Pure ystervrou
Die wynbedryf was glad nie op Eonay Terblanche (29) se radar nie, maar ná ’n naweek as proelokaalassistent by Almenkerk wou sy nooit weer iets anders doen nie.
· 4 min read
Eonay Terblanche kom oorspronklik van die Weskus, waar sy nie veel aan wyn blootgestel is nie. Maar nadat sy ’n ruk oorsee as au pair gewerk het, het sy haarself by haar broer in Grabouw bevind. Om die tyd produktief te verwyl het sy naweke as proelokaalassistent by Almenkerk begin werk. “Die Almenkerk-familie het my aan die mense en belaglik lekker wyne voorgestel, en vandaar af was ek versot op die bedryf,” sê sy. “Die eienaar, Joris van Almenkerk, se aansteeklike entoesiasme het veroorsaak dat ek meer wou weet.”
Met Joris se aansporing het sy WSET vlak 2 geskryf en met vlak 3 begin, waar sy die praktiese eksamen met vlieënde vaandels geslaag het. Die teorie moes egter op die agtersitplek bly tot vanjaar. “Ek beplan om dit af te handel voordat ek 30 word,” sê sy. “Die ander ding wat ek voor dan wil bereik, is om ’n maraton te voltooi. Ek het al ’n paar halwes en ’n 30 km afgehandel!”
Sy pas dieselfde wilskrag en deursettingsvermoë op elke gebied van haar lewe toe, wat dit moontlik gemaak het om sonder ’n tersiêre kwalifikasie as bemarkingsbestuurder by Eikendal aangestel te word. Sy kry haar inspirasie van elke vrou in die wynbedryf, sê sy. “Daar is ’n paar powerhouses in hierdie bedryf wat die weg gebaan het, waarvoor ek geweldig dankbaar is. Ek kyk veral op na twee vrouewynmakers met wie ek saamgewerk het. Vanessa Simkiss van Highlands Road- en Rianie Strydom van Cavalli se ondersteuning en insig was van onskatbare waarde.”
Hierdie mylpale is nie bloot blinde ambisie nie. Dit gaan vir Eonay oor werksbevrediging. “My langtermyndoelwit is om vir die res van my lewe op ’n Sondagaand opgewonde te wees oor die werksweek wat voorlê,” sê sy. “Ek sien so baie mense wat goed najaag wat hulle nie gelukkig maak nie en waar geld of status die dryfkrag is, en dis glad nie wat ek wil hê nie. Ek gaan dalk nooit ryk wees nie, maar ek gaan altyd baie vriende en goeie wyn hê!”
Sy waarder veral hoe die bedryf mense uit alle hoeke van die land bymekaarbring deur ’n gemeenskaplike liefde vir wyn. “Dit lok so ’n wye verskeidenheid mense – van die introvert-wynmakers wat nooit kwaad word nie tot vurige bestuurders en meer korporatiewe tipes.” Die hoogtepunt van haar loopbaan tot dusver was haar eerste Veritas-toekenningsaand by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum. “Dit was ’n onvergeetlike ervaring om al hierdie mense met wie ons elke dag saamwerk in black tie te sien, bekroonde wyne te proe en daarna heerlik partytjie saam te hou!”
By Eikendal kry sy ook blootstelling aan vele fasette van die wynbedryf. Sy is betrokke by alles, van verkope, bemarking en sosiale media tot etikette en bottelering. “Daar is soveel verskillende aspekte en rigtings. Ek kry die geleentheid om te reis, om met die handel te werk en om nuwe mense te ontmoet, wat vir my die lekkerste deel is.”
Die veranderinge wat sy graag in die bedryf wil sien is eenvoudig. “Vroue moet dieselfde as mans verdien en behandel word,” sê sy. “Soms lyk dit maar nog baie soos ’n man’s world. Ek sal ook graag wil sien dat die bedryf saamwerk om Suid-Afrika se wyne op internasionale verhoë te laat pronk.”
Blitsvrae
• Met watter historiese figuur sou jy graag ’n glas wyn wou deel? Barbe-Nicole Clicquot – die eerste vrou wat ’n sjampanjehuis bestuur het!
• By watter onverwagse kos-en-wynkombinasie sweer jy? Ek is eintlik vreeslik vervelig as dit by kos en wyn kom. Vir my is daar werklik niks lekkerder as ’n eenvoudige kaasbord met lekker wyn nie.
• As jou lewe ’n temalied gehad het, wat sou dit wees? Met die hoeveelheid vonkelwyn wat ek geniet sal my temalied definitief Tiny Bubbles wees.
• Wat is jou gunstelingritueel voor ’n groot vergadering of geleentheid? My power move? Ek bid en hoop vir die beste!
• As jy jouself met ’n wynvariëteit moet vergelyk, watter een sou dit wees en hoekom? Waarskynlik Chardonnay. Ek dink ek pas maklik aan by hoe mense my hanteer. Ek het ’n groot persoonlikheid en kan ook soms nogal nutty wees.
More from
People, community and tourism

Meet the 2026 Diners Club winemaker and young winemaker of the year
The winners of the 2026 Diners Club Winemaker and Young Winemaker of the Year awards were announced at a black-tie gala dinner at the Five-Star Arabella Hotel Golf & Spa on Saturday, 21 November, with Alvi van der Merwe (Alvi's Drift Private Cellar) and Mosima Mabelebele (Le Grand Domaine) claiming top trophy honours respectively.

Die kuns van Cap Classique
Vonkelwyn is meer as net borrels in ’n glas. Volgens Melanie van der Merwe, wynmaker en stigter van Tanzanite Wines, lê die ware karakter van Cap Classique in die tyd, proses en detail agter elke bottel.

What do Gauteng's travellers look for in a wine destination?
Kievits Kroon Gauteng Wine Estate is a 16-hectare luxury country hotel and spa offering Cape Dutch-style architecture and fine dining in Kameeldrift-East, just 10 minutes from central Pretoria.

