Junelle Rossouw het haar pad na Saxenburg as assistentwynmaker gegis en geproe met hope internskappe, harde werk en ’n dors na kennis.
 

Sy het haar graad in wingerd- en wynkunde in 2023 aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Danksy haar uitstekende akademiese prestasie is sy genooi om by Golden Key aan te sluit, ’n internasionale erevereniging bestaande uit die top- 15% akademiese presteerders.
 

In haar derde jaar moes sy en haar klasmaats hul eie wyn maak. Sy het besluit om die ervaring te dokumenteer en het later met hope video’s gesit. Dit het haar geïnspireer om haar wynreis met die wêreld te deel en so is haar Instagram-blad, @die_wynmeisie, gebore. Dit het vinnig aandag getrek en vandag gebruik sy steeds dié platform, sowel as TikTok, om wyn op ’n toeganklike en opvoedkundige manier aan haar volgelinge bekend te stel. “As mense meer oor iets weet, sal hulle dit wil ontdek,” sê sy.
 

Sy het reeds vroeg in haar studentejare praktiese ondervinding begin opdoen. In haar tweede jaar, terwyl sy klas aanlyn weens Covid-19 moes loop, het sy by Eikendal Vineyards in Stellenbosch as ’n intern in parstyd gewerk. Hier het sy waardevolle praktiese vaardighede aangeleer en netwerke in die wynbedryf begin bou.
 

In 2021 het sy naweke as proelokaalassistent by Diemersdal gewerk, waar sy haar kommunikasievaardighede verfyn het en waardevolle insig in verbruikersvoorkeure vir Suid-Afrikaanse wyne verkry het. Die volgende jaar het sy as ’n parsintern by Anthonij Rupert gewerk en haar kennis van vonkelwynproduksie verder uitgebrei.
 

Sy het haar verpligte praktiese internskap by Quoin Rock voltooi, waar sy blootgestel is aan alle fasette van wynmaak, van pars tot kelderbestuur. “Hier het ek ook my liefde vir Syrah onywikkel,” sê sy.
 

In 2023 het sy by Stellenzicht in die proelokaal gewerk om verder te leer hoe om op ’n natuurlike en selfversekerde manier oor wyn te praat sonder om net proenotas soos ’n papegaai op te sê. Sy het ook ’n pars by Paul Clüver Family Wines voltooi om meer oor koel-klimaat-wyn te leer.
 

Sy is verlede jaar as assistentwynmaker by Saxenburg aangestel, ’n indrukwekkende prestasie in so ’n mededingende bedryf. “Dit is iets waarop ek baie trots is,” sê sy. As deel van die aanstellingsproses moes kandidate ’n blinde wynproe doen en sy het later uitgevind sy het die beste gevaar. “Dit het my verbaas, maar dit het gewys dat harde werk eindelik beloon word,” sê sy.
 

Sy beplan om verder by Saxenburg te groei en hoop om eendag haar eie wyn te skep en haar eie etiket te ontwerp om haar kunstige kant ook te wys. Sy wil ook graag die Universiteit van Kaapstad se wynbesigheidskursus voltooi en droom daarvan om ’n wynbeoordelaar te word.
 

Sy is gemotiveer deur die jonger generasie se verantwoordelikheid om volhoubaarheid in die wynbedryf te bevorder. “Ons het die krag om nie net in die wingerd nie, maar ook in ons verpakking meer volhoubaar te wees,” sê Junelle. Sy droom van ’n bedryf met meer vrouewynmakers, veral in leiersposisies. “Ek hoop om ander studente aan te moedig om van jongs af hul droom te volg en ek wil jong vroue inspireer om op te staan, hul stemme te laat hoor en hul eie pad in die wynbedryf te bou.” 

Blitsvrae
• Met watter historiese figuur sou jy graag ’n glas wyn wou deel? Prinses Diana.
• By watter onverwagse kos-en-wynkombinasie sweer jy? Gehoute Sémillon saam met beesfilet en sampioensous.
• As jou lewe ’n temalied gehad het, wat sou dit wees? Bosveldterapie deur Riaan Benadé.
• Wat is jou gunstelingritueel voor ‘n groot vergadering of geleentheid? Ek bid en doen ekstra moeite met my voorkoms.
• Met watter wynvariëteit vergelyk jy jouself en hoekom? Syrah. Dit kom in lae. Hoe meer tyd jy daaraan bestee, hoe meer ontdek jy.