Pakstoor tot proelokaal
Chinielle McNiel (28) se verhaal is ’n inspirerende een van harde werk, volgehoue toewyding en ’n liefde vir wyn, waar haar drome een vir een bewaarheid word.
· 3 min read

Wanneer jy Chinielle McNiel se storie hoor, besef jy sommer dadelik dat harde werk, toewyding en ’n liefde vir wyn jou ver kan bring. Haar reis het nie met ’n blink begin in die wynbedryf afgeskop nie, maar as ’n pakstoorwerker waar sy elke dag die waarde van deursettingsvermoë geleer het. “Ek het vir ’n jaar lank in die pakstoor gewerk voordat ek gehoor het van die kursusse om ’n sommelier te word,” sê sy. “Ek het dadelik aansoek gedoen – ek was vasberade om myself verder te ontwikkel en my drome na te jaag.”
Wat haar op hierdie pad geïnspireer het, was nie net die wyn self nie, maar ook die uitdagings, die ondersteuning van kollegas en die wete dat sy werklik ’n verskil in haar werkplek kon maak. “Ek het altyd probeer om positief en selfgemotiveerd te bly en was nooit bang om enige werk aan te pak nie,” sê sy.
Dit blyk duidelik wanneer jy kyk na al die kursusse in wyn en gasvryheid wat sy reeds voltooi het, onder meer die wynambassadeur-sertifikaat en gevorderde sertifikaat in internasionale wyne in 2019. Sy het boonop in 2023 as ’n junior sommelier deur SASA gekwalifiseer.
Een van Chinielle se grootste uitdagings was haar kwalifikasie as junior sommelier én om Van Loveren se proelokaal op besige dae alleen te bestuur. “Daar was tye dat dit gevoel het asof dinge net te veel raak, maar ek het geleer om kalm te bly en met ’n positiewe ingesteldheid aan te hou,” sê sy. “Dit was ’n groot les in selfvertroue en om te weet ek kan die dag suksesvol deurstaan.”
Wanneer sy oor die wynbedryf praat, straal sy geesdrif uit. “As ek vir jong mense wat oorweeg om in die wynbedryf in te kom ’n boodskap kan gee, is dit eenvoudig,” sê sy. “Dit is die beste besluit wat jy kan neem. Jy moet net lief wees vir wat jy doen, hard werk en elke dag die beste maak van elke geleentheid wat oor jou pad kom.”
Sy glo vas dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf steeds kan groei en meer werkgeleenthede kan skep, in beide die plaaslike en internasionale mark. “Ek wil die wynbedryf help bemark en my kennis met ander deel,” sê sy. “Die vraag na goeie wyn is groot en ek wil help om Suid-Afrikaanse wyn verder op die wêreldkaart te sit.”
Tydens haar studies om as ’n sommelier te kwalifiseer het sy waardevolle ondervinding by Van Loveren opgedoen. In 2023 is sy permanent daar aangestel as ’n delikatesse-assistent en het sy haarself vinnig opgewerk tot proelokaal-assistent. “Ek is baie passievol oor wyn en my kliënte – hulle maak elke dag spesiaal,” sê sy.
Haar groot droom? “Om eendag ’n meestersommelier te word,” sê sy. “Ek het ’n liefde vir wyn en ek wil nog baie kursusse doen om hierdie droom waar te maak. Dit sal vir my die hoogtepunt van my loopbaan wees.”
Blitsvrae
• Met watter historiese figuur sou jy graag ’n glas wyn wou deel? Bryan Habana. Hy is legendaries.
• By watter onverwagse kos-en-wynkombinasie sweer jy? Colombar en soesji.
• As jou lewe ’n temalied gehad het, wat sou dit wees? Liefde en Leed deur Karin Kortje.
• Wat is jou gunstelingritueel voor ’n groot vergadering of geleentheid? Gebed en duidelikheid.
• Met watter wynvariëteit vergelyk jy jouself en hoekom? Cabernet Sauvignon. Dis vol smaak met ryk geure wat sag en rond is.
More from
People, community and tourism

Meet the 2026 Diners Club winemaker and young winemaker of the year
The winners of the 2026 Diners Club Winemaker and Young Winemaker of the Year awards were announced at a black-tie gala dinner at the Five-Star Arabella Hotel Golf & Spa on Saturday, 21 November, with Alvi van der Merwe (Alvi's Drift Private Cellar) and Mosima Mabelebele (Le Grand Domaine) claiming top trophy honours respectively.

Die kuns van Cap Classique
Vonkelwyn is meer as net borrels in ’n glas. Volgens Melanie van der Merwe, wynmaker en stigter van Tanzanite Wines, lê die ware karakter van Cap Classique in die tyd, proses en detail agter elke bottel.

What do Gauteng's travellers look for in a wine destination?
Kievits Kroon Gauteng Wine Estate is a 16-hectare luxury country hotel and spa offering Cape Dutch-style architecture and fine dining in Kameeldrift-East, just 10 minutes from central Pretoria.

