Joseph Gertse
Joseph Gertse.

Wynmaker Nico Vermeulen het Joseph se potensiaal op L’Ormarins raakgesien en hom onder sy vlerk geneem. Hy het Joseph aangemoedig om sy diploma deur Elsenburg se SKOP-kursus te voltooi, en Joseph het later self daar lesings aangebied. Hy was ook betrokke by die ontwikkeling van die kurrikulum.

“SKOP was vir my baie meer as net ’n opleidingsprogram oor wynmaak,” sê Joseph. “Dit was ’n ervaring wat my professioneel, maar ook persoonlik, laat groei het. Deur die program het ek nuwe kennis en vaardighede opgedoen, maar ek het ook baie oor myself geleer. Ek het besef dat ontwikkeling nie net gaan oor wat jy in jou werk leer nie, maar ook oor hoe jy as persoon groei.”

Hier is vyf belangrike dinge wat Joseph by SKOP geleer het wat hy altyd met hom sal saamdra.

1. Om in jouself te glo

Een van die grootste lesse wat ek by SKOP geleer het, is om in myself en my eie vermoëns te glo. Die program het my laat besef dat my werkgewer my nie sommer net na SKOP gestuur het nie. Hulle het iets in my raakgesien en glo dat daar potensiaal in my is. Dit het my laat besef dat ek myself ook meer moet vertrou en in my eie vermoëns moet glo. SKOP het my aangemoedig om te besef dat ek meer kan bereik as ek bereid is om moeite te doen en in myself te glo.

2. Om trots te wees op jou werk

SKOP het my geleer om trots te wees op die werk wat ek doen. Ek het besef dat elke persoon se werk belangrik is en dat jy jou werk met trots en toewyding moet doen. Dit was veral lekker wanneer daar wynkompetisies was en die wyn van jou kelder goed gevaar het. Wat dit vir my besonders gemaak het, was hoe almal in die klas saam met jou bly was oor jou sukses. Dit het gewys dat ons nie net as individue geleer het nie, maar ook as ’n span. Ons het mekaar ondersteun en mekaar se prestasies gevier.

3. Om uitdagings aan te pak

Nog ’n belangrike les was om nie bang te wees vir uitdagings nie. SKOP het my geleer dat uitdagings deel is van groei. Wanneer iets moeilik is, moet jy nie sommer opgee nie, maar eerder probeer om dit te verstaan en daaruit te leer. As jy jouself wil verbeter en ’n sterker mens wil word, moet jy bereid wees om uit jou gemaksone te beweeg. SKOP het my gewys dat jy kan, as jy wil, en dat jy soms net in jouself moet glo en die eerste stap moet neem.

4. Kennis wat jy in jou werk en persoonlike lewe kan gebruik

SKOP het vir ons ’n baie breë opleiding gegee. Ons het nie net geleer hoe om wyn te maak nie. Ons het ook met wiskunde, finansies, bemarking en begrotings gewerk. Ons het selfs meer geleer oor menseregte in die werksplek. Hierdie kennis is vir my waardevol omdat ek dit nie net by die werk kan gebruik nie. Baie van die vaardighede en hulpmiddels kan jy huis toe neem en in jou eie lewe toepas. Kennis oor finansies en hoe om ’n begroting uit te werk, kan byvoorbeeld help om jou persoonlike geldsake beter te bestuur.

5. Die waarde van spanwerk en elke persoon se rol

Die vyfde belangrike ding wat ek by SKOP geleer het, is hoe belangrik elke persoon se rol is. Ons het geleer dat goeie wyn nie net in die kelder gemaak word nie – kwaliteit begin reeds in die wingerd. Dit het my ’n groter waardering gegee vir die plaaswerkers en die belangrike werk wat hulle doen. Sonder goeie druiwe kan jy nie goeie wyn maak nie. Elke persoon wat by die proses betrokke is, speel dus ’n belangrike rol. Ek het ook geleer hoe belangrik dit is om ander mense te ondersteun en saam as ’n span te werk.

“Wanneer ek terugkyk op my tyd by SKOP, besef ek dat ek baie meer as net die wynmaakproses geleer het,” sê Joseph. “Ek het geleer om in myself te glo, trots te wees op my werk, uitdagings aan te pak, nuwe kennis in my werk en persoonlike lewe te gebruik en die waarde van spanwerk en ander mense se bydraes te verstaan.”

“SKOP het my as mens sterker gemaak en my laat besef dat daar potensiaal in my is. Dit is ’n ervaring waarvoor ek dankbaar is, want die lesse wat ek daar geleer het, sal ek nie net in my werk, maar ook in my lewe gebruik nie.”

“Vir my beteken SKOP: glo in jouself, wees trots op wat jy doen, moenie bang wees vir uitdagings nie en onthou dat elke persoon ’n belangrike rol speel.”