Agri-Expo herstruktureer vir volhoubare toekoms
Die oudste Landbougenootskap in Suid-Afrika, Kaap die Goeie Hoop Landbougenootskap, wat handel dryf as Agri-Expo, het aan die einde van 2022 noodsaaklike herstrukturering ondergaan. Die ly van beduidende verliese as gevolg van projekte wat die laaste paar jaar geen wins gegenereer het nie, asook…
· 2 min read

Volgens mnr Pieter van Wyk, President van Agri-Expo, was die probleme wat die laaste paar jaar ontstaan het, struktureel van aard. “Ons het ongelukkig te veel projekte wat nie wins genereer nie en daarmee saam ‘n personeelkorps, wat geweldig kundig is, maar wat Agri-Expo nie volhoubaar kan bekostig nie. Ons moes ons uitgawes aanpas in lyn met ons inkomste”.
Na raadpleging met kundiges en gesprekke met personeel, het die Raad van Agri-Expo derhalwe besluit dat nie-winsgewende projekte afgeskaal moes word en dat nie meer personeel as wat Agri-Expo kon bekostig, in diens gehou kon word nie.
Gevolglik het ‘n proses in terme van Artikel 189 van die Wet op Arbeidsverhoudinge begin. Hierdie proses was dinamies en interaktief en het bestaan uit verskeie werksessies met kundiges en personeel. Die proses is nou afgehandel en personeel wat geraak is het reeds regverdige en bogemiddelde skeidingspakette ontvang. “Sou ons nie hierdie harde besluite neem om nou projekte en personeel prys te gee nie, sou hierdie Landbougenootskap wat 192 jaar oud is, oor bietjie meer as 10 jaar sy deure moes sluit. Ons bedank graag die personeel wat ons diens verlaat het vir hul toewyding en kundige diens aan Agri-Expo en die breë landboubedryf”, het mnr Van Wyk gesê.
In die lig van bogenoemde moes sekere van die huidige projekte ook gestaak word. Die Raad het egter die volgende projekte geprioritiseer: Die SA Suiwelkampioenskappe, die SA Jongwynskou, ondersteuning aan Landbouskole (Landbou-jeugontwikkeling) en sy Ledeskoue (landbouskoue).
Nuwe era Mnr Breyton Milford is na hierdie herstuktureringsproses as Hoofbestuurder van Agri-Expo aangestel. Milford was voorheen Operasionele Bestuurder by Agri-Expo en ken die organisasie goed. Die Raad is opgewonde oor hierdie aanstelling en glo dat dit gaan bydra tot die nuwe era wat Agri-Expo betree.
Volgens Milford is dit ‘n reuse voorreg om hierdie Genootskap en sy lede te dien. “Ek glo dat hierdie ‘n nuwe tydvak is wat Agri-Expo betree. Ons gaan ‘n benadering van ‘terugkeer na fundamentele beginsels’ moet volg. Ten einde volhoubaarheid te verseker, sal nuwe projekte sterk bekostigbaarheids- en relevansietoetse moet slaag, sonder om landboubevordering te benadeel. Ek sien uit om Agri-Expo te herfokus en vaartbelyn te maak.”
Die Raad gee graag die versekering dat Agri-Expo sal voortgaan om sy visie volhoubaar na te streef, deur te fokus op uitstallings en ander openbare verhoudingsinisiatiewe in belang van sy lede, landbou, die regering en die publiek.
More from
Markets, business and trade

Pieter Badenhorst oor die krag van klein handelsmerke
Pieter Badenhorst was vir 12 jaar die hoofwynmaker by die Bergkelder jare wynmaker by Nederburg. In 2023 het sy eie konsultasiebesigheid, For the Love of Wine, begin. Hy maak steeds wyn onder Pieter Badenhorst Family Wines.

Hoe die Wyn-trein ’n nuwe dimensie aan wynproe gee
‘n Wynproe hoef nie altyd tussen vier mure plaas te vind nie. Suid-Afrika se Wyn-trein, wat deur New Cape Central Railway bedryf word, bied ’n pret alternatief om wyn te ervaar.

Die datavoordeel: Boere wat meer weet is beter met risikobestuur
Hoekom kan een boerdery makliker deur moeilike tye kom terwyl 'n ander een sukkel? Dit gaan nie noodwendig oor hoe groot die plaas is, watter gewasse verbou word, of hoeveel trekkers in die skuur staan nie. Dit lê in die gehalte van inligting waaroor 'n boer beskik en hoe daardie inligting gebruik…
