om verantwoordelikheid vir alle oesaksies in die kelder te neem – natuurlik onder Conrad se leiding,” sê sy. “Daar gebeur soveel dinge gelyktydig, en the only way out is through. As ek terugkyk, sou die eens onervare meisie wat hierdie reis in 2019 begin het, so trots wees op waar ek vandag is. Ek het besef dat prestasie nie altyd op skrif hoef te wees om betekenisvol te wees nie.”

Blitsvrae

  • Rooi, wit of vonkelwyn? Wit – maar ’n goeie glas vonkelwyn wen op die regte oomblik.
  • Iets wat jou altyd laat lag? Mense se vreemde gewoontes.
  • Wie in die wynwêreld inspireer jou die meeste? Sterk, passievolle vrouewynmakers wat hul eie pad baan, soos Charla Bosman en Riandri Visser.
  • Jou verborge talent buite wyn? Om mense bymekaar te bring en ’n gemaklike atmosfeer te skep.
  • Een woord wat die SA wynbedryf beskryf? Innoverend.

Sosiale media

Instagram:@linkiefourieLinkedIn:Esterina Fourie