Julia du Preez (23) is in Kaapstad gebore en het in gr 4 na Stellenbosch verhuis. Haar belangstelling in wyn het van jongs af begin, onder die invloed van haar pa, Hendrik, ’n wynliefhebber en prokureur met ’n diep kennis van die bedryf. “My pa het by elke braai ’n bottel wyn oopgemaak en ons laat ruik en proe,” sê sy. Haar stiefma, Fae, wat as wynblogger gespesialiseer het in gesinsvriendelike wynplase, het ook tot haar liefde vir wyn bygedra.

Haar akademiese pad weerspieël ’n natuurlike nuuskierigheid en internasionale ingesteldheid. ’n Praatjie, aangebied deur die Universiteit Stellenbosch by haar hoërskool, het haar geïnspireer om vir ’n BCom met ’n fokus op internasionale besigheid in te skryf. Dit het haar die geleentheid gegee om vir ses maande in haar derde jaar by Trinity College Dublin te studeer. “Ek het my tyd daar vreeslik geniet,” sê sy. “Ek kon deur Europa toer, verskeie lande se wyne proe en selfs vir my pa in Engeland gaan kuier nadat hy in my matriekjaar geïmmigreer het.” Die blootstelling aan ander kulture en die verskillende maniere waarop universiteite werk, het ook haar perspektief oor bemarking en besigheid verbreed. “Ek het baie geleer oor aanpassing en hoe ’n mens jou kennis internasionaal kan toepas.”

Haar eerste kennismaking met die wynbedryf het in haar tweede studiejaar begin. Sy het in haar afdae as kelner by Quoin Rock gewerk en so die eienaar, Denis Gaiduk, leer ken. Hy het uitgevind sy studeer bemarking en gesê hy sal haar graag in sy bemarkingspan wil hê. “Ek was baie verlig toe ek dit hoor, want ek was nie so mal oor kelner speel nie,” sê sy laggend.

Tydens haar studies het Julia ook as bemarkingsbestuurder by The Cape Town Real Estate Company gewerk, waar sy praktiese ervaring in digitale bemarking, handelsmerkontwikkeling en projekbestuur opgedoen het. Hierdie blootstelling het haar voorberei vir haar permanente rol by Quoin Rock as lid van hul bemarkingspan in 2023.

Die span het gegroei en Julia is bevorder tot digitale bemarkingskoördineerder. Haar rol dek alles van sosiale media bestuur en inhoudskepping. “Ek is mal oor die kreatiewe beplanningsessies,” sê sy. “Dit is die beste gevoel om die eindproduk van ’n veldtog te sien ná al die harde werk.”

Een van die projekte waarop sy die trotste is, is die MCC-produksieveldtog, wat elk van Quoin Rock se vyf Cap Classique-wyne se persoonlikhede in ’n video oordra. Onder leiding van kreatiewe direkteur Yuliya Gaiduk het sy ’n ondersteunende rol in die veldtog gespeel. Haar benadering kombineer kreatiwiteit met data, wat sy as noodsaaklik vir suksesvolle bemarking beskou. “Jy het albei nodig om suksesvol te wees,” sê sy. “Wynbemarking is meer ingewikkeld as enige ander bedryf se bemarking, veral op sosiale media soos TikTok, waar streng reëls oor alkoholadvertensies geld. Dit forseer jou om op ’n kreatiewe manier op te tree.”

As ’n lid van Gen Z fokus Julia daarop om haar generasie opgewonde oor wyn te maak. “Ek is Gen Z en stel belang in wyn,” sê sy. “As ek dit kan waardeer, kan ander ook.” Wyn speel ’n groot rol in die lewe van ’n Stellenbosch-student. Of dit nou is om foto’s by ’n wynplaas voor jou koshuisdans te neem of om Stellenbosch Street Soirées by te woon, sy wil die belangstelling in wyn laat voortduur selfs ná die studentetydperk.

Die wynverkoopspan by Quoin Rock sorg dat die taal en terme verstaanbaar, relevant en aantreklik vir Gen Z is. “Dit wek nie net belangstelling nie, maar moedig hulle ook aan om die kultuur rondom wyn te waardeer.”

Julia is gedryf deur nuuskierigheid en ’n begeerte om voortdurend te leer. Sy is ook doelgerig oor die impak wat sy wil maak. Sy wil nie net veldtogte skep nie, maar ook bydra tot hoe mense oor wyn dink en dit beleef. “Ek wil wys hoe ongelooflik die Suid-Afrikaanse wynbedryf en sy mense is,” sê sy. “Ek dink regtig ons is die underdogs.”

Sy het sedertdien die wynbedryf verlaat en die rol van bemarkingsbestuurder by die LHi Groep aanvaar.

Blitsvrae

  • Rooi, wit of vonkelwyn? Vonkelwyn.
  • Iets of iemand wat jou altyd laat lag? My familie.
  • Wie in die wynwêreld inspireer jou die meeste? Julie Johnson, wynmaker en eienaar van Tres Sabores.
  • Enige versteekte talente buite die wynbedryf? Fotografie.
  • Een word wat die SA wynbedryf beskryf? Innoverend.

Sosiale media

Instagram:@julia.dupreez en @hemeadowedit

LinkedIn:Julia du Preez