Van die kelder tot konsultasie
Hugo Pietersen se loopbaan is gedryf deur sy liefde vir wyn en mense. Met harde werk, deursettingsvermoë en geloof bewys hy enige droom kan bereik word, ongeag jou agtergrond.
· 4 min read

Hugo Pietersen (23) se storie het op ’n plaas buite Caledon begin, waar hy van kleins af geleer het wat dit beteken om hande vuil te maak en verantwoordelikheid te dra. Sy ma het die pakhuis bestuur, van groente tot hoenders en skape wat aan groter maatskappye verskaf is.
Hoewel hy die plaaslewe geniet het, was boerdery nie sy eerste keuse vir ’n loopbaan nie. Hy het eers oorweeg om drama aan die Universiteit Stellenbosch te studeer en regte was ook ’n opsie. “Ek is goed met stry,” sê hy laggend. Hy hou ook van mense en lees. Eindelik het ’n kwalifikasie in keldertegnologie aan Elsenburg die oorhand gekry.
In sy eerste jaar het hy naweke en vakansies by La Motte as proelokaal-assistent gewerk om praktiese ervaring op te bou. “Dit het vir my bevestig dat my studierigting die regte besluit was,” sê hy. “Ek het al hoe liewer vir wyn geword.” Die skuif na die kelder het vinnig gevolg, en teen sy tweede jaar het hy reeds tussen tenks en vate gewerk. ’n Jaar later het hy sy praktiese kelderopleiding by Spier voltooi.
Met beperkte finansiële steun as student moes hy self ’n plan maak om sy finansies aan te vul. In sy finale jaar het hy as bestuurder by La Pineta Restaurant gewerk, waar hy die wynlys soos die palm van sy hand geken het en gaste se etes met die perfekte wyn kon aanvul.
Sy dosent, Lorraine Geldenhuys, het ’n sleutelrol in sy ontwikkeling gespeel en haar studente aangemoedig om altyd meer te leer. In hul finale jaar het sy aanbeveel dat hulle op een of twee kultivars fokus en dit bemeester. Hugo het op Syrah en Grenache besluit, wat hom na wynmaker Dewald Grobler by Spookfontein gelei het. Kort daarna is hy as assistent-wynmaker daar aangestel. “Ek het soos ’n spons al Dewald se wynkennis ingeneem,” sê hy.
Ná ’n kort tyd as assistent-wynmaker by Barton Vineyards verlede jaar, het ’n internasionale hoogtepunt gevolg – vyf maande by Rombauer Vineyards in die Napa-vallei, Kalifornië. Die geleentheid, wat hy saam met drie van sy pêlle beleef het, was totaal anders as sy Suid-Afrikaanse ervaring. Dit was ’n groot kelder waar hy slegs met rooiwyn gewerk het en waardevolle kennis oor rooiwyn-tegnieke opgedoen het.
Ten spyte van sy sukses in die kelder, het Hugo ’n besluit geneem wat baie sou verras. Hy het wegbeweeg van voltydse wynmaak na ’n rol as tegniese verkoopskonsultant by Wine Chemical Solutions. Dit was ’n natuurlike skuif, gegewe sy persoonlikheid en ervaring.
In sy huidige rol kombineer hy sy produksie-ervaring met mensevaardighede om wynmakers van praktiese raad te bedien en oplossings vir produksieprobleme te verskaf. “Ek weet hoe ’n wynmaker dink en verstaan waardeur hulle gaan,” sê hy. Hierdie insig help hom om kliënte se werk makliker te maak sonder om die begroting te oorskry.
Hoewel Hugo nie meer as ’n wynmaker werk nie, het sy liefde vir wynmaak nie gekwyn nie. Hy wil aanhou wynmaak vir sy persoonlike gebruik en nie om te verkoop nie. “Ek is lief om wyn as verjaarsdag- en Kersgeskenke te gee, maar om dit ekstra spesiaal te maak, gaan ek die wyn self maak,” sê hy. Gelukkig het hy baie kontakte in die bedryf waar hy druiwe kan kry en kelderruimte kan gebruik.
Sy sukses berus nie net op tegniese vaardigheid nie, maar ook op sy houding en menslikheid. “Om te glimlag help altyd,” sê hy. Hy is vir innovasie en tegnologie in wynmaak sonder om die romanse van die wynproses in te boet.
Dit sluit aan by sy grootste dryfkrag – om jongmense te inspireer en hulle opgewonde oor wyn te maak, nie net vir die plesier nie, maar ook vir die kuns daaragter.
Blitsvrae
- Rooi, wit of vonkelwyn? Rooi.
- Iets of iemand wat jou altyd laat lag? My vriende.
- Wie in die wynwêreld inspireer jou die meeste? Dewald Grobler en Bartho Eksteen.
- Enige versteekte talente buite die wynbedryf? Ek is baie goed met parallelle parkering. Maak nie saak waar nie.
- Een woord wat die SA wynbedryf beskryf? Asemrowend.
Sosiale media
Instagram:@hugo_pietersenn
Facebook: Hugo Pietersen
LinkedIn:Hugo Pietersen
More from
People, community and tourism

Dit gaan alles oor balans
Simon Terblanche het sy loopbaan in wyn met fokus en vasberadenheid opgebou. Vandag is hy ’n jong plaasbestuurder met ’n duidelike visie.

Plaasmeisie van die Overberg
Esterina Fourie se reis in die wynbedryf het onverwags begin toe sy ná skool by Springfield Estate aangesluit het. Die wyngogga het egter vinnig gebyt, en sy het vanjaar haar WSET Vlak 3 diploma voltooi.

In harmonie met die natuur
Lucilia Ramos het ervaring opgedoen by kelders met organiese, biodinamiese en herlewingsbenaderinge. Sy beoefen nou die kuns om die natuurlike harmonieë van die wingerd in die kelder na vore te bring.

