Drie jaar agtereenvolgens die hoogste eer, 12 dubbelgoue medaljes en ’n aand waarop Suid-Afrikaanse wyn behoorlik kon feesvier.

Daar is altyd ’n sekere afwagting wanneer die groot prys van die aand aangekondig word. Saterdagaand, in die KIKS-balsaal in Kaapstad, was dit weer KWV se beurt om op te staan.

Vir die derde agtereenvolgende jaar het die Paarlse wynprodusent met die Duimpie Bayly Veritas Vertex-trofee weggestap. Hierdie keer nie vir een van sy bekende rooiwyne nie, maar vir die Laborie Cap Classique Blanc de Blancs 2020.

En daarmee het KWV sommer nog ’n stukkie geskiedenis geskryf. Dit was die vierde keer dat KWV die kompetisie se hoogste eer ontvang, en die derde keer sedert die instelling van die Vertex-toekenning dat ’n Cap Classique as die algehele kampioen aangewys is.

Keldermeester Justin Corrans en sy span het dus goeie rede gehad om fees te vier. Maar die aand se sukses het nie by die groot trofee geëindig nie. KWV is ook as Beste Wynprodusent aangewys, met 12 dubbelgoue en 12 goue medaljes. Dit was boonop die derde agtereenvolgende jaar dat hulle dié erkenning ontvang het.

Die 36ste Veritas-toekennings het sowat 580 gaste bymekaargebring vir ’n gala-aand waar die wyne, soos dit hoort, ’n belangrike deel van die viering was. Uit 1 293 inskrywings is 95 dubbelgoue en 196 goue medaljes toegeken. Agter dié syfers lê vyf dae se blinde beoordeling deur 88 plaaslike en internasionale beoordelaars. En hoewel KWV die grootste deel van die kollig geniet het, was daar heelwat ander produsente met rede om breed te glimlag.

Spier het agt dubbelgoue en 12 goue medaljes ingepalm, terwyl Flagstone en Tokara elk vier dubbelgoue ontvang het. Babylonstoren het met drie dubbelgoue huis toe gegaan. Flagstone is ook as die beste presteerder onder produsente met tien of minder inskrywings aangewys, terwyl KWV die afdeling vir meer as elf inskrywings gewen het.

Dit was verder opvallend hoeveel produsente met meer as een dubbelgoue medalje weggestap het. Onder hulle was Boschendal, Orange River Cellars, Wellington Wines, Beyerskloof, Benguela Cove, Riebeek Valley Wine Co, Graham Beck en Hidden Valley. Die medaljes was dus beslis nie tot ’n handjievol groot name beperk nie.

Die Veritas-uitslae gee ook ’n interessante blik op die wyne wat vanjaar besonder goed gevaar het. Chenin Blanc het met elf dubbelgoue medaljes uitgestaan, waarvan ses vir ongehoute en vyf vir gehoute wyne was. Cap Classique en Cabernet Sauvignon het elk sewe dubbelgoue medaljes opgelewer. Bordeaux-versnitte, Kaapse versnitte en Pinotage het elk vier ontvang – ’n lekker herinnering aan hoe wyd Suid-Afrika se wynaanbod strek. Van vars, ongehoute Chenin tot ernstige Cabernet en Cap Classique wat met die grootste eer van die aand wegstap.

Ook die ouer wyne het hul sê gehad. In die museumklas het twaalf rooiwyne dubbelgoud verower, waarvan agt uit die 2017-oesjaar gekom het. En brandewyn is allermins vergeet. KWV en Van Ryn het elk twee dubbelgoue medaljes ontvang, terwyl Backsberg en Boplaas ook in dié afdeling erkenning gekry het. Boplaas en Nuy het verder met hul gefortifiseerde wyne uitgeblink.

Vier bekende bedryfsfigure is vanjaar met Veritas se Lewende Legende-ererolle vereer: Loftie Ellis, Edmund Lakay, Altus le Roux en Mark Norrish. Hulle verteenwoordig verskillende dele van die wyn- en brandewynbedryf, van wyngehalte en tegniese opleiding tot handel en bemarking. Elkeen het op sy eie manier oor baie jare ’n bydrae gelewer.

Die lekkerte van Veritas is natuurlik dat die toekennings nie by die gala-aand eindig nie. Die publiek kry binnekort die geleentheid om van die bekroonde wyne self te proe tydens die Deloitte Veritas-proeë in Kaapstad op 21 Oktober, Johannesburg op 27 Oktober en Durban op 11 November. En die VinoVeritas-aanlyn platform maak dit ook moontlik om medaljewenners te bestel, van die dubbelgoue wyne tot die silwer- en bronswenners.

Die volledige uitslae en besonderhede oor die publieke proeë is beskikbaar by www.veritas.co.za.

Die Duimpie Bayly Veritas Vertex-wenner vir die Topwyn van 2026

Kobus van der Merwe, KWV-wynmaker, met die 2020 Laborie Cap Classique Blanc de Blancs en Vertex Trofee.

KWV laat die vonkelwyn praat