Skip to content

Vyf vrae met Hendrien de Munck

Wynmaak lyk van buite na ’n romantiese beroep, maar agter elke bottel skuil ure se harde werk, besluite en toewyding. Hendrien de Munck, wynmaker van Maia Wines, deel haar perspektief op die realiteit van wynmaak, kreatiwiteit in die kelder en waarom sy glo daar is nog groot potensiaal vir…

Ingerése Schoeman

· 4 min read

Vyf vrae met Hendrien de Munck

Hendrien se Maia Wines-projek is klein in volume, maar groot in fokus. As onafhanklike wynmaker werk sy met ’n minimalistiese benadering, waar die doel nie is om die wyn te oorheers nie, maar eerder om die karakter van die vrug en plek te laat skyn.

Dié benadering beteken egter nie dat die wyn homself maak nie. Elke besluit in die kelder speel ’n rol. Van persbesluite tot vatkeuses lê die kreatiewe proses juis daarin om te weet wanneer om in te gryp en wanneer om terug te staan.

Ons het vir Hendrien gevra om haar gedagtes te deel oor wynmaak, die uitdagings van ’n eie handelsmerk en waar sy die Suid-Afrikaanse wynbedryf sien beweeg.

Wat is iets oor wynmaak wat mense dikwels verkeerd verstaan?

Ek dink mense verstaan nie altyd hoe fisies en harde werk wynmaak eintlik is nie. Daar is ’n idee dat dit baie romanties is, maar die realiteit is anders.

Natuurlik is daar ongelooflike oomblikke, soos wanneer jy die vrug sien ontwikkel en uiteindelik die finale wyn proe, maar daar is ook baie lang dae, baie hande vuil maak en baie verantwoordelikheid. Dit is nie net om ’n glas wyn te geniet en mooi stories daaroor te vertel nie.

Hoe balanseer jy kreatiwiteit en beheer wanneer jy met minimale ingryping werk?

Jy werk met wat jy het en jy speel met die proses. Alles begin by fermentasie. Jy kan besluite neem oor wanneer jy pars, hoeveel keer jy oorpomp, of jy stingels insluit, heel trosse gebruik of nie. Daar is baie klein besluite wat uiteindelik die karakter van ’n wyn bepaal.

Die keuse van waarin die wyn verouder, speel ook ’n rol. Ek gebruik ouer vate wat reeds goed ingewerk is, maar daar is ook ander moontlikhede, soos om ’n gedeelte van die wyn in kleipotte te maak.

Daar is baie maniere om kreatief te wees sonder om swaar in te gryp. Vir my gaan dit daaroor om die wyn te ondersteun eerder as om dit te probeer beheer.

In watter mate weerspieël jou persoonlikheid die wyne wat jy maak?

Ek maak elegante wyne. Ek dink daar is iets van my persoonlikheid daarin, veral die fokus op detail, sagtheid en finesse, maar daar is ook ’n sekere krag daaragter.

Ek is ’n borrelende en sosiale mens, maar ek is ook ’n ma wat werk met baie verantwoordelikhede. Daar is ’n element van deursettingsvermoë en bemagtiging daarin, om al hierdie verskillende rolle te probeer balanseer.

Ek wil ook hê mense moet die wyn ernstig opneem. Baie mense besef nie hoeveel opoffering dit verg om ’n wynhandelsmerk van die grond af op te bou nie.

Wat is jou wenk vir iemand wat hul eie wynhandelsmerk wil begin?

Maak seker jy het die kapitaal voordat jy wegspring. Dit is nie ’n goedkoop stokperdjie nie.

Ek was gelukkig om eers te kon eksperimenteer voordat ek my handelsmerk begin oprig het. Dit het my kans gegee om te leer en te verstaan wat ek wou doen.

Maak ook seker jy het ’n passie vir wynmaak, want dit is nie altyd maklik nie. Doen genoeg navorsing en moenie net maak wat almal anders maak nie. Daar is steeds baie geleenthede om nuwe rigtings te verken.

Waar sien jy die Suid-Afrikaanse wynbedryf beweeg, en waar pas Maia Wines binne daardie prentjie?

Ek dink mense onderskat ons wynbedryf. Ons maak werklik wêreldklaswyn, en hoewel daar uitdagings is en die mark moeilik kan wees, het ons as bedryf baie ver gekom, veral wat kwaliteit betref.

Vir Maia Wines glo ek daar is plek vir ’n kleiner, gefokusde handelsmerk met ’n duidelike identiteit. Ek het spesifiek gekies om met Grenache te werk, omdat ek dink daar is baie potensiaal vir dié kultivar in Suid-Afrika.

Baie van ons klimaat en streke het ooreenkomste met die Rhône in Frankryk, waar Grenache floreer. Alhoewel die Swartland reeds bekend is vir Grenache, dink ek Stellenbosch het ook groot moontlikhede. As Shiraz hier goed werk, kan Grenache ook.

Ek hoop my fokus op Grenache help om meer belangstelling in die kultivar te skep en mense aan te moedig om dit te ontdek.

WineLand SADOGS

More from

People, community and tourism

View all
Five questions with Liandra Kotze

Five questions with Liandra Kotzé

People

“Consumers haven’t stopped loving wine. They’ve changed how they choose it.” Wine marketers spend a great deal of time asking how to sell more wine. According to Vinimark Brand Portfolio Director Liandra Kotzé, the better question is whether we’re listening closely enough to the people we’re…

SA Wine Writers Winner 2026 1 2026 10 19 115148 ptnn

Fresh voices, fresh perspectives

Community

What does the next generation of South African wine drinkers want? It is a question the industry keeps asking. This year’s New SA Wine Writer competition suggests that some of the answers might come from a new generation of storytellers.