Mila Malherbe (29) het in Stellenbosch tussen wingerde grootgeword, maar haar loopbaan het eers ’n lang draai buite die wynbedryf gemaak voordat dit volsirkel gekom het. Nadat sy haar graad in spraakterapie verwerf het, het sy te midde van die pandemie haar gemeenskapsdiensjaar in Galeshewe, Kimberley, voltooi – ’n behoorlike vuurdoop. Sy is daarna Londen toe, waar sy onder andere as au pair gewerk het. Maar ná vier jaar het Engeland steeds nie soos ’n tuiste gevoel nie en sy het besluit om terug te kom Suid-Afrika toe.

As student het sy deeltyds in Rust en Vrede se proelokaal gewerk, en die wynbedryf het weer gewink. “Wat as nuuskierigheid begin het, het geleidelik iets geword wat ek nie kon ignoreer nie,” sê sy. “Ek was nie net aangetrokke tot die wyn self nie, maar ook tot die mense en die stories.”

’n Tydelike posisie by Blaauwklippen het ses maande later gelei tot ’n permanente aanstelling as junior handelsmerkbestuurder, wat handelsmerkontwikkeling en verkope insluit. “Ek het nou die geleentheid om nie net daardie stories te vertel nie, maar ook te sien hoe dit in die mark uitspeel,” sê sy. “Om deel te wees van ’n werkende plaas het my ook gewys hoeveel kennis in mense leef – veral diegene wat die grond al dekades lank bewerk. Dis die soort kennis wat jy eenvoudig nie in boeke kan vasvang nie.”

Haar twee wêrelde vul mekaar aan. Die stresvlakke in bemarking kom nie naby aan wat sy in die mediese wêreld beleef het nie, en haar agtergrond in sielkunde kom nou meer nuttig te pas as ooit. Dit onderstreep ook die waarde van ’n spanpoging. “Ek het veral gedurende Covid die waarde van ’n multidissiplinêre span besef, waar elkeen ’n bepaalde rol speel om die pasiënt – of in hierdie geval die kliënt – te versorg,” sê sy. “Jy leer ook baie vinnig wat jy nog nie weet nie.”

Hoewel haar jare in Rust en Vrede se proelokaal nuttig te pas kom, vereis haar huidige rol dat sy ’n nuwe bemarkingstaal moes aanleer. “Die span sou byvoorbeeld van NGF praat vir Norman Goodfellows, maar in my wêreld beteken dit nasogastric feeding!” sê sy. “Ek was gelukkig om van mense oor die hele spektrum te leer – van ervare beroepslui tot plaaswerkers wat al byna 30 jaar lank in die wingerde werk. Hul praktiese kennis, intuïsie en diep verbintenis met die grond is net so doeltreffend soos enige formele leerskool.”

Sy voel bevoorreg om deel te wees van ’n bloeityd nadat Blaauwklippen se herehuis in 2024 tot op die grond afgebrand het. Onder die leiding van die handelsmerkbestuurder, Craig Bester, is die plaas ’n borg van die Cape Epic- en Wines2Whales-bergfietstoer, en die Sunshine-gholftoer. Mila is verantwoordelik vir die handelsmerk se sigbaarheid en openbare verhoudinge by hierdie geleenthede. Dit verg noukeurige aandag, baie tyd op die pad en ’n menslike aanslag – die eienskappe van enige goeie gesondheidswerker. “Die belangrikste vir enige handelsmerk is bestendigheid,” sê sy. “Ons het ’n slagspreuk op die plaas: ‘Toe, nou, vir altyd,’ en ek probeer dit elke dag toepas. Ek maak seker dat ek die ‘toe’ en die ‘nou’ gebruik om die ‘vir altyd’ te kweek – met die plaas as my gids om meer oor wyn te leer.”

Blitsvrae

  • Rooi, wit of vonkelwyn? Wit. Somer en ’n glas witwyn is twee van my gunstelingdinge in die wêreld.
  • Iets wat jou altyd laat lag? Mense wat hulself nie te ernstig opneem nie
  • Wie inspireer jou die meeste in die wynwêreld? Nadat ek ’n paar dae saam met die wingerdspan deurgebring het, verdien hulle beslis my stem.
  • Enige versteekte talente buite die wynbedryf? Tennis. Ek het baie gespeel en het selfs Suid-Afrika verteenwoordig toe ek jonger was.
  • Een woord om die SA wynbedryf te beskryf? Veerkragtig.

Sosiale media

Instagram: @milamalherbeFacebook: Mila MalherbeLinkedIn: Mila Malherbe