Wat jy sien voordat jy proe
Soms is dit nie die wyn wat jou eerste oortuig nie, maar die etiket. Vir Franco Lourens is dit presies waar visuele identiteit begin – nie as versiering nie, maar as die eerste laag van ’n storie wat later in die glas voltooi word.
· 3 min read

Franco Lourens het in die Paarl grootgeword en later wynkunde by die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie in Wellington studeer. Ná jare se werk in verskeie kelders in Suid-Afrika en oorsee, het hy in 2016 sy eie projek begin: Lourens Family Wines – ’n klein handelsmerk waar elke wyn aan ’n plek, familie of herinnering gekoppel is.
Hoe dink jy oor die rol van visuele identiteit in wyn – is dit bloot esteties, of deel van die storie?
Visuele identiteit is baie belangrik. Dit is esteties, maar die visuele identiteit moet saam met die wyn werk en deel word van die storie wat jy probeer vertel. ’n Etiket is nie iets wat net mooi moet lyk nie. Dit moet iets sê oor wat ’n mens in die bottel gaan kry. Dit help om die wyn te plaas en gee konteks aan die produk nog voordat iemand dit proe.
Waar begin ’n sterk visuele identiteit: by die produk, die handelsmerk, of die persoon daaragter?
Al drie is belangrik. Die handelsmerk dra baie gewig omdat dit die raamwerk is waarbinne alles funksioneer. Die produk self is natuurlik ook belangrik, want dit moet eindelik die storie ondersteun. Die persoon agter die wyn speel ’n rol, maar vir my gaan dit minder oor persoonlikheid en meer oor die wêreld wat jy rondom die wyn bou – die plek, die druiwe en die idee agter dit alles.
Hoe balanseer ’n mens kreatiwiteit met egtheid wanneer dit by wynetikette en ontwerp kom?
Daar moet ’n balans wees. Jy wil kreatief wees en iets maak wat op ’n wynrak uitstaan, maar dit kan nie los staan van die werklikheid van die wyn nie. As die ontwerp nie terugverwys na iets wat regtig bestaan in die wingerd of kelder nie, verloor dit sy betekenis. Egtheid gee die ontwerp gewig en laat dat dit langer hou as net ’n visuele idee.
In ’n kompeterende mark, watter rol speel ontwerp in hoe ’n wyn raakgesien en onthou word?
Ontwerp speel ’n groot rol in sigbaarheid. Op ’n rak vol wyn het jy net sekondes om iemand se aandag te kry. Die etiket is dikwels daardie eerste kontakpunt wat iemand laat besluit om ’n bottel op te tel. Maar dit gaan nie net oor aandag trek nie, dit gaan ook oor of mense jou bottel gaan onthou. As die wyn goed is en die etiket bly in iemand se gedagtes, is die kans groter dat hulle weer daarna sal terugkeer.
Hoe kan ’n konsekwente visuele identiteit oor tyd help om vertroue te bou?
Konsekwentheid is wat oor tyd vertroue bou. Wanneer mense jou etikette begin herken, begin hulle ook weet wat om te verwag. Dit skep ’n gevoel van vertroudheid en stabiliteit. Dit help om ’n handelsmerk te vestig wat nie elke keer van vooraf verduidelik hoef te word nie en maak dit makliker vir mense om weer en weer na jou wyn terug te keer.
More from
People, community and tourism

Building a more inclusive South African wine industry
South Africa's wine industry has a 367-year history, but its story continues to evolve as a new generation of entrepreneurs enters the sector. Karin Kleinbooi, Executive Manager: Inclusion and Development at South Africa Wine, says the growth of black-owned wine businesses is an important part of…

Woordfees 2026 puts Stellenbosch wine in the spotlight
Supplement your love of authentic South African stories with one of the most exciting opportunities to learn about wine at Woordfees in Stellenbosch, from 3 to 11 October.

Hoe om herlewingslandbou te laat leef
'n Twee-dag sessie deur WIETA and Stronger Together South Africa op etiese leierskap vir kelders, plase en handelsmerke by Lourensford en Du Kloof Lodge het insigte oor herlewingsboerdery opgelewer.

