Die kuns van Cap Classique
Vonkelwyn is meer as net borrels in ’n glas. Volgens Melanie van der Merwe, wynmaker en stigter van Tanzanite Wines, lê die ware karakter van Cap Classique in die tyd, proses en detail agter elke bottel.
· 4 min read

Vir iemand wat nuut is tot die kategorie, wat is die belangrikste element wat ’n goeie Cap Classique definieer?
Definitief die tyd wat die wyn op die gismoer spandeer, met ander woorde die bottelverouderingstydperk. Iemand wat nuut is tot Cap Classique is gewoond aan vrugtige, ligte en vars vonkelwyne. Cap Classique bied egter soveel meer.
Dit bied die primêre kultivargeure, maar met veroudering op die gismoer in die bottel ontwikkel tersiêre geure wat dit absoluut uniek maak. Jy kry romerige, neutagtige en heuningagtige geure, asook meer komplekse gisgeure wat jou aan beskuit en gebakte brood laat dink.
Die skuimlaag is ook fyner en lewendiger en hou baie langer in die glas.
Watter rol speel tyd op die gis en veroudering in die kwaliteit van ’n Cap Classique, en waarna moet ’n mens oplet?
Daar is nie ’n alternatief vir die tyd wat Cap Classique op die gismoer spandeer nie. Hoe langer, hoe beter.
Dit is wetenskaplik bewys dat gisoutolise, met ander woorde die degenerasie van gisselle, eers ná 18 maande op die gismoer begin. Dit stel die beskuit-, heuningagtige, ryp sitrus- en romerige geure vry.
Die wyn moet kompleks wees, maar tog baie elegant as ’n geheel.
Wat maak Cap Classique uniek in vergelyking met ander wynstyle?
Dit is die enigste proses waar basiswyn weer versoet word en ’n sekondêre gisting in die bottel onder moeilike omstandighede plaasvind. Die basiswyn gis onder druk, in die teenwoordigheid van alkohol, by lae temperature en met baie lae suurstofvlakke.
Dit is ’n langdurige gistingsproses wat tyd neem, maar tot ’n mooi prise de mousse lei. Die natuurlike CO₂ ontstaan as gevolg van die tweede gisting in die bottel.
Ná die veroudering mag die wyn ook nie uit die bottel gehaal word om dit te filtreer nie. Dit moet deur ’n proses van riddel en gismoerverwydering gaan.
Watter algemene wanpersepsies bestaan oor vonkelwyn?
Die algemene publiek verwys na enige wyn wat koolsuurgas bevat as sjampanje. Dit is baie ver van die waarheid. Slegs vonkelwyn wat in die Champagne-streek van Frankryk vervaardig word volgens die tradisionele metode kan sjampanje genoem word.
Elke land het sy eie benaming vir die tradisionele proses. In Frankryk, buite die Champagne-streek, word dit Crémant genoem. In Suid-Afrika noem ons dit Cap Classique. In Duitsland is dit Sekt, in Spanje Cava, in Italië Franciacorta of Trento DOC en in Portugal Espumante DOC. Dit is dus dieselfde tradisionele proses, maar met verskillende benamings.
Hoe kies ’n mens die regte Cap Classique vir verskillende geleenthede?
Dit is nie noodwendig ’n maklike vraag nie, want die geleentheid bepaal nie die keuse nie. Die belangrikste is om ’n goeie Cap Classique te kies. Alhoewel elke persoon se voorkeure verskil, is daar tog ’n lyn wat by kwaliteit getrek moet word. Kies iets wat uniek in styl is en die Cap Classique-styl komplementeer. Dit hang natuurlik ook van die begroting af. Die soetheid van die produk is ’n bepalende faktor.
Extra Brut is ’n goeie keuse vir wynentoesiaste en premium kos- en wynparings. Brut is die mees veelsydige keuse. Dit kan werk as ’n verwelkomingsdrankie, saam met canapés en tydens ’n ete. Dit werk vir groot funksies en gemaklike geleenthede. Extra Sec is ’n goeie keuse vir speseryagtig kos of koek en waar ’n jonger generasie bymekaarkom. Die styl speel ook ’n rol. Nie-oesjaar is ’n goeie opsie vir groot funksies en gemaklike geleenthede. Blanc de Blanc is ’n goeie keuse vir geleenthede deur die dag, somerfunksies en saam met seekos of romerige geregte. Rosé werk goed vir geleenthede soos kombuistee’s vir bruide, asook premium gala-aande.
Die volgende keer wanneer jy ’n bottel Cap Classique oopmaak, kyk dus ’n bietjie verder as die borrels. Let op die aromas, tekstuur en kompleksiteit, en dink aan die tyd wat agter elke slukkie lê. Dit maak die ervaring net soveel meer interessant.
More from
People, community and tourism

Meet the 2026 Diners Club winemaker and young winemaker of the year
The winners of the 2026 Diners Club Winemaker and Young Winemaker of the Year awards were announced at a black-tie gala dinner at the Five-Star Arabella Hotel Golf & Spa on Saturday, 21 November, with Alvi van der Merwe (Alvi's Drift Private Cellar) and Mosima Mabelebele (Le Grand Domaine) claiming top trophy honours respectively.

What do Gauteng's travellers look for in a wine destination?
Kievits Kroon Gauteng Wine Estate is a 16-hectare luxury country hotel and spa offering Cape Dutch-style architecture and fine dining in Kameeldrift-East, just 10 minutes from central Pretoria.

The culinary charm of Brookdale Estate
Set against the dramatic backdrop of the Klein Drakenstein mountains in Paarl, Brookdale Estate produces wines as unexpected as they are enchanting.

